Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skoonmaak-proses ís in volle gang

Doen net iets, is die pleidooi wat oral in Suid-Afrika aan die president en die regering gerig word om die dooiepunt te beëindig waarin die land homself bevind. Vertroue is laag, groei traag en emigrasie hoog. JP Landman neem bestek op van wat pres. Cyril Ramaphosa al bereik het. 

Pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar met sy inhuldiging. Foto: Jaco Marais

Die Ramaphosa-regering het twee doelwitte aan homself gestel: herbou die etiese fondamente van die staat en gee die ekonomie nuwe lewe. Ek sal net die eerste doelwit hier bespreek.

Skoonmaak, etiek

Die staat moes eerstens van die kapingsmagte teruggeëis word.

Ramaphosa het vier kommissies van ondersoek aangewys om met die skoonmaak-offensief te help. Twee sit nog (die alomteenwoordige Zondo-kommissie en die Mpati-kommissie wat die Openbare Beleggingskorporasie of OBK ondersoek) en twee het hul werk afgehandel. Tussen hulle het hulle tot heelwat aksie aanleiding gegee, waarvan ons al heelwat vergeet het. Dit sluit in die bevryding van kritiek belangrike instellings.

SA Inkomstediens Dit is nuttig om te onthou dat sowel die voormalige nommer een as twee van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Tom Moyane en Jonas Makwakwa, weg is. Dieselfde geld die oudhoof van inligtingstegnologie, Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, wat so ’n spektakel van haarself op nasionale televisie gemaak het dat sy in die openbaar om verskoning gevra het.

Voorts is drie uitvoerende amptenare in Julie geskors. Die suiwering duur voort. Die EFF en die openbare beskermer (OB) verset hulle teen die SAID-hernuwing met behulp van ou bewerings oor “geheime spioenasie-eenhede” en aanvalle op die nuwe kommissaris, Edward Kies­wetter. Hy beur onversteurd voort en kan die OB aan die howe oorlaat.

Dié drie se vertrek het die NVG van sy era van Zuma-kaping bevry en dit word herbou.

Nasionale Vervolgingsgesag

Die voormalige topdrie by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moes ook die pad vat. Een van hulle beveg haar afdanking in die hof en twee het ’n pleidooi aan die parlement gelewer om nie afgedank te word nie. Dit sal ’n interessante toetssaak wees vir die parlement se bestuur.

Dié drie se vertrek het die NVG van sy era van Zuma-kaping bevry en dit word herbou.

Die nuwe direkteur, Shamila Batohi, met ervaring in die Internasionale Strafhof in Den Haag, het na Suid-Afrika teruggekeer om die leisels oor te neem. Sy het haar amp in Februarie aanvaar. In Maart is ’n spesiale ondersoekeenheid gestig om op sake voortspruitend uit staatskapingsonthullings te fokus.

In Mei het Batohi die bekende korrupsiebestryder met waardevolle internasionale ervaring, Hermione Cronjé, as leier van dié eenheid aangewys. Geoff Budlender, ’n senior advokaat van die Kaapstadse balie, is as strategiese raadgewer aangestel. Batohi het Willie Hofmeyr weer as hoof van die batebeslagleggingseenheid aangestel, nadat hy drie jaar gelede deur die Zuma-span na die kantlyn geskuif is.

Ek het voorheen geskryf 2020 gaan die jaar van vervolgings wees en ek staan daarby.

Valke

Die voormalige hoof en waarnemende hoof van die Valke is afgedank en deur die gerespekteerde genl. Godfrey Lebeya vervang.

In die Vrystaat is nege staatsamptenare en ’n maatskappydirekteur aangekla. In Mpumalanga is ’n voormalige plaaslike ANC-sweep weens korrupsie en bedrog in hegtenis geneem.

Die Valke is hard aan die werk.

In die Vrystaat is nege staatsamptenare en ’n maatskappydirekteur aangekla.

VBS-verslag

In Limpopo het die VBS-verslag die kop van vyf burgemeesters geëis, wat bedank het; vier is afgedank en drie geskors. In Noordwes het drie burgemeesters bedank, een is geskors en drie het regsadvies bekom om afdanking te vermy.

Die openbare mening tel – veral in aanloop tot ’n verkiesing.

SAPD

By die Polisiediens is ’n adjunkkommissaris afgedank en ses offisiere met die rang van generaal of brigadier aangekla. Verlede week nog is sewe junior offisiere gearresteer vir die verkoop van gekonfiskeerde goedere. In ’n betekenisvolle uitspraak in Julie is een van die “onaantasbares”, die voormalige hoof van misdaadintelligensie Richard Mdluli, skuldig bevind aan etlike oortredings wat in 1999 gepleeg is.

