Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skeidsregters se werk raak al hoe moeiliker
Bun Booyens

Dit was opvallend hoe erg skeidsregters by die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi onder kritiek moes deurloop – voor, tydens en ná wedstryde. Selfs Wêreldrugby het gesê hy is besorg oor van die beslissings.

My simpatie lê by die skeidsregter. Hy moet vir 80 minute saam met die spel hardloop, omring deur 30 spelers wat hul bes probeer om die reëls te buig of breek.

Vergelyk dit met ’n tennisskeidsregter, wat op ’n hoë uitkykstoel sit en bygestaan word deur tot nege lynregters plus die elektroniese Cyclops- of HawkEye-stelsel. Uiteindelik is sy besluit eenvoudig: Die bal is óf in óf uit. Daar’s niks om oor te kibbel nie (tensy jou naam Nick Kyrgios is).

So ook krieket, waar twee skeidsregters die las deel, gerugsteun deur die UltraEdge-stelsel wat wys of die bal die kolf geraak het. Uithardloop- en been-voor-paaltjie-beslissings word deur tegnologie namens jou geneem. By atletiek is daar sensors by die wegspring en eindstreep.

Rugby het egter ’n lat vir homself gepluk deur ’n paar vreemde teenstrydighede in sy toepassing van die reëls toe te laat.

Rugby het egter ’n lat vir homself gepluk deur ’n paar vreemde teenstrydighede in sy toepassing van die reëls toe te laat. By die lynstaan moet die bal presies reguit ingegooi word, maar by die skrum kan dit maar windskeef wees. Hoe rym dit? Deesdae se hakers hoef nie eens meer te haak nie.

Met ’n strafskop draf die lynskopper gewoonlik twee, drie treë oor die merkie voor hy skop, en steel so ’n bietjie veld. Hoekom word dit ooglopend toegelaat in ’n spel waar sentimeters tel? Want “almal doen dit maar”. By lynstane tree die meeste hakers in die speelveld in wanneer hulle die bal ingooi, reg onder die “vlagman” se neus, maar dit word selde uitgewys.

En by die afbreekpunt staan die verdedigingslinie deesdae dikwels ook so ’n halwe treetjie onkant, ondanks ’n duidelike afsnylyn agter die agterste speler in die losgemaal se voete. Hoekom? Hulle weet die skeidsregter gaan hulle waarsku voor hy hulle straf.

Hierdie dialoog deur die skeidsregter – “Re­lease!” “Roll away!” “Wait!” – help om die spel te laat vloei, maar die newe-effek is dat spelers weet hulle mag maar so effentjies oortree. By losskrums kyk hulle dus nou na die skeidsregter vir toestemming om op die skrumskakel te mag toesak, terwyl die bal basies oop lê en wag.

Terloops, die bal is “uit” (in die woorde van oudskeidsregter Jonathan Kaplan) wanneer dit só lê “dat ’n voël daarop kan mis”, maar hierdie riglyn is nou al so verbuig dat ’n trop eende te voet op die veld kan stap en op die bal kom ontlas en dit steeds nie as “uit” beskou word nie.

Die uiteinde is ’n gekibbel op die veld. In Australië se wedstryde was dit soos Gerrie Nel vs. Barry Roux tussen die kaptein, Michael Hooper, en die skeidsregter. Al wat gekort het, was ’n “I put it to you” van Hooper. Genadiglik is die Aussies vroeg huis toe met niks meer as ’n sertifikaat van deelname nie.

Tog, hoe ironies dat tegnologie alle sportsoorte se skeidsregters se taak makliker maak, behalwe rugby s’n.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.