Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skoonheid is ’n blomhuis wat blink met hoop

‘Weggesteek in wat ons pragtig of strelend of goddelik of oorrompelend noem, is daar ’n natuurmag wat net homself bly.” – Verbeel jou dis somer, deur Abraham H. de Vries. In sy verhaal oor Chrissie vergelyk die skrywer haar magnetiese skoonheid met ’n berg, ’n tuin, ’n waterval, drome wat ’n mens met ’n glimlag laat wakker word, boegoe en rose se reuke, selfs storms, wind en donder, vuur.

Aniki Joseph

In Hooglied beskryf Salomo sy beminde se oë as duiwe agter ’n sluier, haar hare soos ’n trop bokke wat teen ’n berg afkom en haar tande so wit soos ’n ry pasgeskeerde en skoongewaste skape. Haar lippe soos ’n skarlakenrooi lint en haar versiersels soos granaatpitte op haar voorkop.

Francis Bacon skryf in Essays of Beauty (1625) dat daar geen perfekte skoonheid is wat nie ook vreemde proporsies het nie. Iain Banks beskryf skoonheid in The State of the Art (1989) as iets wat verdwyn wanneer jy dit probeer definieer.

Vir die digter T.T. Cloete was daar skoonheid in die musiek en wiskunde van die natuur: “daar is meer poësie in die sneeuvlokkie / as in die letterkunde en baie meer poësie / in die miskruier en die toktokkie / in die meteorologie en entomologie”.

Ek dink vanoggend weer aan ’n mentor en ’n vriend wat geglo het dat daar ’n goddelike skoonheid in orde, netheid en wedersydse respek is.

Jare gelede, tydens ’n gesondheidsnavorsingsprojek in die Noord-Kaap, vergesel ek veldwerkers vir opnames. Ons stap van huis tot huis, straatop en straataf, in ons poging om betroubare inligting oor die gemeenskap se gesondheidstatus in te win deur onderhoudvoering en waarneming.

Plastieksakke dwarrelend tussen huise sonder heinings, hekke en geute. Alledaagse ellende rank onder geroeste sinkdakke tussen versteende gebede en gefnuikte drome.

Dan sien ek dit. ’n Huis met ’n draadheining. ’n Tuinhek met skarniere.

Dan sien ek dit. ’n Huis met ’n draadheining. ’n Tuinhek met skarniere. ’n Poskaartgrootte Kobra-gepoleerde voorstoep waarin die son lag. Die lappies aarde langs die sementpaadjie tot by die voordeur in netjiese kruispatrone gevee. Walletjies rondom die suurlemoenbome langs die huis en in gelid skelrooi malvas in deurgesnyde verfblikke.

Ons word hartlik ontvang in ’n sitkamer met oop vensters waarin kantgordyne liggies roer. Die reuk van kaboemielies, soetpampoen, langbeen-groenbone en stowevleis begroet ons uit die kombuis met sy blink vinielvloer. Die geil groentetuin in gebruikte buitebande in die agterplaas, bydraend tot die heilsaamheid op die stoof.

Ek stoor hierdie sonneblomhuisie in my arsenaal van hoop, geloof en weer probeer.

My goeie vriend en mentor sterf onverwags in die maand wanneer die einde van ’n jaar begin uitspeel in die eerste Kerswinskopie-advertensies.

Vanoggend druk ek opnuut sy laaste geskenk in sy eie woorde teen my hart: “Skoonheid is ’n beeld van die ewigheid hiernamaals.”

  • Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Skoonheid  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.