Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skole: Land kan nie deur toesprake regeer word nie

Ja, daar is ’n wêreldwye pandemie. Ja, ’n nasionale ramptoestand is afgekondig. Maar moet dit ons grondwetlike regte aantas? Jaco Deacon sê gewone Suid-Afrikaners moet besef ons demokrasie is op dun ys wanneer die land deur middel van toesprake regeer word.

Toe skole nog oop was: ’n Onderwyseres by ’n skool in Langa buite Kaapstad meet leerlinge se koors voordat hulle na klasse gaan. Foto: Reuters

Die paar kostelike grappies op sosiale media het vinnig opgedroog toe die werklikheid van pres. Cyril Ramaphosa se toespraak van verlede Donderdagaand insink: Openbare skole is weer vir vier weke gesluit.

Dit beteken daar was vir ’n graad 1-leerling, wat hierdie jaar moet leer lees, skryf en somme maak, nog net nege weke se onderrig in 2020. Dit is 45 dae, wat die eerste skooldag en die eerste atletiekdag insluit!

Dít moet ons almal ontstel.

Dit moet ons ook ontstel dat daar steeds skole is wat sedert 18 Maart nog glad nie oopgemaak het nie of waar daar steeds onvoldoende beskermende klere, sanitasiegoedere of selfs lopende water is.

Dankie tog vir ’n hofuitspraak wat die staat dwing om vir 9,4 miljoen kinders weer daagliks ’n maaltyd by die skool te gee.

En ons moet toegee dat daar skole, onderwysers en kinders (lees: ook ouers) is wat nou al vir 15 weke sonder enige blaaskans afstandsonderrig doen. Hulle verdien ’n blaaskansie en die verwagte twee weke sou ruim gewees het.

Dit moet ons ontstel dat vyf vakbonde, wat tussen hulle sowat 330 000 lede verteenwoordig, dit regkry om die regering sy rug op die land se meer as 12 miljoen skoolkinders te laat draai.

Ons moet ontsteld wees wanneer politici openbare skole aftakel na staatskole (Suid-Afrika het géén staatskole nie) en gemeenskappe die reg ontsê om self besluite te kan neem oor wat binne elke skool en gemeenskap se konteks die beste vir elke kind sal wees.

Dit moet ons ontstel dat vyf vakbonde, wat tussen hulle sowat 330 000 lede verteenwoordig, dit regkry om die regering sy rug op die land se meer as 12 miljoen skoolkinders te laat draai.

Die Grondwet bepaal immers dat ’n kind se belang deurslaggewend moet wees in elke aangeleentheid wat die kind raak.

Die wetenskap en werklikheid skreeu teen die besluit om skole weer te sluit. Die rasionaliteit en redelikheid van die besluit is steeds onduidelik uit die een en ’n halwe bladsy oor onderwys uit die sewe bladsye van toespraak.

Maar dit is wat dit was: dit was net ’n toespraak.

Dit was net ’n toespraak

Pres Cyril Ramaphosa het verlede week aangekondig skole gaan weer sluit. Foto: Gallo Images

Ons staan steeds onder die bepalings van die Rampbestuurswet en die regulasies wat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake afkondig. Hierdie regulasies maak voorsiening dat die minister van basiese onderwys direktiewe vir die onderwyssektor mag uitvaardig.

Daar is inderdaad ’n stel direktiewe afgekondig en gewysig en ’n gewysigde skoolkalender is ook ooreenkomstig wetgewing gepubliseer.

Dit wil-wil herinner aan ’n tyd toe ’n sekere vingerswaaiende staatspresident ook van podiums af die land regeer het.

Geeneen van die president se onlangse drastiese bepalings – soos om skole vir ’n maand te sluit, nuwe datums te bepaal of duidelikheid oor die akademiese jaar te gee – is iewers in wetgewing vervat nie.

Dit was net ’n toespraak.

Tog is daar nou ’n geskarrel in 23 076 openbare skole om aan die president se bepalings te voldoen. Dit wil-wil herinner aan ’n tyd toe ’n sekere vingerswaaiende staatspresident ook van podiums af die land regeer het. Suid-Afrika het in 1994 weggestap van daardie stelsel af en ons leef nou onder ’n demokratiese bedeling waarin die oppergesag van die reg erken en eerbiedig moet word.

Jaco Deacon

Die Grondwet is die grondslag van hierdie stelsel en die Grondwethof ’n baken wat rigting gee, soos in die Gondwethof se uitspraak in Fedsure Life Assurance Ltd v Greater Johannesburg Transitional Metropolitan Council waarin die hof die volgende opmerk oor legaliteit: “It seems central to the conception of our constitutional order that the Legislature and Executive in every sphere are constrained by the principle that they may exercise no power and perform no function beyond that conferred upon them by law.”

Natuurlik het die staat die mag om sodanige wet of regulasie af te kondig, maar dan moet dit gebeur. Daar is geen nuwe regulasie of direktiewe vir skole afgekondig nie, daar is geen gewysigde skoolkalender opgestel en in die Staatskoerant gepubliseer nie, daar is nie oral opdragte van werkgewers (die onderwyshoofde van die nege provinsiale onderwysdepartemente) aan werknemers gegee nie.

Almal spring oor ’n toespraak . . .

Gewone mense mag nie nou stilbly nie.

Waar is die Grondwet en die oppergesag van die reg? Waar is die regulasie en direktiewe as regsbasis vir aksie? Die Britse politikus Edmund Burke het gesê: “The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing.”

Gewone mense mag nie nou stilbly nie . . . Ons samelewing is op dun ys en dit bedreig ons diepste grondwetlike wese, ons demokrasie en ons vryheid.

* Dr. Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings, Case Law Handbook on Education en redakteur van die Juta Education Law and Policy Handbook.

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Fedsas  |  Cyril Ramaphosa  |  Jaco Deacon  |  Grondwet  |  Onderwys  |  Skole  |  Covid-19-Pandemie  |  Vryheid  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.