Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skons en tee ná bloed teen mure

Volgende Maandag dié tyd sal die tee en skons op die sewende verdieping van Luthuli-huis in Pixley Semestraat 54, Johannesburg, uitgepak word vir die nuwe ANC-president en sy of haar nuwe adjudante.

Die vraag is net gaan dit kameraad-president Cyril Ramaphosa of kameraad-president dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wees wat aan die kop van die tafel gaan sit?

Maar van eerskomende Vrydag af gaan die spreekwoordelike bloed eers teen die mure, op die vloer en teen die plafon spat van die Nasrec-konferensiesentrum in Johannesburg.

Nasrec is natuurlik die politieke amfiteater van sekerlik die belangrikste leierskapkonferensie sedert Thabo Mbeki in Polokwane deur Jacob Zuma polities onthoof is.

Die slagordes is opgestel tussen Dlamini-Zuma en Ramaphosa. Agter die skerms gaan dit woes. Omtrent so ’n maand terug het Ramaphosa nog probeer uitreik na Dlamini-Zuma. Sy het hom summier in sy peetjie gestuur, want sy het gedink sy het reeds die ANC-presidentsverkiesing in die sak.

Net gister is berig hoe Ramaphosa vir Dlamini-Zuma van haar eie medisyne gegee het toe sy toenadering by hom gesoek het. Hy het haar in eie munt terugbetaal en laat weet: Nee, dankie, hy stel nie belang in ’n kompromis nie.

Dit moet seermaak, want net iemand wat seker is van ’n oorwinning hoef nie te onderhandel nie. Op die oog af lyk dit asof Ramaphosa die boodskap wil uitstuur dit is vir hom alles of niks nie.

Die Ramaphosa-faksie asook gewone kiesers is doodgewoon keelvol vir Jacob Zuma se swak regeerwerk, sy arrogansie, sy magswellus en die korrupsiekultuur wat hy laat gedy.

Dis nie asof dié faksie die ANC of die stryd verraai nie, hulle wil hulle bloot net loswikkel van die greep van die Jacob Zuma-hand.

Die onheilspellende vooruitsig as Ramaphosa nie tot ANC-president verkies word nie, is dat die ANC gereduseer kan word tot ’n opposisieparty. En ons almal weet hy, die ANC, is nie in staat om homself te konfigureer tot ’n effektiewe opposisieparty nie, want sy hande was sedert die koms van demokrasie nog altyd op die hefbome van mag.

Sy het haar met die semels van die movement gemeng.

Mevrou-dokter Dlamini-Zuma word dalk moedswillig geteer en geveer as ’n reïnkarnasie van haar eksman. Tot dusver het sy die tamboeryn van radikale ekonomiese transformasie voos gehamer. Maar ons almal weet dat dié radikale ekonomiese transformasie maar ’n skepping is van haar eksman se agente.

Natuurlik moet die ekonomie getransformeer word, maar vra jy vir die Zuma-kohorte hoe dit gedoen moet word, hap hulle in die lug. Hoe hulle radikale ekonomiese transformasie definieer, is niks minder nie as ’n kultuur van selfverryking. Die kernmotief is groot geld, tenders, toegang tot die staatskas en swart ekonomiese bemagtigingstransaksies. Gierigheid en korrupsie het sistemies van die ANC besit geneem.

Daarom hang die stank van verrotting swaar oor die ANC. En dis nie alleen Jacob Zuma se skuld nie.

Die ANC het nog altyd daarop geroem dat hy as ’n kollektief besluite neem. So die kamma-“kollektief” is net so aandadig aan die morele verval van die ANC.

Dlamini-Zuma het dalk uitstekende werk as minister van binnelandse sake gedoen, maar soos ’n stoere onderwysman en ANC-lid die afgelope week aan my gesê het: Sy het haar met die semels van die movement gemeng.

Soos hy sê: Sy is maar net die jongste weergawe van ’n ou Zuma-fliek.

Meer oor:  Zuma  |  Johann Maarman  |  Anc  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.