Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skaapkop en -afval laat my ver terugdink

Skaapkoppe, skaapstertjies, afval en ander dele van ’n skaap wat jy kan gaarmaak, het Willem Fransman weer aan ontslape vriende laat dink.

Só moet ’n smaailie mos lyk. Foto: Willem Fransman jr.

Dit was Dana Snyman se rubriek in Van Alle Kante (Saterdag 23 April) wat my herinneringe aan ’n ontslape vriend, JP Nel, weer wakker gemaak het. Goedige ou JP!

Dana het geskryf oor “Die oggend toe die skoolsuster ons skool besoek het” en het sy rubriek aan JP opgedra.

Volgens Annienne, JP se vrou, was dit een van Dana se stories wat JP terdeë geniet het. Die een toe die skoolsuster ’n liniaal in haar ondersoek van die seuns gebruik het.

En nadat ek klaar gelees het, het die herinneringe van my eerste gepubliseerde rubriek in die Kaapse koerant Son weer helder by my opgekom.

En wraggies, daar in ’n bakpan lê hulle – agt bruingebakte skaapkoppe wat na ons kyk.

My storie het gehandel oor die luukse daarvan om skaapkop te eet. Daarin het ek geskryf van die vermoë van ’n ander ontslape vriend, Lennox Smal, om van ’n doodgewone skaapkop ’n smaailie te maak.

Ons klompie skrywersvriende was vir ’n werksessie op besoek aan Vredendal. Ons het by hom en sy digtersvrou, Elza Smal, oorgebly. Al ses van ons.

Hy nooi ons na die kombuis en vra my om die oond se deur oop te maak. En wraggies, daar in ’n bakpan lê hulle – agt bruingebakte skaapkoppe wat na ons kyk. Met die mooiste van glimlagte. Vandaar die naam “smaailie”.

Uitgeput en honger ná ’n rit van bykans vier uur vanaf Kaapstad, sit ons elkeen met ’n smaailie met slaai voor ons. Koningskos, skryf ek toe in my rubriek.

JP Nel Foto: Verskaf

Die Maandag lui my sakfoon. JP stel homself bekend – ’n sterk, amper bariton-stem met Namakwalandse ondertone soos sy Loeriesfonteinse afkoms by sy stem ingeweef is. Hy wens my geluk met my eerste artikel. En toe sê hy: “Eintlik is jou storie oor skaapkop-eet nie volledig nie.”

Hy vra toe: “Het jy al skaap-prawns geëet?” Ek sê toe nee, wat is dit?

“Dis die skaap se stertjie. Sodra die skaap geslag word, moet dit sommer net daar afgesny word en in oor die kole of op ’n direkte vlam gebraai word. Sodra die wol afgeskroei is, moet jy net sout en peper oorstrooi.

“Dit smaak kompleet nes prawns,” sê hy.

Ek kon dit maar net beaam.

Hy vra toe weer: “Het jy al jou lippe aan skaap-oesters gesit?”

“Nee, wat is dit?”

“Dít, my vriend, is die skaap se pere . . . sy sak! As jy nou lekker wil eet, moet jy hom self gaarmaak. Sodra die skaap dood is, nog vóórdat hy afgeslag word, word die sak afgesny. Vat dan sommer van die skaap se maagvet. Gooi dit in ’n warm pan. Sit dan die peertjies in, maar hou hulle met ’n fyn oog dop.

“Kyk na élke beweging wat die peertjies maak. As hulle doodstil in die pan saam met die vet lê, dan is hulle vir niks goed nie. Maar as daai peertjies rondspring, dan weet jy jou geluk met die meisies is in. Vanaand spring jy van meisie na meisie!”

Ons het al twee uitgebars van die lag.

Oor ’n skaapkop het ek en die meeste van my vriende al menige van ons eie, maar ook die land se, probleme opgelos.

Toe sê JP: “Nou is jou storie volledig, so saam met die skaap-prawns en -oesters.”

Ná daardie gesprek het ek en Joachim Elias Petrus Nel, kortweg JP, dikwels in telefoniese gesprekke stories uitgeruil. Feitlik elke gesprek is afgesluit met ’n uitnodiging om by hom ’n “vleisie oor die kole te kom trek”. Maar ongelukkig het ons nooit by mekaar uitgekom nie.

En toe, op 26 Desember 2018, kom die skoknuus dat hierdie komplekse, joviale mens, wat liewer vir Afrikaans as vir die lewe self was, dood is. Wat ’n slag.

Nie net vir ons, die Son-redaksie nie, maar ook vir Annienne. “Ek was lief vir my man,” sê sy op ’n keer vir my.

“Hy was kompleks, maar ’n dierbare mens.”

Onweerstaanbare skaapkop en afval

Willem Fransman jr.

Kyk, oor ’n skaapkop het ek en die meeste van my vriende al menige van ons eie, maar ook die land se, probleme opgelos.

Tydens die Gariepkunstefees in 2006 stap ek en lede van my toneelgeselskap, KreAkon, deur die strate van die historiese deel van Kimberley.

Verby die eerste paar elektriese lamppale en -ligte wat in Suid-Afrika opgerig is. Later is ons na die kantore van die Diamond Field Advertiser (DFA), een van die oudste koerante in die land. Maar dit wat ons in ’n stegie net agter die DFA-kantore aangetref het, was wat ons opgewonde gemaak het.

Dáár kry ons ’n restaurantjie met die naam Khayelitsha. In die venster op ’n bord lê ’n heerlike bruingebakte smaailie met twee gekruiste skaappootjies. Amper soos daai elektrisiteitsgevaarteken wat waarsku: “Gevaar/Danger/Ingozi.”

Ons storm daar in en baie gou smul ons elkeen aan sy eie smaailie met groenslaai.

Een van my mede-skaapkop-eters, Basil Kivedo, was op sy dag ’n Umkhonto we Sizwe-kader en tot redelik onlangs nog ’n parlementariër.

Hy is ’n man van onkreukbare karakter, maar glo my, ek dink ’n mens kan hom omkoop met ’n skaapkop of afval – en dit kan vaal óf kerrie-afval wees.

Baie dankie, Dana, dat jy soms herinneringe by ons, jou troue lesers, wakker maak. Want wanneer ’n mens weer oor ontslape vriende praat en hul geliefde sê-goedjies herhaal, verleen ons onsterflikheid aan hul siele.

Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Basil Kivedo  |  Dana Snyman  |  Vredendal  |  Kimberley  |  Afval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.