Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skooldae moet geniet word

Speel is belangriker as om tot elke prys te moet wen en skooldae moet ’n tyd van absolute genot en ontwikkeling wees, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Die afgelope drie weke het ek en die projekspan van Woorde open wêrelde (WOW), bestaande uit Jeneen Wallow en Karien Muller, die wonderlike voorreg gehad om matrieks in hul eie skole te besoek.

Sommige in hul effens bedompige en eenvoudige klaskamers. Ander weer in hul lugversorgde, veeldoelige skoolsale.

Ons WOW-besoeke het ons na skole diep in die platteland asook na ander in voorstedelike gebiede geneem. In die Noord-Kaap het ons byvoorbeeld skole in dorpe soos Springbok, Nababeep, Okiep, Loeriesfontein en Calvinia besoek.

In die Wes-Kaap, waar Marlene Fry my WOW-reisgenoot was, het is ons na skole in Clanwilliam, Lutzville, Citrusdal, Hawston, Gansbaai en Bredasdorp.

Die een gemene deler is die feit dat die verskillende skole deur Afrikaanse letterkunde (voorgeskrewe werke) aan mekaar verbind word.

Veral die behandeling van die dramas soos Adam Small se Krismis van Map Jacobs en Mis van Reza de Wet het groot aanklank gevind. Die Krismis van Map Jacobs het dikwels tot ’n hele klomp betraande ogies gelei.

Dit was opvallend dat leerlinge, ongeag waar hul skole is, maar tipiese skoolkinders is. Net soos in my eie matriekjaar (1976) was daar ook maar die ernstiges, die oplettendes, die giggelendes, dié wat agter hul hande praat en dan natuurlik die kansvatters.

Ek het dikwels op ons besoeke aan my eie hoërskooldae teruggedink.

Ons het daardie lied die oggend 20 keer gesing.

Ons hoof by die Hoërskool Elswood was mnr. Awie Piek. Van geloof was hy ’n Morawiër. ’n Man dus wat onwrikbaar in die mag van sang geglo het.

Een Maandagoggend op ’n algemene byeenkoms in die skool se vierkant (ons had nie ’n skoolsaal nie) het ons na sy mening “Ek wil strewe na die lewe” sonder die nodige energie gesing.

Glo dit as u wil, maar daardie oggend, net toe die laaste note van dié lied met sy vier verse wegsterf, het hy geskree: “Sing oor!”

Ons het daardie lied die oggend 20 keer gesing. Sy rede?

“Ons weet nie eintlik wat ons in die hemel gaan doen nie. Elke keer wanneer die engele in die Bybel verskyn het, het hulle gesing. So ons aardse sang is maar net ’n prêktis vir die hemelse sang wat ons eendag sal sing!”

By sommige skole op ons WOW-besoeke kon ’n mens die ferm hand van die skoolhoofde raaksien. Daardie skole het goed gefunksioneer en die leerlinge was ordelik in die gange en op die skoolterrein.

By ander skole weer was dit opvallend dat daar nie ’n sterk leiershand is nie.

Toegegee, die onderwyskorps doen sy bes, maar invloede van buite die skoolomgewing spoel dikwels oor na die skoolterrein.

Ek was nog altyd van mening dat ’n entoesiastiese opvoeder entoesiastiese leerlinge kan motiveer om hul laaste jaar op skool met groot ywer aan te pak.

By die ingang van die Hoërskool Lutzville het ’n laning van die pragtigste wingerde ons tot voor die skool se kantoorkompleks begelei. En net daar is ’n monument met die skoolwapen en die volgende inskripsie: “Alle spelers is net kinders/Die afrigters is vrywilligers/Die skeidsregter is net ’n mens/Want hierdie is nie die Wêreldbeker nie!”

Vir my, asook my mede-WOW-reisgenote het dit opnuut gedui op die feit dat ’n skool ’n kind se karakter moet help vorm. Dat speel belangriker is as om tot elke prys te moet wen. Dat jou skooljare dae van absolute genot en ontwikkeling moet wees.

Weer het mnr. Piek se woorde met sy verwelkoming aan ons gr. 8’s (1972) by my opgekom:

“Julle moet weet dat hierdie nie ’n hierjy-skool is nie, maar ’n jy-hier-skool! En onthou . . . eers mens dan die res!”

Luister ek na die entoesiasme en planne wat die opvoeders aan die dag lê, kan ’n mens nie anders as om te glo dat hulle die belange van die leerlinge op die hart dra nie.

Ek was nog altyd van mening dat ’n entoesiastiese opvoeder entoesiastiese leerlinge kan motiveer om hul laaste jaar op skool met groot ywer aan te pak.

Soos die hoofseun van een skool (ek kan sy naam nie onthou nie) ons ná een van die sessies bedank het: “WOW . . . en ek bedoel wow! Baie dankie dat julle gesorg het dat letterkunde nou vir ons lekkerkunde geword het!”

* Fransman jr. is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Woorde Open Wêrelde  |  Reza De Wet  |  Awie Piek  |  Adam Small  |  Willem Fransman  |  Lutzville  |  Onderwysers  |  Letterkunde  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.