Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuif die ego’s nou eenkant toe

Suid-Afrika betree op Maandag 1 Junie ’n nuwe era in die stryd teen die Covid-19-pandemie wanneer vlak 3 van die inperking begin. Dit kan beskou word as vordering, maar hou vele risiko’s in wat sake kan vererger.

Op vlak 3 word van die beperkings op die ekonomie opgehef, maar dele sal gesluit bly. Daar is veral ook kommer oor die beperkte opening van skole.

Ouers vrees dat hul kinders blootgestel sal word aan die virus, terwyl vakbonde vir die veiligheid van hul lede vrees. Die kommer is geregverdig.

In dié stadium is dit net kinders in gr. 7 en 12 wat toegelaat word om na die skoolbanke terug te keer, terwyl van alle onderwysers verwag word om hulle vir diens aan te meld.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand gewaarsku dat die land nou ’n kritieke fase in die stryd teen die pandemie betree. Die verwagting is dat die pandemie in die volgende maande sal vererger, met talle meer infeksies en sterftes.

Die uitbreking sal sy piek na verwagting in Augustus en September bereik. En kenners meen dat ’n entstof eers volgende jaar beskikbaar sal wees.

Gewone burgers se benadering tot die virus en die maatreëls om dit te bekamp, sal dus deurslaggewend wees vir die land se sukses om die gepaardgaande uitdagings te bestuur.

Ramaphosa het Sondagaand hierop gesinspeel toe hy gesê het “dit is nou in jul (die burgers se) hande,” met verwysing na ’n soortgelyke opmerking wat oudpres. Nelson Mandela met die oorgang van apartheid na die demokrasie gemaak het.

Baie Suid-Afrikaners het tot dusver hul kant gebring en hul samewerking in die stryd teen die virus gegee. Maar terselfdertyd het baie ander nie.

Baie Suid-Afrikaners het tot dusver hul kant gebring en hul samewerking in die stryd teen die virus gegee. Maar terselfdertyd het baie ander nie.

Ons kan veral beter vaar met die handhaaf van ’n gesonde afstand en deur maskers in die openbaar te dra. Met hierdie tipe uitdaging is dit altyd belangrik om die basiese dinge reg te doen, en in die stryd teen die virus is niks meer basies as die hou van ’n gesonde afstand, om jou hande gereeld te was en maskers te dra nie.

Die regering kan ook help deur nie so sensitief vir kritiek te wees nie. Hier verwys ek spesifiek na die waarnemende direkteur-generaal van gesondheid, dr. Anban Pillay, se versoek dat prof. Glenda Gray, een van die regering se wetenskaplike raadgewers, vir haar kritiese opmerkings oor die negatiewe uitwerking van die regeringsbeleid oor die inperking ondersoek word.

Pillay se versoek het in baie kringe, veral in die geledere van Gray se kollegas, skerp onder skoot gekom.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het probeer om genuanseerd op die hele kwessie te reageer, maar het nie spesifiek op Pillay se versoek gereageer nie. Die hele petalje is nietemin ’n onverkwiklikheid waarsonder die stryd teen die pandemie kan klaarkom.

Ramaphosa het toegegee dat daar verskille sal wees, onder meer ook tussen die regering en sy raadgewers, oor hoe die pandemie hanteer moet word.

Hy het nie spesifiek na die Gray-geval verwys nie, maar daar kan afgelei word dat dit inderdaad is waarop hy gesin­speel het. Hopelik bring dit ’n einde aan die onverkwiklikheid en kan almal weer konsentreer op dit wat hulle betaal word om te doen.

In Amerika skroom pres. Donald Trump nie om hom slimmer as die wetenskaplikes te hou nie. Hy is dwars en inmengerig en skeel hom min of glad nie aan die skade wat hy aanrig nie.

Suid-Afrika is nie Amerika nie, en ons politici en amptenare moet dit besef. Wetenskaplikes soos Gray is van die bestes op hul onderskeie vakgebiede. Ons kan eenvoudig nie bekostig om hulle te vervreem op grond van sensitiewe burokratiese ego’s of persoonlike ambisies en magspeletjies nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Vlak 3  |  Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.