Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skielik was die US nie meer ’n plek wat uitsluit nie

Die naamverandering van die Universiteit Stellenbosch se teater moet nie net op ’n simboliese manier verstaan word nie. Dit moet gesien word as die vestiging van ’n kultuur wat insluit en verwelkom, skryf Leslie van Rooi.

Dit was asof die heringerigte Adam Small-teaterkompleks anders gevoel het toe dit teen einde November vanjaar deur die Primêre Skool Idasvallei gebruik is vir dié skool se jaarlikse prysuitdelingseremonie.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het in 2018 besluit om die H.B. Thom-teater te vernoem na die Adam Small-teaterkompleks. Sedertdien het die teater reeds ’n veelvoud van produksies gesien en dit was die tuiste van ’n verskeidenheid gehore.

Maar dit was asof die heringerigte teater anders gevoel het toe dit teen einde November vanjaar deur die Primêre Skool Idasvallei gebruik is vir dié skool se jaarlikse prysuitdelingseremonie. En dit was ’n merkwaardige geleentheid in vele opsigte.

Ek en ander kollegas het nie die merkwaardigheid van die geleentheid besef toe ons help reël het dat die skool die teater vir die doel kon gebruik nie. Dit was werklik eers toe ons self ook instap dat ons dit kon voel – iets wat ek vir lank sal onthou.

Vroeg die aand reeds het die skoolgemeenskap dit duidelik gemaak dat dit vir hul besonders was om juis hiér te kon wees. Tydens die verwelkoming, die eerste toesprake, en selfs tydens die gebed is daar telkens hiervan melding gemaak. Want, sou ek later uitvind, dit was die eerste keer dat die meeste gehoorlede by hierdie teaterkompleks ingestap het.

Dit ten spyte van die feit dat hulle gebore en getoë is in Stellenbosch en van die onderwysers reeds vir meer as 40 jaar betrokke is by die skool.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, tydens die opening van die Adam Small-teaterkompleks by dié universiteit. Die teater het voorheen as die H.B. Thom-teater bekend gestaan.Foto: Stefan Els

Maar dit was in die herhaling van die gebruik van die naam en inderdaad ook in die beklemtoning – Adam Small-teaterkompleks – dat dit duidelik geword het dat die skool se hier wees reg gevoel het. Skielik was die US nie meer ’n universiteit wat verwyder is van ’n gedeelte van die Stellenbosse leefwêreld nie, maar juis ten volle deel daarvan. Die “wat is in ’n naam”-vraag het toe ook ’n duidelike antwoord gekry.

Een vir een het die onderwysers met hul toppresteerders na die verhoog gestap. En, onder die luide applous van die gehoor (ja daar is hard geklap vir elke leerling se prestasie) kon leerders erken word vir hul harde werk, voorbeeld en invloed op mekaar. In die oomblik sien ’n mens die hoop en moontlikhede op mense se gesigte. Maar dit is veral die haasbekkies wat kordaat opstap wat ons laat glimlag.

Die naamverandering en herinrigting van die US se teater moet nie net op ’n simboliese manier verstaan word nie.

Die leerlinge, meestal van Idasvallei maar ook van ander dele in en om Stellenbosch – elk met sy eie storie, divers ook wat huistaal, kultuur en geloof betref – was gou tuis op die verhoog onder die groot ligte van die teater. Eintlik was dit reeds duidelik dat hulle tuis was toe hulle die skoollied aan die begin van die aand uit volle bors gesing het.

In vorige jare sou die skool hul buurskool, die Hoërskool Lückhoff, se skoolsaal gebruik. Idasvallei Primêr het self nie ’n skoolsaal nie. Die aantal leerlinge en hul ouers sou dus beperk moes word.

Hierdie jaar kon ons meer lede van die groter skoolgemeenskap innooi. Maar dit is dalk die tuiskoms en insluiting van verhale wat soortgelyk is aan die leefwêreld van Adam Small en vele ander wat werklik die aand opgehelder het en groter betekenis gegee het. En dít het ’n wesenlike indruk gemaak op my en my kollegas, die eintlike gaste van die aand op ’n kampus wat ons daagliks beleef en goed ken.

Soos dit moet wees

Leslie van Rooi

Die naamverandering en herinrigting van die US se teater moet nie net op ’n simboliese manier verstaan word nie. Dit moet juis ook gesien word as die daarstel en vestiging van ’n kultuur wat insluit en verwelkom. So doen die US afstand van ’n verlede wat onder meer tot gevolg gehad het dat die grootste gedeelte van die inwoners van Stellenbosch maar min sy sale, sportvelde en ander geriewe kon benut.

Dat leerlinge, onderwysers en ouers in die Adam Small-teaterkompleks tuis gevoel het, is dus soos dit moet wees. Maar dit moet ook vir die US ’n oproep wees om, op grond van dié en ander voorbeelde, inderdaad nie die foute van die verlede te herhaal nie. Ons is dit verskuldig aan die kinders van Idasvallei, Cloetesville, Kayamandi, Pniël en Die Boord.

*Dr. Leslie van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.