Die wiele van geregtigheid draai stadig, maar hulle draai wel. (Dit is wat John Block, die voormalige ANC-grootman in die Noord-Kaap en ’n Zuma-trawant, ook uitgevind het – ná talle regsmaneuvers dien hy tans ’n vonnis van 15 jaar uit.)

Staatsondernemings

Hulle verslind steeds kontant en die balansstate is skokkend, maar baie het aan die etiese front gebeur.

By Eskom het grootkoppe soos Brian Molefe, Anoj Singh en Matshela Koko verdwyn. Solidariteit was op Molefe se spoor en hy moet R10 miljoen aan die Eskom-pensioenfonds terugbetaal.

365 Eskom-bestuurders het lewenstyloudits ondergaan en 44 gevalle is na die spesiale ondersoekeenheid verwys. Meer as 1 000 tugverhore is gehou en 116 werknemers het besluit om te bedank, insluitend 14 senior beamptes. Eskom het ’n grootskaalse suiwering ondergaan.

Die SAUK het steeds ’n voorsitter wat deur Zuma aangestel is en kort R3 miljard om te oorleef, maar ’n skoonmaakproses het beslis plaasgevind.

’n Jaar nadat die berugte Hlaudi Motsoeneng deur die SAUK afgedank is, is drie van sy trawante ook weg. Die uitsaaier het verlede week in ’n selfgeïnisieerde verslag, wat deur die veteraanjoernalis Joe Thloloe saamgestel is, politieke inmenging in sy redaksionele beleid blootgelê.

Faith Muthambi, oudminister van kommunikasie, het gekla sy word in die verslag as vuilgoed uitgebeeld. Verwag verdere reaksie oor die verslag.

Die SAUK het steeds ’n voorsitter wat deur Zuma aangestel is en kort R3 miljard om te oorleef, maar ’n skoonmaakproses het beslis plaasgevind.

Die OBK-sage sleep voort voor die Mpati-kommissie, maar daar is reeds ’n nuwe raad, die uitvoerende hoof en twee senior amptenare is weg en etlike is geskors. Die kabinet het die praktyk van ’n politikus aan die stuur van die raad opgeskort. Onder die ervare leierskap en bewese integriteit van die nuwe voorsitter, Reuel Khoza, sal die OBK met ’n bietjie hulp van die Mpati-kommissie behoorlik skoongemaak word en ’n nuwe rigting inslaan.

In sy tweede termyn as minister van finansies het Pravin Gordhan desperaat van die Zuma-trawant Dudu Myeni by die SAL ontslae probeer raak. Sy en talle voormalige senior amptenare is nou weg. Almal kan sien hoe die eens magtiges tot ’n val gekom het. Nou moet die SAL net finansieel oorleef.

By Transnet is vyf uitvoerende amptenare weg, insluitende die uitvoerende hoof, en nog agt is geskors. By Denel is die uitvoerende en finansiële hoof en die voorsitter weg. Denel en die SAL het nuwe rade. Dit is straks nie genoeg om hulle finansieel te red nie, veral nie Denel nie, maar daar is teen swak etiek opgetree.

Kabinet

Die grootste skoonmaakproses het waarskynlik in die kabinet plaasgevind.

Ramaphosa het ’n kabinet met 36 ministers geërf. Daar is nou 28. Op die meeste vyf van hulle kan as ondersteuners van Zuma of Ace Maga­shule beskryf word en van hulle sal dit selfs ontken. Die getal staatsdepartemente het van 40 tot 35 verminder.

Ondanks al die publisiteit oor voormalige Zuma-ministers wat as voorsitters van parlementêre komitees aangestel is, spreek die getalle vanself. Daar is 36 komitees. Tradisioneel het die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) ’n lid van die opposisie as voorsitter. Dit is tans weer die geval. Van die oorblywende 35 voorsitters kan 11 as Zuma- of Magashule-ondersteuners beskou word.

JP Landman

Die meeste van hulle is uit die kabinet geskop. Van minister na ’n voorsitter van ’n parlementêre komitee, waar elke beweging deur opposisiepartye dopgehou word . . . en ons word gevra om te glo hulle verlam die regering?

Slegte ouens ry aan pen

’n Deel van Ramaforie was die oortuiging dat die slegte ouens sou verloor. Dit gebeur beslis. Mense wat eens onaantasbaar was, het sigbaar in onguns verval. Sommige is reeds skuldig bevind. Die straffeloosheid van die Zuma-jare word stadigaan reggestel.

Die proses is nie oor nie. Daar is elke week afgryslike onthullings voor die Zondo-kommissie. Om ’n skuldigbevinding in die hof te bekom is ’n perd van ’n heel ander kleur as onthullings voor ’n kommissie. Desondanks het talle al op hul swaard geval.

Burgerlike organisasies het met die skoonmaakproses gehelp en dit spreek boekdele oor ons demokratiese aktivisme.

  • Landman is ’n politieke ontleder. Die artikel is vir Nedbank Private Wealth geskryf.
Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.