Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slaan ag op dié drie noodfakkels
Johann Maarman

Drie noodfakkels is in die afgelope week afgeskiet deur persone wat ’n mens gerus kop toe kan vat.

Die eerste fakkel is afgeskiet deur Mike Brown, hoof-indoena van Nedbank, toe hy gemaan het dat Suid-Afrika se tyd én geld opraak om ’n kontantkrisis by staatsondernemings af te weer.

Dis nie bangmaakpraatjies nie, want Eskom is ’n honger monster en kan nie eens meer die rente betaal op die R400 miljard wat die afgelope 12 jaar al aan reddingspakkette aan hom toegestaan is nie.

Brown het na Eskom verwys as die “siek olifant in die kamer” en gesê strukturele hervorming is dringend nodig by die land se kragverskaffer.

Ook Sipho Pityana, president van Business Unity SA, het Eskom se ore so warm geklap dat hy waarskynlik nou nog voëltjies hoor sing.

Pityana het gesê staatsondernemings is tot hul ore in die skuld en om elke keer verbruikers te belas met hemelhoë elektrisiteitsrekenings, kan nog tot ’n werkloosheid-bloedbad lei. En dit nogal in ’n land waar die werkloosheidsyfer reeds op 29% staan.

Ook Sipho Pityana, president van Business Unity SA, het Eskom se ore so warm geklap dat hy waarskynlik nou nog voëltjies hoor sing.

Dan het die laaste (en seker die belangrikste) fakkel gekom van Pieter Labuschagne, emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa, wat verduidelik dat dit glad nie onmoontlik is dat Julius Malema nog president van die land kan word nie.

In sy artikel belig Labuschagne die bevolkingsaanwas en veral die toenemende getal jong mense onder 15 jaar.

Volgens Labuschagne sit ons met ’n “perfekte storm” as bogenoemde in kombinasie met die gaping tussen ryk en arm in aanmerking geneem word.

Labuschagne betoog dat ’n groterwordende groep jong mense toenemend radikaal word en die huidige groei van die EFF kan hieraan toegeskryf word.

Ek is dit eens met die professor oor sy bekommernis oor wat na ons aangerol kom, want die goeie vertoning van die EFF in die laaste verkiesing het die ANC duidelik nog nie verwerk nie. Die ANC is op die oomblik gedwee teenoor die EFF en is soos ’n klomp nat hoenders nadat ’n bliksemstraal die hok getref het.

Beteken dit alles dat die EFF die ANC vorentoe gaan onttroon as regerende party?

Vir Cyril Ramaphosa om die land en sy party te red, sal die ANC moet begin om ’n paar liederlikhede vir altyd af te skud. Dinge wat – namate hy hom in die regeerstoele van die land ingewikkel het – soos ou skulpe aan hom vasgesuig het: arrogansie, hebsug, rassistiese onverdraagsaamheid, kader-ontplooiing en die nuk van faksie-vorming.

Beteken dit alles dat die EFF die ANC vorentoe gaan onttroon as regerende party?

O, nee, die ANC sal lap en toesmeer en die hele kasarm van ’n party nog ná 2030 aanmekaar hou. Die ANC het die mag. En die mag is in die politiek verkieslik bo die woestyn, soos Malema uitgevind het. Daarby is die ANC-in-regering ’n groot soustrein-burokrasie en dit sal moeilik wees om hom te ontsetel noudat hy al 25 jaar lank sy sit het.

Ons kan dit nie wegredeneer dat die regeringskoene aan ANC-voete is nie – hoewel hy in die een misbol ná die ander trap.

Maar ek laat eerder toe dat die ANC met al sy foute in nog misbolle trap as wat ’n arrogante vent met ’n rooi oorpak dreig om sy “soldate” op joernaliste los te laat omdat hy ’n gly in van hulle gevang het.

Kan jy jou indink: Malema as president van Suid-Afrika? Oef. Hoekom dink ek nou aan oorlede Koos Prinsloo se boek Die hemel help ons?

Kan die ANC, opposisie en kiesers tog ag slaan op die drie here se noodfakkels en tog vir die EFF se hoof-Rooikappie van die regeringsdeure en sommer van die skoorsteen weghou.

Johann Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Partypolitiek  |  Presidentskap  |  Anc  |  Eff  |  Noodfakkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.