Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skrap n-woord uit woordeskat

Daar kry die Stalinisties-gesinde lede­ van die ANC toe waarna hulle nog altyd gehunker het – ’n polisiestaat, of altans ’n gedeeltelike een.

Terwyl daar heelwat lof uit byna alle oorde ontvang is vir die spoedeisende optrede van die Suid-Afrikaanse regering om die verspreiding van die Covid-19-virussiekte te beperk, het die optrede van die land se gewapende magte van tyd tot tyd teen die beginsels van die Grondwet ingedruis.

Verder kon dr. Zweli Mkhize, die agbare minister van gesondheid, nie die versoeking weerstaan om ’n lansie vir die sinnelose en uitgediende ideologie van nasionalisering te breek nie.

In ’n skynbare poging om regverdiging vir dié rampspoedige kernbestanddeel van kommunisme te verkondig, het Mkhize in een van sy vele onlangse televisie-verskynings spesifiek na Spanje se han­tering van die Covid-19-pandemie verwys.

Dié land het as ’n tydelike noodmaatreël alle instellings wat gesondheidsorg verskaf, onder staatsbeheer geplaas.

Fyner besonderhede oor die vergoeding wat die Spaanse regering aan private hospitale gaan betaal in ’n gesamentlike poging om die virus in bedwang te bring, is onduidelik, maar klem is nietemin op die tydelike aard van dié reëling geplaas.

Hoewel ’n woordvoerder van Mkhize laat blyk het dat die Suid-Afrikaanse regering nie van plan is om private hospitale te nasionaliseer nie, was die minister ooglopend gretig om Spanje as voorbeeld van samewerking tussen die openbare en die private sektor in die huidige omstandighede voor te hou.

Indien Mkhize sy huiswerk oor Spanje se geskiedkundige ondervinding met na­sionalisering gedoen het, sou hy die sensitiwiteit daarvan besef het, aangesien radikale sosialisme dié land teen die middel van die 1970’s op sy knieë gedwing het.

Die land kon eers ná die militêre diktator Francisco Franco se dood in 1975 weer begin om stelselmatig sinvolle en markgerigte ekonomiese beleid te begin navolg.

In die twee dekades vóór die land se eerste demokratiese verkiesing in 41 jaar (wat in 1977 gehou is), het meer as 1 miljoen Spanjaarde die land verlaat, hoofsaaklik weens ’n sukkelende ekonomie en menseregtevergrype.

Die nagevolge van Franco se beleid van nasionalisering het nie oornag verdwyn nie en kapitaalvorming in Spanje het tot en met die vroeë 1980’s skerp gedaal – wat tot ’n langdurige resessie gelei het.

Ná die terugkeer tot markgerigte ekonomiese beleid en die herstel van die beginsel van private eiendomsreg het Spanje se ekonomie oor ’n tydperk van ses jaar met meer as 200% gegroei.

Ondernemers in die private sektor het die aansporings vir groter produktiwiteit wat met ’n vryemarkekonomie gepaardgaan, aangegryp en kapitaalvorming in dié land het tussen 1985 en 1989 met meer as 25% toegeneem.

Met die kwessie van grondonteiening wat waarskynlik eersdaags weer in die Suid-Afrikaanse parlement te berde gaan kom, is dit nogal belangrik vir lede van die kabinet om groter begrip te toon vir die erns van die gevare verbonde aan oormatige staatsinmenging in die ekonomie.

Die Covid-19-pandemie sal hopelik binne ’n paar maande iets van die verlede­ wees en dan kan die ekonomie weer die agterstand inhaal.

Die ekonomiese ellende wat op radikale grondhervorming sal volg, sal dekades lank neerslag vind en die huidige resessie soos ’n Sondagskool-piekniek laat lyk. Die boodskap aan die Suid-Afrikaanse regering is duidelik – haal die N-woord uit jul woordeskat.

  • Dr. Botha is ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep.
Meer oor:  Roelof Botha  |  Nasionalisering  |  Covid-19  |  Polisiestaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.