Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Siya en Rassie laat ons weer glo

Ek is nie ’n rugby-ondersteuner nie, bloot omdat ek so min daarvan weet. Geen rugby is gespeel in die townships van die destydse Wes-Transvaal waar ek grootgeword het nie.

Maar ek is aan nuus verslaaf en het derhalwe die gebeure tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi gevolg.

Rapule Tabane

Dit was ’n wonderlike tyd. Nie net die rugby en die oorwinnings op die veld nie, maar ook die atmosfeer wat deur die gasheerland, Japan, geskep is. Besoekers aan die land het die tyd van hul lewe gehad en dit was ongelooflik om te sien hoe die Japannese Suid-Afrika en ander lande wêreldwyd se volksliedere probeer bemeester.

Met soveel dinge wat in ons land skeefgeloop het en steeds skeefloop, was die toernooi werklik die vars briesie wat ons nodig gehad het.

Twee goed het uitgestaan: Eerstens dat ons kaptein en die afrigter, Siya Kolisi en Rassie Erasmus, telkens benadruk het die sege is vir die 57 miljoen Suid-Afrikaners by die huis en tweedens hoe gewone Suid-Afrikaners benadruk het die sege gaan nie oor politiek nie, maar oor ons, die gewone burgers.

Die sege teen Engeland kon maklik ’n gespog ontlok het oor die beste rugbyspelende land ter wêreld. Kolisi en Erasmus het dié versoeking weerstaan, al was daar veel om oor te spog nadat hulle Engeland, wat arrogant geraak het ná hul sege teen die All Blacks, in die eindstryd geklop het.

Erasmus kon uitgewei het oor hoe hy die span omgekeer het ná die rampspoedige termyne van Allister Coetzee en ander voor hom. Maar al waaroor hy wou praat, was oor wat die sege vir die land beteken. Ook Kolisi kon die sege net oor homself gemaak het en hoe hy teëspoed oorkom het om te kom waar hy is. Maar ook hy het die versoeking weerstaan en gebly by Mzansi (Suid-Afrika) en sy burgers.

En oor my tweede punt oor hoe die span se prestasie deur gewone Suid-Afrikaners – rugby-ondersteuners en ander – ontvang is, het ek waargeneem hoe baie mense sê kom ons los nou eers die politiek en fokus op die groot prestasie.

Daar was ’n bykans algehele verwerping van Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, se twiet waarin hy die eenheid bevraagteken het wat deur die Bok-sege teweeggebring is. Dit was swak tydsberekening en het ten doel gehad om die borrel van euforie te prik. Dít nadat selfs talle EFF-ondersteuners in die strate was om fees te vier.

Daar was tye gedurende die toernooi dat dit gevoel het of die nasionale kohesieprojek gaan misluk. Dit sluit in die bewerings oor Eben Etzebeth en die klagte wat ’n beweerde slagoffer by die polisie en die Menseregtekommissie aanhangig gemaak het. Daar was versoeke dat hy teruggeroep moet word. En mense het reeds kant gekies oor of ons sy pleidooi van onskuld moet glo of verwerp.

Daar was ook beeldmateriaal aan die einde van die Bokke se wedstryd teen Italië wat gewys het hoe ’n groep spelers feesvier terwyl Makazole Mapimpi eenkant staan. Dit het gelei tot bewerings dat rassisme selfs in die nasionale rugbyspan bly voortbestaan. Dít ondanks pogings om die verskynsel van die “bomeenheid” te verduidelik.

Maar namate die toernooi gevorder het, het almal besluit om op die projek te fokus en te weier dat hul aandag afgelei word.

Dit is ’n ongewoon gelukkige oomblik vir Suid-Afrika en ek is nie verbaas dat die regering en sy politici soveel daaruit probeer put as wat hulle kan nie. Nadat hulle soveel dinge in ons lewe opgemors het, is hulle bly ons fokus op die positiewe.

Bravo, Kolisi en Erasmus. Julle het ons weer rede gegee om te glo.

  • Tabane is City Press se politieke redakteur.
Meer oor:  Rapule Tabane  |  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus  |  Rubriek  |  Springbokke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.