Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skryf Paulus dan ook oor ons regering?
Isak Burger

Die regerende party se skandes, onbevoegdheid en korrupsie kom die laaste maande al hoe meer aan die lig.

Daaroor berig iedere koerant, radio- en TV nuusbulletin daagliks.

Is daar enigiets konstruktiefs wat van ’n regering verwag kan word wat ons s’n wel nakom? Waarin kan hulle nóg faal? Watter leiers in die regerende party se hande is nog skoon?

Soos baie Suid-Afrikaners kan ek kwalik verder sluk aan die ongeërgdheid, arrogansie, verval, korrupsie en afwesigheid van moraliteit, waardes en beginsels.

Moet ons – ook as Christene (wat die grootste deel van die bevolking uitmaak) – so ’n mislukkende, korrupte regering maar net aanvaar, hoop op ’n demokratiese verandering en daarby berus dat hulle die land willens en wetens ten gronde laat gaan? Dít terwyl diegene wat die meeste hieronder ly, die armes is?

Wat kan individuele gelowiges hieraan doen?

Ja, ons kan die burgerlike organisasies wat probeer om die regering verantwoordbaar te hou, ondersteun. En ja, dis goed en mooi om betrokke te raak op plaaslike vlak, waar munisipaliteite hul verantwoordelikhede grootliks versaak.

Ons kan maatskaplike hulp verleen waar ons kan – soos wat talle gemeentes steeds doen.

Ons kan maatskaplike hulp verleen waar ons kan – soos wat talle gemeentes steeds doen.

Tog is dit skreiend dat burgers moet instaan vir munisipaliteite (aan wie hulle munisipale belasting betaal) se onvermoë en laksheid om hul basiese verantwoordelikhede na te kom.

Ek worstel al hoe meer met die vraag of die onderwerping aan die owerheid waarvan Paulus in Rom. 13:1-7 praat, ongekwalifiseerd en onvoorwaardelik van toepassing is in ons Suid-Afrikaanse konteks met ’n regering wat basies in alles gefaal het wat God van ’n regering verwag.

Hoewel die destydse Romeinse regering heidene was, het hulle grootliks regverdig en goed regeer. In teenstelling met die Suid-Afrikaanse regering, wat nie eens bestaande infrastruktuur in stand kan hou nie, staan daar immers vandag nog talle konstruksies en paaie wat 2 000 jaar gelede deur die Romeinse Ryk gebou is.

Ek wonder reeds geruime tyd oor die vraag: Wat word van Christen-burgers in ’n land soos ons s’n verwag?

Natuurlik moet ons vir die regering bid. Die Bybel sê so. Ons kan sekerlik ook bid vir die terminering van die huidige bewind. Daarvan is daar tog talle voorbeelde in die Bybel en die geskiedenis.

Voor 1994 het (minstens ’n deel) van die kerke in Suid-Afrika aksies van stapel gestuur wat meegewerk het om druk op die vorige bewind uit te oefen. Met die verergerende, korrupte en vervalle toestand in ons land kan kerke die toedrag van sake net nie langer passief aanvaar nie.

Dit help ook nie om net aan te hou kritiseer nie. Die krisis is groot genoeg dat kerkleiers en -forums dringend koppe bymekaar moet sit.

Wat verwag God van Sy Kerk terwyl die geklaag van die armes en uitgebuites in Sy ore weerklink?

  • Dr. Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.