Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skep moed uit Madiba se stryd

Die beeldmateriaal van gewapende mans wat verlede week by die algemene vergadering van ’n ANC-tak skote in die lug afgevuur het, is ’n grafiese voorbeeld van wat dié party geword het. Stoelgooiery het nou vir iets meer angswekkend plek gemaak.

Mathews Phosa het dadelik gesê die mans is lede van David Mabuza, Mpumalanga se premier, se “private weermag”. ’n Mens wonder hoekom enige politikus ’n private weermag in ’n demokrasie wil hê? Die ANC in dié provinsie het Phosa se aantygings ontken.

Dit behoort almal te skok dat sulke aantygings enigsins in ’n demokrasie gemaak word, maar ons het grootliks afgestomp geraak vir die ANC se mislukkings, vergrype en skendings.

Judith February

Hierdie geweld het boonop saamgeval met die vierde herdenking van Nelson Mandela se dood (5 Desember 2013) – en die groot teenstelling belig.

Dit was Mandela wat (dalk onvanpas) ons hoop en drome beliggaam het. Hy was die hoofargitek van ons grondwetlike raamwerk, wat die inhalige ANC onder pres. Jacob Zuma sy bes doen om te vernietig.

Mandela se nalatenskap is dié van ’n revolusionêr, vryheidsvegter, radikale politikus, versoener en, bowenal, algehele toewyding tot die Grondwet en die oppergesag van die reg.

Desondanks het dit mode geword om in woede terug te kyk en te sê Mandela “het ons uitverkoop”. Daardie redenasie hou meestal nie rekening met die destydse wêreldpolitiek of die wedersyds skadelike skaakmatsituasie in die laat 1980’s in Suid-Afrika nie.

Oorvloedige hoeveelhede ink sal nog vloei om sy nalatenskap te definieer en kommentators sal dekades aan die ontrafeling van die “betekenis van Mandela” bestee.

En die ANC sal aanhou om dié nalatenskap vir homself toe te eien, terwyl ons almal wonder wat die wyse Mandela, Walter Sisulu en Oliver Tambo van die huidige ANC-leiers sou sê.

’n Mens kan aanneem hulle sou diep teleurgesteld wees.

Ons was bevoorreg om in Mandela se leeftyd te kon leef en die oorgang van apartheid na vryheid te beleef.

Ons las is deesdae selfs groter as in die euforiese dae van vryheid. Ons voel dit daagliks as ons toekyk hoe die ANC die oorblywende deel van sy etiese kompas verloor en burgers se regte deur die staat se onbekwaamheid of gevoellose pligsversuim geskend word.

Dit was ’n klipperige pad. Wie kan vergeet hoe Madiba se kalm woorde ons op die dag van Chris Hani se sluipmoord van die rand van die afgrond teruggeruk het?

Die oorgang was spanningsvol en foute is gemaak, en Mandela sou die eerste wees om dit te erken. Maar sy presidentskap was bepalend wat sy verbintenis tot versoening en die Grondwet betref. Wie kan vergeet hoe hy Ingrid Jonker se “Die kind” voorgelees het toe hy die eerste demokraties verkose parlement in 1994 geopen het?

Só kon Afrikaans, selfs as “taal van die onderdrukker”, ’n simboliese instrument vir bevryding word.

Maar selfs grootser as sy grootmoedigheid jeens sy onderdrukkers was sy gewilligheid om in 1998 voor die konstitusionele hof te getuig oor of hy “mooi nagedink” het toe hy ’n kommissie van ondersoek na Suid-Afrikaanse rugby se sake ingestel het.

Daardeur het Mandela getoon niemand is bo die reg verhewe nie en dat selfs die president se optrede aan grondwetlike ondersoek onderworpe is. Dis ’n uitsonderlike les vir ons land in hedendaagse tye.

Ons las is deesdae selfs groter as in die euforiese dae van vryheid. Ons voel dit daagliks as ons toekyk hoe die ANC die oorblywende deel van sy etiese kompas verloor en burgers se regte deur die staat se onbekwaamheid of gevoellose pligsversuim geskend word.

Madiba is nie meer met ons nie, maar ons lang pad moet voortgaan – al is dit met wankelende treë en dikwels pynlik.

  • Hierdie rubriek sal in Januarie 2018 hervat word.
Meer oor:  David Mabuza  |  Judith February  |  Mathews Phosa  |  Geweld  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.