Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skouspelagtige beeldhouwerke laat jou diep nadink

Met ’n onlangse kuswandeling het MC Botha onverwags op ’n klompie beeldhouwerke afgekom wat hom diep laat dink het.

Haar sekstant het die gees gegee . . . Foto: MC Botha

Kan almal nog byhou by die steeds groeiende lys van bewusmakingsveldtogte rakende die haglike toestand waarin ons planeet verkeer?

Skaars het ons die pas afgelope Wêreldomgewingsdag oorleef ten spyte van deskundiges se dodelike vermanings oor weghol-besoedeling, of ons word op Wêreld Oseanedag attent gemaak op die treurige toestand waarin die oseane verkeer.

Ware aktiviste skram egter nie weg van die brutale werklikheid nie, en hier in die Overstrand het hulle ook nie op hulle laat wag nie.

Voor die sonnetjie onlangs op ’n Saterdag al sy kop bo Aasvoëlkop in die berge bokant Hermanus kon uitsteek, het hulle by Swallow Park in die middedorp byeengekom, gewapen met vullissakke om die kus al die pad tot by Gearing’s Point skoon te maak.

Grote griet, ’n kunswerk! Die laaste herkenbare beeldhouwerk wat ek gesien het, was ’n borsbeeld van pres. Paul Kruger deur die vermaarde beeldhouer Anton van Wouw, maar nie eens Rodin kan ’n wasgoedmasjien soos dié een beeldhou nie.

’n Dag later het ek self gesien dat hierdie klein stukkie aarde inderdaad van alle rommel ontneem is – ten minste vir eers. Nie ’n enkele leë blikkie, plastieksak of selfs ’n sigaretstompie was te bespeur nie.

Of hoe? Ek moet my oë ’n paar maal knip om seker te maak ek hallusineer nie. Daar op die hoë rotswand teenaan die see staan ’n stukkende wasmasjien, klaarblyklik op die plek neergeplak deur ’n omgewingsgestremde inwoner wat niks voel vir kusbesoedeling nie, laat staan maar visuele besoedeling.

Ek het net begin wonder waar ek ’n lid van die Land Party in die hande kan kry om hierdie stukkie van my vaderland gratis van my te kom wegraap, toe ’n kennisgewing langs die vergane wasmasjien my aandag trek: DO NOT CLIMB ON THE SCULPTURE.

Grote griet, ’n kunswerk! Die laaste herkenbare beeldhouwerk wat ek gesien het, was ’n borsbeeld van pres. Paul Kruger deur die vermaarde beeldhouer Anton van Wouw, maar nie eens Rodin kan ’n wasgoedmasjien soos dié een beeldhou nie.

Onwillekeurig buig ek voor die grys objek, voordat ek oor die rotsagtige terrein aanstap na ’n veiliger plek om asem te skep. Die kurator van die FynArts Festival het hier ’n kat nie fyn genoeg aan die stert beet nie.

Meteens doem ’n ry silwer speke uit die rotswand voor my op. Dit moet seker die een of ander radarnetwerk wees wat te doen het met die plaaslike astronomievereniging se uitstalling van planete al langs die kuswandelpaadjie anderkant die ou hawe, vermoed ek, en tree versigtig eenkant toe.

Fyn kuns: geroeste pype krul slangagtig die lug in. Foto: MC Botha
Veiligheid eerste? Nie met dié drie los boute nie. Foto: MC Botha

Iets in die lug trek my aandag, maar dis nie ’n seemeeu nie. Nee, dit is ’n versameling geroeste metaalpype wat slangagtig die hemel in krul. Aan die onderkant kom alles in ’n sementvoetstuk byeen, dog ’n paar boute lê los langs die basis, asof iemand nog besig was om te verhoed dat alles omtuimel.

Liewer bang Jan as dooie Jan, en ek maak my uit die voete.

Maar op ’n klein grasperkie tussen die rotse beland ek amper plat op my maag! Oral lê langwerpige poetsvalle rond wat ’n mens herinner aan versteende dinosourus-/pterodaktieldrolle.

’n Groepie alomteenwoordigende Gearing’s Point dassies wei vreedsaam tussen die stukke installasiekuns rond, sonder twyfel ter illustrasie van die mens se simbiotiese verhouding met die natuur.

Vier dassies wei tussen versteende drolle. Foto: MC Botha

Skielik tref dit my dat al hierdie andersins skouspelagtige kunswerke redelik grou voorkom. Waar is ’n bietjie kleur?

Ja, daar eenkant is tog iets wat helder pienk voorkom, as my oë my nie bedrieg nie. Ek kry koers soontoe, diep in gedagte oor al die onverwagse dinge wat ’n onskuldige waarnemer se pad kan kruis – uit die bloute, as’t ware.

Pienk kuns – uit die bloute. Foto: MC Botha

Hier ter sprake is beslis iets anders, en daarby verskyn selfs ’n lys van veiligheidswenke en bykomende noodnommers, insluitend dié van die NSRI. “RESCUE BUOY” blêr die teken, ietwat minder oorspronklik as die ander beeldhouwerke.

Om jou uit die see te red, en nie van kuns op die rotse nie.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Paul Kruger  |  Mc Botha  |  Beeldhouwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.