Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuif Afrikaans na die kombuis

Net voor die draai van die jaar, toe die konstitusionele hof uitspraak gelewer het dat die Universiteit van die Vrystaat se onderrigtaal voortaan net Engels is, het ek op die Sweedse platteland by vriende tuisgegaan.

Ons gasheer – ’n bibliofiel en afge­trede man – besit ’n groot biblioteek in sy huis wat hoofsaaklik uit tekste in Sweeds en literatuur wat in Sweeds vertaal is, bestaan: alles van biografieë oor die groot komponiste, wêreldgeskiedenis en -politiek, kerkgeskiedenis en godsdienstige musiek in Zimbabwe tot V.S. Naipaul, Sylvia Plath, J.M. Coetzee en Marlene van Niekerk.

Toe ek die titel in Sweeds Den lilla trumslagarflickan – of The little drummer girl – deur John le Carré op die een boekrak sien, het dit my getref hoe dit moontlik is dat Sweedstaliges hul hele lewe kan leef met net hul eie taal. Hul kosmos is in die Sweedse taal en dit kom voor asof die gemak wat hulle met hul voertaal het, hulle in staat stel om in detail aandag te gee aan onderwerpe wat verder strek as die bestaan en welsyn van die taal wat hulle praat.

Ons is anders. In Suid-Afrika praat, skryf en lees ons in Afrikaans terwyl ons bewus is – en met tye erg bewus is – van die direkte of indirekte politieke stelling wat dit maak om in Afrikaans te leef.

Om in Afrikaans te leef, is al sedert die ontstaan van die taal inherent balhorig en rebels.

Om in Afrikaans te leef, is al sedert die ontstaan van die taal inherent balhorig en rebels.

Een voorbeeld hiervan wat ek graag volg is die tydskrif Ons klyntji, wat tydens die eerste Afrikaanse taalkongres in die Paarl in 1896 gestig is. Hierdie publikasie het sy oorsprong in ’n tyd waarin ’n groep mense hulself toegewy het om Afrikaans as amptelike taal te vestig. Ons klyntji is ook die eerste tydskrif wat stukke in Afrikaans publiseer het soos mense die taal in hul daaglikse lewe gepraat het.

Die tydskrif het doodgeloop tydens die Anglo-Boereoorlog, is vir ’n ruk in die 1940’s en 1950’s hervat en in 1996 het Koos Kombuis dit weer lewend laat herleef. Vandag is Toast Coetzer en Erns Grundling aan die stuur van hierdie taalskat en ’n aanlyn weergawe daarvan is ook beskikbaar. Die tydskrif se inhoud is uitdagend en ’n blik op die lewens van vandag se verskeie Afrikaanssprekendes.

Amper elke betekenisvolle aksie wat in Afrikaans uitgevoer word, is ’n aksie van ’n persoon wat ’n bewussyn het van ’n samesyn tussen mense en ’n saak wat groter is as net een mens. Hierdie saak bring die tydlyne en unieke stories van ’n diverse en kosbare groep mense in die smeltkroes van Suider-Afrika bymekaar.

Ons probleem is dat ons dink dat die politiek van ons taal ons verhinder om in Afrikaans aandag te gee aan onderwerpe wat strek buite net die voortbestaan en welsyn van ons taal. En dat hierdie sogenaamde verhindering ook daartoe sal lei dat ’n vakkundige of akademiese instandhouding en evolusie van Afrikaans nie sal plaasvind nie. Maar die manier waarop Afrikaans gevorm en hervorm word sedert minstens die 1800’s is ’n bewys dat die taal leef. Die lewenstydlyn van ons taal strek soveel verder terug as net 1896 of 1948 of 1994 of 2017.

Ons algemene verwagting van hoe ons taal – veral akademiese en vakkundige Afrikaans – moet voortleef is steeds gegrond op die taalverwagtinge en -kriteria van die middel 20ste eeuse Afrikanernasionalisme. Dit is tyd om op te hou vashou aan die tradisionele Afrikaanse universiteite van ons verlede en om doelbewus ons Afrikaanse rebelsheid en balhorigheid elders te gaan uitleef.

Kom ons skuif die aksie van die eetkamer na die kombuis.

  • Kok is ’n politieke wetenskaplike aan Unisa.
Meer oor:  Alida Kok  |  Universiteit  |  Afrikaans  |  Uv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.