Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skrywer en leser soos deler, steler
Madré Marais
Madré Marais

Beskou ’n mens skryf as die perfekte misdaad, maak dit van elke leser ’n niksvermoedende, dog gewillige, medepligtige.

Ook die dinamiek van dié verhouding is heerlik verwikkeld. Die een kan nie sonder die ander nie en namate elkeen sy rol uitspeel, is skrywer en leser ewe in die duister en nuuskierig oor wat van die woorde gaan word waarmee hulle besig is.

Jare gelede lees ek in ’n ponie-avontuurboek hoe ’n karakter verklaar: “Darling­ (of iets dergeliks), these hands have done everything but murder.”

Dis ’n half terloopse opmerking wat sekerlik bloot bedoel is om die aard van ’n swerwende karakter se leefwyse te skets. Tog bevat dit ’n lieflike stuk terg.

Al het ek ’n idee uit watter reeks die boek is en sal ek dit moontlik met ’n bietjie moeite kan opspoor om my die konteks van die opmerking te herinner, het ek nog nooit so ver gekom nie. Dalk omdat ek weet ek sal dit heel waarskynlik nie vind op dieselfde rak waar ek dit vir die eerste keer gekry het nie.

Daardie medepligtigheid as leser kom nie sonder sy sopie sentiment nie. Hoe dit ook al sy, dié leser het ’n skynbaar vlugtige sinnetjie gegaps en dra dit as deel van ’n immergroeiende buit saam.

Dan is daar die ander kant van die munt. Enigeen wat skeppend met woorde omgaan, sal waardering hê vir die “pleging” wat dit behels. Dit maak geen verskil of jy met feite werk of fiksie versin nie. Om te skryf is om te skep en om enigiets te skryf wat iets beteken, stel soms verrassende eise. Alles, absoluut alles, voel dit soms, behalwe moord.

Om te skryf is om te skep en om enigiets te skryf wat iets beteken, stel soms verrassende eise. Alles, absoluut alles, voel dit soms, behalwe moord.

Soms word selfs dit gedoen, kan ’n mens seker redeneer, wanneer die spreekwoordelike lieflinge – einste daardie darlings – nekomgedraai moet word. Dis nou die woordskepsels, gebeure en beelde wat jy liefderik in die lewe geroep het, vertroetel het en waarop jy so trots is dat jy blind is vir hul tekortkominge. In die meeste gevalle is jou grootste liefling jou grootste hebbelikheid en vir niks anders kan jy so blind wees nie.

En die verwikkelde verhouding tussen skrywer en leser kan ook konflik inhou. Medepligtiges tel dikwels stry op. ’n Mens wonder byvoorbeeld: Sodra die woordgoedere van hande verwissel, gee dit die skrywer ’n alibi? Wat die leser daar raaklees, is soms nie wat die skrywer meen hy geskryf het nie – en was hy nie immers op ’n heel ander plek toe die leser dié betekenis geskep het nie?

Tog verbeel ek my liewer ’n uitpak en bewondering van die gedeelde skat. Geestige vertelling en geselsies oor wat daardie woorde toe wel gedoen het. Dit word ’n gedeelde ontdekking van dit wat skrywer en leser saam-saam kon bymekaarmaak. Ons sal ons bly skuldig maak, want dit wat die een die ander kan wys, is telkens die waagstuk werd.

  • Marais, ’n Sentraal24-redaksielid, se kortverhaalbundel Luistervink het onlangs verskyn.
Meer oor:  Skryf  |  Boeke  |  Leser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.