Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuif van Steyn se beeld tragies
Leopold Scholtz

Baie mense het helde uit die geskiedenis. Myne is M.T. Steyn, president van die Oranje-Vrystaat van 1896 tot 1902. Hy is my held vanweë die onkreukbaarheid van sy karakter, sy beginselvastheid, sy bereidheid om kompromieë ter wille van vrede aan te gaan, en sy afkeer van enige vorm van ekstremisme.

Daarom is die behandeling wat hy tans van verteenwoordigers van die nuwe Suid-Afrika kry, om dit sagkens te stel, stief. Ek verwys veral na die rol wat die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, prof. Francis Petersen, gespeel het om die Steyn-standbeeld op sy kampus verskuif te kry.

Die politiek korrektes in die “Afrikaans Must Fall”-bendes het natuurlik die intimiderende dryfkrag verskaf waarmee Petersen – geen vriend van Afrikaans nie – die mes diep in die taal kon indruk. En nou word Steyn se standbeeld ook nog verskuif sodat dit nie die arme bloedjies op die kampus kan ontstel nie.

Gelukkig is ’n goeie alternatiewe plek gevind, die Oorlogsmuseum net buite Bloemfontein. Liewer dít as dat die standbeeld met verf of – nog erger – emmers vol ontlasting bemors word.

Steyn se gematigdheid kon duidelik in die jare voor die Anglo-Boereoorlog gesien word. Terwyl Brittanje, voortgestu deur die imperialisme van die minister van kolonies, Joseph Chamberlain, uitdruklik op oorlog afgestuur het, het Steyn voortdurend by sy Transvaalse eweknie, pres. Paul Kruger, aangedring om nie argumente op ’n skinkbord aan die Britte te gee nie.

Dus het hy Kruger deurgaans aangemoedig om insake die uitlanderstemreg – Chamberlain se voorwendsel – toegeeflik te wees. Hy het uiteindelik sy sin gekry, maar te laat, want Kruger se hakke in die sand het ’n momentum geskep wat te groot was, en oorlog het in Oktober 1899 uitgebreek.

Steyn se houding was: “Ek stem nie toe tot ’n oorlog ’n minuut voor dit nie anders kan nie, maar weet dit, as ek die dag sê ‘Oorlog’, dan moet julle nie met my van vrede kom praat nie. Dan moet dit gaan tot die bitter einde.”

Meer as enig­iemand anders was dit Steyn en Hertzog wat die offensief vir die erkenning van die taal gelei het.

So was dit ook. Waar die Transvalers, met inbegrip van Kruger, herhaaldelik gewankel en tot oorgawe geneig was, was dit Steyn wat veral saam met genls. Christiaan de Wet en Koos de la Rey die ruggraat van die Boererepublieke verskaf het. As die republieke na Kruger geluister en al teen die helfte van 1900 oorgegee het, sou die Afrikanervolk, om N.P. van Wyk Louw aan te haal, “van skaamte gesterf het”.

Die moed wat die Afrikaners in 1899-1902 aan die dag gelê het, het ná die vrede die fondament vir die herlewing van hul selfrespek gelê. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog het besef dat dit aan ’n spesifieke saak opgehang moes word.

Dié saak was Afrikaans. Meer as enig­iemand anders was dit Steyn en Hertzog wat die offensief vir die erkenning van die taal gelei het.

Dit het die ruimte geskep vir die rol van duisende onderwysers, predikante, joernaliste en ander om – soos die titel van Jaap Steyn se fenomenale boek lui – te sê: “Ons gaan ’n taal maak.” Afrikaans is van ’n kombuistaal tot ’n volwaardige wetenskapstaal omgeskep, ’n ongelooflike prestasie.

Steyn was geen ekstremis nie, inteendeel. Hy was soepel wat betref taktiek, maar onbuigsaam waar dit sy diepste beginsels betref het. En in die inklusiewe wyse waarop hy Vrystaatse Engelssprekendes behandel het, kon ook die kiem lê vir ’n verligte omgang met die Afrikaanse bruin mense en swart mense, as hy die kans gekry het.

Daarom is dit diep tragies dat ’n groep polities korrekte ekstremiste hom nou van die kampus verban het. En nog meer tragies dat ’n slaprug-rektor hom daarvoor laat inspan het.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.