Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slaan ag op dié stille geweld teen kinders

’n Dekade gelede het prof. Rob Nixon van die Princeton-Universiteit vir die eerste keer geskryf oor “stadige geweld” in die konteks van klimaatsverandering. Dit verwys na geweld wat stelselmatig en buite sig plaasvind, of “uitgestelde geweld”, wat oor tyd en ruimte heen versprei en tipies nie regtig as geweld beskou word nie.

Dr Chantell Witten Social Observer

In reaksie daarop wou prof. Thom Davies van die Universiteit van Nottingham weet: “Buite sig van wie?” Davies reken strukturele ongelykhede lei mettertyd tot stadige geweld.

In die konteks van Covid-19 noop prof. Gareth Haysom van die Universiteit van Kaapstad Suid-Afrikaners om te let op die “stadige geweld” wat ontvou met hongerte en voedselnood. Dit is dikwels onsigbaar omdat dit in privaatheid afspeel. Dit bring ’n mens terug na Davies se vraag. Vir wié is die honger en wanvoeding van veral kinders onsigbaar?

Wanvoeding en die gevolge daarvan word al jare lank bestudeer. Navorsing wat van 1955 tot 1970 onder kinders op die Kaapse Vlakte gedoen is, het gewys wanvoeding rem fisieke groei en intellektuele ontwikkeling by kinders. Vandag is wanvoeding steeds ’n probleem in die land.

Die jongste data, ’n nasionale demografiese gesondheidspeiling, dui daarop dat 27% van kinders jonger as vyf jaar oud se groei belemmer word weens wanvoeding. Dis meer as 1,5 miljoen kinders wie se gesondheid en ontwikkeling in die weegskaal is en wat waarskynlik nooit hul volle potensiaal gaan bereik nie.

Terwyl baie lande van dieselfde ekonomiese ontwikkeling probleme met wanvoeding kon oplos, het die situasie plaaslik oor die jare heen verswak. Suid-Afrika het hoë vlakke van verskeie vorme van wanvoeding by kinders wat lei tot die belemmering van groei, vetsug en tekorte aan mikronutriënte, waaronder spesifiek vitamien A.

Die reg op toegang tot voldoende kos word uitgestippel in art. 26 en 27 van die Grondwet en kinders se reg op toegang tot voldoende voeding word uiteengesit in art. 28. Ingevolge die Handves van Regte het elke burger “die reg op toegang tot voldoende kos, water en maatskaplike sekerheid” en die staat “moet billike wetgewende en ander maatreëls in sy beskikbare hulpbronne gebruik om die regte te volbring”.

Voor Covid-19 was gesondheids- en maatskaplike werkers reeds bewus daarvan dat ’n beduidende aantal Suid-Afrikaners daagliks honger ly. Wanvoeding word goed gedokumenteer en die situasie versleg ongelukkig.

Kinders se situasie kan net verbeter as hulle beter kos en versorging kry. Met stygende kospryse, beperkte hulp vir swanger vroue en moeilike psigososiale omstandighede kan ma’s eenvoudig nie ’n omgewing tot voordeel van hul kinders se gesondheid skep nie.

Hoë vlakke van belemmerde groei en vetsug weerspieël die chroniese situasie wat geskep word deur ’n kombinasie van onvoldoende kos, kos van ’n swak gehalte en swak kindersorg.

Ma’s en individue is dikwels die fokus van ’n swak dieet, maar daar is sistemiese en strukturele hindernisse wat dit vir gesinne onmoontlik maak om toegang te verkry tot voedsame, bekostigbare kos.

Die mate waarin kinders toegang het tot voedsame kos, het oor die jare heen ’n internasionale aanduider geword van menslike en ekonomiese ontwikkeling. Ons onvermoë om in die afgelope 20 jaar vordering te toon op dié gebied, wys dat Suid-Afrika nie kinders of hul reg op toegang tot voedsame kos geprioritiseer het nie.

Die jongste bevindings bevestig dit en gee ons opnuut die kans om dié skending van kinders se regte te staak en om die stadige geweld van wanvoeding te beëindig.

  • Dr. Witten is verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit gesondheidswetenskap.
Meer oor:  Kinders  |  Saterdag Brandpunt  |  Geweld  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.