Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skotte dreig opnuut om weg te breek

’n Interessante gevolg van Brexit – Brittanje se wegbreek van die Europese Unie (EU) – is die skerp toegenome steun vir Skotse onafhanklikheid.

’n Peiling van Ipsos het vandeesweek gewys dat 58% van die Skotte wil hê Skotland moet wegbreek van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland (VK). Dit is die negende peiling sedert Junie wat ’n meerderheid vir “Skoxit” wys, berig die BBC.

'n Ander peiling, van Savanta ComRes, plaas die steun vir afskeiding iets laer, op 53%, wat steeds ’n meerderheid is. Luidens die Ipsos-peiling kan die “Skoxit”-meerderheid deels te make hê met die enorme gewildheid van Nicola Sturgeon as Skotse eerste minister (’n volle 72% is tevrede met haar werk). Landwyd is net 33% tevrede met Boris Johnson se werk as Britse premier.

Dis opvallend dat dit veral jonges (16 tot 24 jaar oud) is wat ten gunste van Skotse onafhanklikheid is. Altesame 79% van diegene in dié ouderdomsgroep wil hê Skotland moet wegbreek. Die oues is versigtiger – daar wil ’n meerderheid nog in die VK bly.

Daarby is 64% ten gunste van ’n referendum oor die saak.

Die rede vir die wens om onafhanklik te word, het deels met ’n toegenome Skotse nasionalisme te make. As ’n mens op peilings kan afgaan, is die hoofmotief egter dat die meeste Skotte ernstige besware teen Brexit het. Hulle wil deel van die Europese Unie bly.

In die wind, in die reën, in die sneeu, jy doen jou werk.

Toe die Britse referendum in 2016 gehou is, het die Britte as geheel met ’n klein meerderheid (52-48%) vír Brexit gestem. In Skotland was slegs 38% vir Brexit en 62% daarteen.

Die Britse meerderheid vír afskeiding was ’n gevolg van die tradisionele gevoel dat hul land nie regtig deel van Europa is nie; dat die Engelse Kanaal nie slegs ’n geografiese skeiding is nie, maar ’n emosionele en geestelike skeiding.

Die Skotte, wat eers in 1707 onder die Britse kroon gekom het, het hulself in meerderheid altyd as ’n afsonderlike volk beskou. Vandaar dat die ideaal van Skotse onafhanklikheid nooit heeltemal dood was nie, en trouens die laaste jare ’n beduidende hupstoot gekry het.

Van ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring kan daar geen sprake wees nie. Die Skotse regering kan nie eens sonder Londen se toestemming ’n referendum daaroor hou nie, en dis byna uitgeslote dat die Johnson-regering dit sal toelaat. Maar niks in die lewe is ooit staties nie. Daar kan ontwikkelinge in die toekoms wees wat “Skoxit” moontlik maak: Johnson se regering kan val en deur ’n Arbeider-regering (wat minder afwysend teenoor Skotse afskeiding staan) vervang word.

Die dagblad The Scotsman skryf vandeesweek in ’n hoofartikel: “As steun vir wegbreek uit die VK regtig op dié vlak is en daar bly, is dit moeilik om te sien hoe onafhanklikheid geweier kan word.”

  • Dr. Scholtz is ’n geskiedkundige en onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.