Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skoonheid en hoop by Langa en Stellenbosch
Aniki Joseph, ’n rubriekskrywer van Beeld, wie se eerste bundel pas verskyn het.

Die son hang goud gestrik aan die weerhaan van die kerktoring in Drostdystraat in die middel van ’n wolklose dag. Dit is vroegherfs in Stellenbosch. Roesbruin akkerboomblare dobber gewigloos op die kabbelende water in die klipgeplaveide watervoor.

“Die jaar word ryp in goue akkerblare, / in wingerd wat verbruin, en witter lig / wat daglank van die nuwe wind en klare / son deurspoel word; elke blom word vrug, / selfs die traagstes; en die eerste blare val in die rook-vaal bos en laan” – Vroegherfs. N.P. Van Wyk Louw.

Ons staan in Kerkstraat in verwondering voor die (sover bekend) oudste dorpshuis in Suid-Afrika. Die witgekalkte huis met sy grasdak, gebou in 1709, het behoort aan Sebastian Schröder, ’n soldaat van die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie wat later as bode van die hof aangestel is vir Stellenbosch en Drakenstein. Die binneversiering en die tuin is tipies van ’n huis in Stellenbosch in die jare 1680-1720. Vandag is dié historiese gebou met sy besondere vakmanskap ’n nasionale monument.

In Dorpstraat geniet ons ’n versnapering oorkant die Sybrand Mankadan-gebou. Mankadan, van Friesland in Nederland, se kleurvolle en soms omstrede lewe is intrinsiek verweef met die geskiedenis van Stellenbosch. Hy was destyds die énigste mens met ’n tersiêre opleiding in die dorp en was onder meer sieketrooster, onderwyser, teoloog, kunstenaar en kalligraaf – én die eerste sekretaris van die landdros en heemrade.

My hart pyn vandag in die bloupers van gekneusde laventel. Oor my taal. Oor ou verhale van bloedsweet, van hartstog en van rou. Oor ’n aalwynjaar vir Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch.

Maar uit hierdie doodgewone wêreld met sy doodgewone dinge staan die wonderlike op.
T.T. Cloete. Kaneel.

Op die hoek van Kerk- en Andringastraat, by Africa Silks, trap ’n vrou kaalvoet die pedaal van ’n masjien terwyl haar hande soos vlinders fladder in die skep van geweefde meesterstukke.

’n Weergawe van The Chinese Girl van Vladimir Tretchikoff pryk as muurkuns in die Eikestad. Met masker en al! Ons is immers te midde van ’n pandemie en die geskiedenis word vasgevang op verskeie platforms.

Op pad terug na Kaapstad, ry ons verby die kleurryke huise van Langa. Wasgoed wapper in die wind. Kaalvoetkinders speel sokker teen die pienk en laventel kwashale van die drywende laatmiddagson. Hulle lag uitbundig, mik en skop die bal hoog in die rigting van denkbeeldige doelpale. Later sal die Suidooster se woede weer vuilgrys bolwolke aanjaag, maar in dié oomblikke is hulle net kinders wat die dag aangryp.

“Maar uit hierdie doodgewone wêreld met sy doodgewone dinge staan die wonderlike op.” – T.T. Cloete. Kaneel.

Daar is steeds soveel skoonheid en hoop. “Gee my ’n binneste Here, wat ’n oog het vir skoonheid en reinheid, sodat die boosheid wat ek in die wêreld sien, my nie sal verskrik nie . . . Gee my humor sodat ek geluk uit die lewe kan put en andere ook voordeel daaruit kan trek.” – T. Morris. (1478-1535)

  • Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Langa  |  Stellenbosch  |  Kunswerke  |  Kuns  |  Hoop  |  Skoonheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.