Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skryf is ’n kuns wat beskerming verdien

Oor die “akrobatiese manipulering van taal” vat ’n teksredakteur onlangs boeke: In Afrikaanse tydskrifte, koerante, voer hy aan, word woorde “wat amper almal sê” knaend deur ander vervang. Die lys is lank, en hy het gelyk. Elke keer wanneer ’n sub sonder aansien van ritme my “hulle” en “julle” tot “hul” en “jul” verkap, sug ek. Taal is selfs op sy beste nooit suiwer eksak nie.

Jana Luther

Is die pop defek, verslete? “Blitskitswinkel”, “skerpskertser”, “jongleer”, “jenewer-en-kinawater”. Gooi dit uit. Maar, asseblief, spaar tog die lewende kinders. Afrikaans se “blou boeke vol taalmites” weerspieël ’n tyd toe “presisiegebruikers” (Johan Combrink se woord) bewustelik fyner probeer skryf het as praat.

Vir ’n presisiegebruiker word ’n “lewende program” regstreeks uitgesaai, terwyl ’n “lewendige program” vrolik verloop, al is dit ’n opname.

Vir ’n presisiegebruiker “blyk” iemand siek te wees as dit bevestig is; as siekte vermoed word, “lyk” die persoon siek, of “skyn” sy siek te wees. “Iemand is blykbaar siek” dui op hoorsê; “iemand is skynbaar siek” beteken die “sieke” bak ’n kluitjie.

In die spreektaal, aan die ander kant, loop woorde en betekenisse onvermydelik deurmekaar.

As kinders nie vroeg-vroeg leer – geleer word – om met sorg te onderskei nie, gaan hulle dit onwaarskynlik as volwassenes doen. Weer Combrink: “Salig is die armes van woord, want hulle sal, ten spyte van verwardheid, tog bly lewe.”

Maar dié onpresiesheid durf nie as rede aangevoer te word waarom subredakteurs fyn(er) onderskeidings ook uit die skryftaal moet weer nie.

Elke onderskeidende woord maak van taal ’n skerper instrument.

Taalsuiwerheid kan nooit ’n absolute norm wees nie. Taal is by uitstek demokraties.

En juis daarom – omdat dit ’n kuns is, en een van die mens se grootste prestasies – is dit ’n vaardigheid wat beskerming verdien.

Wanneer sprekers iets by die naam wil noem en nie dadelik in hul eie taal ’n “suiwer” én bruikbare woord vind nie, gebruik hulle gewoon ’n woord uit ’n ander taal. Al is die ding ook “awesome”, en al is daar in Afrikaans ook tientalle beter beskrywende woorde.

Dis onmoontlik om spreektaalvermenging te stuit en niemand behoort op almal één vorm af te dwing nie. Solank dit na weerskante so werk.

“Niemand in my familie- of vriendekring het ’n blou benul wat X beteken nie” is ’n bedenklike barometer vir ’n sub, want daar is ook nog geografiese, sosiolektiese, idiolektiese verskeidenheid.

Spreektaal vloei spontaan. Wat gesê is, is gesê. Jy kan daaroor nadink, maar niks daaraan verander nie.

Deesdae lyk skryftaal ál meer op spreektaal. Ons skryf vinniger, gebruik informeler konstruksies, laat woorde weg, kort af.

Maar as skryf jou werk is, is dit anders as praat. Dis nie aangebore nie.

Hoe dit werk, moet aan kinders eers min of meer verduidelik word.

Die skryftaal parasiteer op die gesproke taal, ja, maar dit bly kunsmatig.

En juis daarom – omdat dit ’n kuns is, en een van die mens se grootste prestasies – is dit ’n vaardigheid wat beskerming verdien.

En oefening.

  • Luther versamel woorde.
Meer oor:  Skryf  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.