Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skinderwoorde glip soos geitjie oor jou lippe
Wilhelm Jordaan

By ’n partytjie stap jy ’n vertrek binne en merk op hoe drie kennisse, koppe al kloekende bymekaar, aan’t fluister is. Jy loop soontoe en wanneer hulle sien jy kom nader, ruk hulle orent en hou op praat. Jy sluit by hulle aan en hul opmerklike ongemak vertel hul gesprek is duidelik nie vir jou ore bedoel nie.

Ons ken dít almal. Word daar geskinder of nie? Baie skilderye, spotprente en foto’s beeld dit uit. In Norman Rockwell se skildery “Gossips” vertel ’n grys ou tantetjie ’n sappige storie aan iemand anders. En so kring dit al kletsende uit van die een na die ander. En oplaas is dit terug by die tantetjie wat dit begin het.

Daar is wêreldwyd ook baie spreekwoorde oor ’n geskinder, byvoorbeeld “As die Nyl jou geheim ken, sal dit gou in die woestyn bekend word” of “Gee ’n skinderstorie ’n voorgee van 24 uur en jy haal dit nooit in nie” of “Om te sê ‘hulle sê’ is alte dikwels ’n leuen of ’n verdraaisel”. Sulke spreekwoorde is ’n soort volkswysheid wat ons waarsku teen die skinderkring. En tog doen ons mee met sluwe sinnetjies: “Ek wil nou nie skinder nie, maar het julle gehoor van . . .?”

Die spreker pols so omstanders se skindergereedheid en voltooi dan die onvoltooide sin. Want mense sê mos selde: “Nee, ek wil nie hoor nie!” En jy luister met gretige ore hoe die spreker se los tong rats soos ’n klein geitjie tussen die lippe baljaar om die sappige storie op te dis.

Nog erger is die hedendaagse openlike, venynige geskinder en belastering in die kommentaar-ruimtes soos op Facebook

Nog erger is die hedendaagse openlike, venynige geskinder en belastering in die kommentaar-ruimtes soos op Facebook. Dit herinner aan Oscar Wilde se opmerking, tong-in-die-kies: “It is perfectly monstrous the way people go about, nowadays, saying things against one, behind one’s back, that are absolutely and entirely true.”

In sy The Virtues of Our Vices sê die filosoof Emrys Westacott al is skinder “inherent mensonterend” is daar ’n plek vir “die regte soort” skinder. Soos wanneer skinder korrupsie en ander oneerlikheid blootlê, magspeletjies uitwys of morele kodes herbevestig. As vroue skinder oor ’n “vatterige baas”, word ’n belangrike kode oor seksuele teistering in die werkplek bevestig.

Westacott reken die “gereedheid om oor ander mense te praat”, is eg menslik en is ook versoenbaar met Sokrates se ideaal van die “ondersoekte lewe.” Soms word dié gereedheid noodwendig deur skinder gedra.

’n Mens behoort egter ook te vra of die waarde van skinder werklik opweeg teen die skade wat dit die beskinderde mens kan berokken – juis wanneer die skinderstorie half-waar of onwaar is. Skinder verhinder dat mense mekaar werklik begryp en die omstandighede ken waarin ’n bepaalde storie ontstaan het, en of dit werklik waar is. In skinderkringe is daar maar min genade. En dit knou jou wat skinder én die beskinderde mens se menslikheid.

Die Engelse digter William Blake se vermaning (hier vertaal) is op die keper beskou gepas: “Meer as al die leuens wat jy kan fabriseer / Sal die waarheid met ’n angel / Jou naaste se klein verweer / Tot op die bodem skeur.”

  • Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Skinder  |  Mense  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.