Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skoonmakery met die digitale huilbesem
Annemarie van der Walt

Gewoonlik lê die blaam voor die donkermaan se deur wanneer die gepieker oor die lewe nie wil wyk nie. ’n Mens kan egter ook net so lank voor jou sit en uittuur asof dit vanself antwoorde sal bring oor wat jy nie snap nie, en dan is ál genade om te begin skoonmaak.

Ek takel die huis van hoek tot kant totdat dit klink of die stofsuier (“Dit heet toch ook een huilbesem,” merk die Hollandse nutsman nou die dag op, en ek teken die woord summier aan) wil uitbrand en daar van die verestoffer net een veer oorbly. Tog is die ongedurigheid steeds soos ’n taai stoflagie op my gemoed en ek takel dus maar my digitale bestaan.

Ek klik-klik op al die onnodige lêers, foto’s, aanhangsels op die rekenaar; en sleep eindelik die selfoon nader wat die ganse dag in ’n hoek lê en vibreer: 48 WhatsApps, almal komende van die veelkoppige monster Groep.

Hoe het ek hier beland, in die kloue van ’n Medusa waarvan die slangtonge om haar kop wriemel? Daar is ’n groep vir dorpsdinge – een ’n kennisgewingbord, nog een vir veiligheidsake, ’n ander vir die regstreekse bure, ’n vierde genaamd alternative gatherings (die voorloper hiervan was die KHAK – die Kaapsehoop Aksie Komitee, ongelukkig saliger); een vir ’n verjaardagparty en sommer ook erg vroegtydig vir die Oujaarsparty; sussies; kinders . . . noem maar op.

Nuttig, dié manier van kommunikeer, maar ook ’n totale aanslag van menings, ’n doolhof van misverstande, ’n broeiplek van vetes.

Daar is altyd een in ’n groep wat klokslag eiers lê, en toe ek moedeloos verby die hoeveelste een van dié boodskappe lees, onthou ek van die druppende kraan in die kombuis wat reggemaak moet word.

Toe maak ek régtig skoon: Weg met beterweters, bekvegters en duimsoldate.

Daar is ook altyd iemand wat als ongevraag uitblaker en dit herinner my die kas se deurslot wil-wil loswikkel. Dit verg bogemiddelde inspanning, maar eindelik is my eie geraamtes weer op hok. Die een wat aanhoudend duimpies stuur, laat my die moersleutels van groot na klein pak; ek maak al die dreine skoon nadat die een wat heeltyd ou koeie uit die sloot grawe se boodskap verbyflits, en ’n paar uur later is al die roeskolle van die braaikaggel geskuur omdat die een wat almal immer swartsmeer se duime oortyd gewerk het.

Einde ten laaste is die hele werf weer deurmekaar en my bui min of meer daar waar so ’n reukie talm dat die septiese tenk weer uitgesuig moet word. Toe maak ek régtig skoon: Weg met beterweters, bekvegters en duimsoldate. Uit met klakouse, kermgatte en opstokers. Ongelukkig bly ’n sonstraal of twee ook in die slag, so ook die enkele lankmoediges voordat ek die digitale huilbesem eenkant los.

Dit duur so ’n dag of drie voordat ek agterkom ek is nie meer heeltyd besig om antwoorde uit te dink op stommiteite nie en ek pieker nie meer oor ander mense se gemors nie.

En ek onthou ’n sêding uit my digitaallose kinderdae: “Opgeruimd staat netjes.”

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Skoonmaak  |  Digitaal  |  Rubrieke  |  Menings  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.