Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skole een van regering se grootste Covid-toetse

’n Behoorlike gesprek oor die tameletjie van skole in die tyd van Covid-19 is oor die grense van verskillende departemente en met verskeie rolspelers nodig. Daar mag dalk net nuwe moontlikhede daaruit voortspruit, skryf Leslie van Rooi.

’n Onderwyser neem ’n graad 7-leerling se koors op die eerste dag nadat die Laerskool Helderkruin heropen is. Foto: Felix Dlangamandla

Dit is duidelik dat Suid-Afrika, soos vele ander lande oor die wêreld heen, steeds midde-in die Covid-19-pandemie is. Die effek daarvan is nou sigbaar in bykans elke gemeenskap in ons land. Dit terwyl ons probeer om die samelewing – in ’n poging om ander verliese te beperk – weer te “normaliseer”.

Die afgelope weke was daar groeiende druk op die regering om die besluit om die skole gedeeltelik te heropen te heroorweeg. Maar tot nou toe hou die departement van basiese onderwys voet by stuk dat skole moet oopbly. Wat meer is, die besluit dat die meeste ander grade op 6 Julie sal terugkeer, blyk ’n voldonge feit te wees.

Dit mag selfs een van die grootste toetse vir die regering tydens die inperking word.

Hierdie besluit sal beslis ’n toets wees om te kyk of ons die skooljaar kan voltooi – en aan die ander kant of die departement die bestuursvernuf het om op plaaslike vlak alles gereed te hê om die skooljaar gedurende ’n pandemie aan te pak.

Die druk neem toe en dit is duidelik dat daar nog baie gesprekke tussen die departement, die verskillende provinsies, skoolbestuurstrukture, ouers en leerlinge gaan wees. Dit mag selfs een van die grootste toetse vir die regering tydens die inperking word.

Dr. Leslie van Rooi Foto: Verskaf

Vir die departement blyk daar tans net twee opsies te wees.

Die eerste is dat skole oopbly. Dit was tot nou die opsie wat die regering gekies het. Dit is geneem op grond van nasionale en internasionale aanbevelings en plaas skole in die posisie (altans in beginsel) om wel die skooljaar vir alle leerlinge te kan voltooi.

Dit vra dat die kurrikulum, wat reeds plek-plek effens aangepas is, voltooi kan word sodat veral die matriekeindeksamen in die laaste maande van die jaar afgelê kan word.

Hierdie besluit speel telkens anders in verskillende kontekste uit, maar het veral tot gevolg dat onderwysers, hoofsaaklik in gebiede wat vir Covid-19-brandpunte is, die virus kry en hulself dan vir ’n tydperk moet isoleer. Dieselfde geld natuurlik diegene wat in direkte kontak met die betrokke onderwyser was.

Dit bring onder meer groter afwesigheid van onderwysers en leerlinge mee, sowel as die moontlikheid dat die skool of ’n spesifieke deel van die skool tydelik gesluit en ontsmet moet word.

Hiermee saam hou die departement voet by stuk dat geen leerling gedwing sal word om skool by te woon nie. Maar wat is die werkbare alternatief?

’n Tweede opsie

Die ander opsie is dat die skole weer sluit en eers aansienlik later heropen word.

Hierdie opsie sal help om die vrees vir verdere infeksies, direk of indirek gekoppel aan die skoolstelsel (soos kinders wat moontlik die virus na ouers en grootouers kan oordra, met potensieel dodelike gevolge) te bestuur. Maar dit sal ook veroorsaak dat die skooljaar, in sy huidige formaat, nie voltooi kan word nie.

In hierdie formaat sou aanlyn onderwys oorweeg kan word, maar gegewe die geweldige tekorte aan behoorlike infrastruktuur by die meeste skole in ons land, sowel as die spoed waarteen leermateriaal en lesse aangepas sal moet word, sal dit waarskynlik nie oral haalbaar wees nie.

Aan die ander kant kan radio en televisiekanale ingespan word om kennis via die platforms oor te dra en om leerlinge en onderwysers in staat te stel om op hierdie manier met skool voort te gaan.

’n Behoorlike gesprek

Ons moet ook onthou dat hierdie onderwysmodel vir ’n onbepaalde tyd sal moet voortgaan en dit is byna seker dat dit die ongelykhede in ons samelewing verder sal weerspieël.

Beide opsies word deur data van plaaslike en internasionale infeksiesyfers gevoed. En beide kampe gebruik die data en inligting om hul saak te versterk.

Die kwantum van die probleem en die moontlikhede is groot, maar dit kan nie net vanuit een hoek aangepak word nie.

Maar miskien is dit nou tyd om ander opsies op die tafel te sit. Die aard, model en uitkoms van die 2020-skooljaar sal ’n impak hê op verskeie ander sektore, sowel as op die Suid-Afrikaanse samelewing in sy geheel. Dink hier ook aan die moontlike impak op universiteite wat in elk geval te midde van die pandemie en selfs daarna voortdurende aanpassings sal moet maak.

Juis daarom is ’n behoorlike gesprek, oor die grense van verskillende departemente en met verskeie rolspelers, nodig. Die kwantum van die probleem en die moontlikhede is groot, maar dit kan nie net vanuit een hoek aangepak word nie.

En met ’n gesamentlike benadering mag daar dalk net nuwe moontlikhede ontstaan wat inderdaad die skoolstelsel in ’n beter posisie kan plaas – ook wat die pad vorentoe betref. En dit mag dalk net ’n sterker, meer positiewe impak op die groter samelewing tot gevolg hê.

Daarsonder verval ons dalk in ’n groter moeras.

Dr. Van Rooi is senior direkteur vir sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Skole Heropen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.