Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuld is ’n blikskottel wat jou nie los nie
Johan van Wyk

Die enorme skuldlas waarin die onbevoegde, korrupte ANC-regering Suid-Afrika gedompel het en die radelose minister van finansies se wanhopige pogings om te red wat te redde is, het my aan ou Karel Skilpad herinner.

Sy voorliefde vir ’n skilpad gebak in ’n buite-bakoond het hom dié bynaam besorg. Terloops, hoeveel mense weet nog hoe ’n buite-bakoond lyk? Op ’n onlangse reis deur die Noordweste het ek nêrens een gesien nie.

Soos ’n takskerm waar vleis gebraai en kos gekook is, was daar vroeër op elke plaaswerf in die noordwestelike Karoo ’n buite-bakoond van modder en koringkaf. Al was daar later ’n houtstoof en nog later ’n Aga of ’n Esse-antrasietstoof in plaaskombuise het dit in gebruik gebly. Selfs nadat krag op plase beskikbaar geword en elektriese stowe aangeskaf is, is steeds in die buite-bakoond brood gebak.

Boervroue het geglo brood uit hom is lekkerder. Wie sal stry? Nie ék nie.

Een van my blywendste kinderherinneringe is van my ma wat met ’n voorskoot en ’n kappie, gebukkend, een hand voor haar gesig om die ergste hitte af te keer, panne varsgebakte sakbrood van eie, selfgeoeste koring, grofgemaal in ’n perde-meul, uit ’n buite-oond op Sandkraal se werf haal, dit op die geskropte kombuistafel uitskud en ons wegval aan warm snye, dik gesmeer met geel plaasbotter en tuisgemaakte appelkooskonfyt.

Kyk hoe water my mond en traan my oë nou!

Ja, ons het skilpad geëet. As die Franse slakke kan eet, hoekom nie? Duisendmaal eerder ’n skilpad, ryk en saf met ’n geurige Karoobossiesmaak, as ’n slymerige slak.

Ook vir skilpad. Ja, ons het skilpad geëet. As die Franse slakke kan eet, hoekom nie? Duisendmaal eerder ’n skilpad, ryk en saf met ’n geurige Karoobossiesmaak, as ’n slymerige slak. Ons het ook haas geëet, en pou, korhaan, kransduiwe, en – lank voor dit mode geword het – volstruis. Gevlekte volstruisvleis, in die son gedroog op ogiesdraad en in ’n vysel fyngestamp en met die sagte, spierwit, uitgebraaide stertvet van ’n persieskaap gemeng was, soos goue stroop gemeng met sagte vet as soetigheid op jou brood, ’n heerlike smeer.

Ek het al geskeer en gevry voor ek van Marmite en Bovril gehoor het.

Maar wat my eintlik aan ou Karel Skilpad herinner, is nie sy liefde vir skilpad nie, maar teen die agtergrond van Suid-Afrika se ondraaglike, steeds groeiende skuldlas die groot waarheid wat hy telkens as verskoning voorgehou het wanneer hy geld wou leen: “ ’n Manmens het mos maar skuldjies.”

Dit was in die dae toe goedgemanierde mans uit respek teenoor vroue, synde dit as onwelvoeglik in hul geselskap beskou is, nie van ’n bul, ram en hings gepraat het nie, maar van ’n “manbees”, “manskaap” en “manperd”. Ja, so ordentlik was ons.

Skuldjies as jy ’n “manmens” is? Verseker. Maar waarheen Suid-Afrika met hierdie verskriklike skuldlas op pad is? Soos Margaret Thom van George sê: “I don’t know.” Wat ek wel weet, is dat skuld – soos ’n loslappie – ’n bliksem is wat jou nie gaan los as jy hom nie los nie.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.