Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skrywerspryse en woelgeeste met brose ego's

Die onlangse polemiek rondom die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs maak nogal interessante leesstof, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Kort nadat dié beurs, met prysgeld van R430 000, aan die skrywer Valda Jansen toegeken is, het die woorde behoorlik gevlieg.

Heindrich Wyngaard het op 26 November 2019 in ’n artikel (“Miskien is dit tog goed”: Rabie-Wallace-beurs se aansien deur Valda Jansen as ontvanger gered”) op LitNet opgemerk: “Net toe ’n mens egter begin vrees het dat die beurs sy geloofwaardigheid sal verloor, kom die nuus dat die eer hierdie keer Jansen te beurt val.”

Die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs was van die begin af (2010) in omstredenheid gehul. Toe die beurs aan die wêreldbekende letterkundige en skrywer, André P. Brink, toegeken is, was dit asof daar ’n knuppel in die letterkundige hoenderhok beland het.

Sou Brink nie deur al die jare genoeg geld deur sy publikasies gemaak het om sonder die skrywersbeurs klaar te kom nie...?

Want die riglyne bepaal dat die prys aan iemand toegeken word wat “vry moet wees van die bekommernis(se) om ’n inkomste te genereer”.

Sou Brink nie deur al die jare genoeg geld deur sy publikasies gemaak het om sonder die skrywersbeurs klaar te kom nie, is deur die beswaarmakers geopper.

Daar was selfs gemeen dat die prys eerder aan ’n skrywer vanuit die agtergeblewe Afrikaanse gemeenskappe toegeken moes word.

Die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs is vanjaar aan Valda Jansen toegeken. Foto: Argief

Wyngaard sluit af deur te sê: “Die toekenning van die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-beurs vanjaar aan hierdie begaafde, betrókke, eiesoortige en onopgesmukte woordkunstenaar is dalk die naaste wat die beurskomitee al daaraan gekom het om deur hul besluitneming voldoende erkenning aan Rabie en Wallace se bedoeling daarmee én nalatenskap te gee.”

En net ’n jakkalsdraffie kort agter hom, net om nie deur Wyngaard in die stof agtergelaat te word nie, het die oud-joernalis Jason Lloyd op feitlik dieselfde aambeeld begin hamer.

Sy verskene artikels “Hoe word ontvangers van omstrede Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs gekies?” (4 Desember 2019 op LitNet) en “Beursriglyne te onduidelik” (Son op Sondag 5/01/2020) word terstond geplaas.

Lloyd het dit weer teen die feit dat die riglyne aansoekers in die duister laat omdat dele daarvan te vaag is. Hy vermeld ook dat vorige ontvangers van die beurs – Brink, SJ Naude, Willem Anker, Ronelda Kamfer en Nathan Trantaal – nie opkomende en glad nie nuwe stemme was nie.

Prof. Steward van Wyk van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland en voorsitter van die komitee wat die beurs administreer, het die twee here op dieselfde wyse hanteer as wat Damian de Allende met sy teenstanders doen: met ’n systap na links en ’n afstamp na regs voordat hy reguit vorentoe storm.

Hy beskou hul skrywes as “kwaadwillig” en gevul met “drogredenasies”.

Die laaste skoot het beslis nog lank nie geklap nie.

Hierdie polemiek herinner sterk daaraan dat daar nog altyd maar omstredenheid rondom die erkenning van en pryse aan kreatiewe medewerkers op ons Afrikaanse woordakker in hierdie land was.

Die stryd om die Hertzogprys

Veral die Hertzogprys is al baie deur ontvangers as ’n “wapen” gebruik om hul standpunte teenoor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (die Akademie) te stel.

In 1934 het die Akademie self ontevredenheid veroorsaak met die Hertzogprys vir Poësie toe Totius, (Passieblomme), WEG Louw (Die ryke dwaas) en C. Louis Leipoldt (Skoonheidstroos) die benoemdes was.

Die letterkunde-kommissie het bepaal dat Louw die wenner is, maar die Akademie het die prys egter aan al drie benoemdes toegeken met die opdrag om die prysgeld eweredig te verdeel.

Leipoldt ontvang in 1944 die Hertzogprys vir sy dramas Die heks (1923) en Die laaste aand (1930). Hy weier dit aanvanklik, maar verander op aandrang van sy vriend, Markus Viljoen, van mening en stem selfs in tot ’n klein oorhandigingsgeleentheid.

Skrywers is sensitiewe wesens en wil dikwels hê die aandag moet op hulle alleen wees, veral met die toekenning van letterkundepryse.

In sy toespraak het prof. D.B. Bosman na “die vereffening van ’n ou skuld” verwys. In sy toespraak het Leipoldt die Akademie en die NG Kerk behoorlik sleggesê: die kerk omdat hy sy sendeling-pa, Christian F. Leipoldt so stief behandel het, en die Akademie omdat die pryse so láát in sy lewe aan hom toegeken is.

Skrywers is sensitiewe wesens en wil dikwels hê die aandag moet op hulle alleen wees, veral met die toekenning van letterkundepryse.

So weier CJ Langenhoven (Skaduwees van Nasaret) in 1927 die Hertzogprys omdat hy dit met Jochem van Bruggen (Ampie: Die meisiekind) en met Sangiro, AA Pienaar, (Diamantkoors en Twee fortuinsoekers) moes deel.

NP van Wyk Louw, ’n viermalige wenner, het in 1937 in sy jeugdige voortvarendheid geweier om die Hertzogprys vir Alleenspraak te ontvang omdat hy dit met ID du Plessis (Vreemde liefde en Ballades) moes deel.

Louw se argument was dat dit ’n klap in die gesig was omdat hy as “vernuwer” die prys met ’n veel ouer digter moes deel.

Die gevierde digter en dramaturg Adam Small. Foto: Argief

Breyten Breytenbach het die Hertzogprys vir yk (1984), van die hand gewys. Tydens die ontvangs van die Hertzogprys vir Poësie in 2008 het hy opnuut gepleit dat Adam Small dié gesogste prys vir Kanna hy ko’ hystoe moet kry.

Brink het dit al “die grootste enkele prestasie in Afrikaans” genoem. En in die Akademie se Eeufeesjaar in 2009 is ’n Eeufees-medalje tot Breytenbach se ergernis aan Small toegeken.

Volgens Breytenbach was die ontsegging van die Hertzog-prys tot in daardie stadium aan Small ’n skreiende skande wat roep om reggestel te word.

Gelukkig is daardie onreg later toe wel reggestel en is die Hertzogprys vir sy volledige oeuvre in 2012 aan Small toegeken.

Die meeste van ons sal dink dat al dié beswaarmakers maar eintlik net hul smoele moes gehou het en met waardigheid weggestap het.

Maar gegewe die wispelturigheid van skrywers en kunstenaarstemperamente, sal die toekenning van letterkundige pryse en skrywersbeurse altyd met omstredenheid gepaardgaan. Ons werk immers met mense en boonop is skrywers sensitiewe en kreatiewe woelgeeste met brose ego’s!

* Bronne: JC Kannemeyer: Leipoldt: ’n Lewensverhaal (1999); Wikipedia: Akademiepryse en Wikipedia: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.