Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slag van Ulundi beëindig Anglo-Zoeloeoorlog

Ná die verstryking van ’n Britse ultimatum dat die Zoeloes hul militêre stelsel moet prysgee – waaraan die Zoeloekoning Cetshwayo eenvoudig nie kon voldoen nie – het die Anglo-Zoeloeoorlog in Januarie 1879 uitgebreek.

Prof. Fransjohan Pretorius
Prof. Fransjohan PretoriusFoto: DEAAN VIVIER

Dit was deel van lord Carnarvon, Britse minister van kolonies, se skema om Suider-Afrika in ’n federasie te omskep.

Die Britse bevelvoerder in Natal, lord Chelmsford, moes egter ervaar hoe ’n groot gedeelte van sy mag in Januarie by Isandlwana verslaan word. ’n Britse afdeling het by Rorke’s Drift heldhaftig weerstand teen ’n oormag Zoeloes gebied, maar Britse selfvertroue is weer geskaad met die dood van prins Louis Napoleon op 1 Junie. Dit was dus noodsaaklik dat Chelmsford die oorlog gou en suksesvol beëindig. Daarvoor moes hy Cetshwayo se hoofkraal, Ulundi, inneem.

Slegte nuus het Chelmsford kort ná Louis Napoleon se dood bereik: Die Britse regering het ongeduldig geraak oor die onkoste van die oorlog en sir Garnet Wolseley gestuur om Chelmsford te vervang. Chelms­ford was egter vasbeslote om die oorlog te beëindig voordat Wolseley opdaag.

Hoewel Cetshwayo probeer vrede maak het, het Chelmsford se mag alle teenstand uit die pad gevee en die omgewing van Ulundi op 3 Julie bereik. Desperaat het Cetshwayo teenoor sy raadgewers opgemerk: “As die wit man aanhou opruk, al het baie van hulle gesneuwel, en as so baie van ons manne al omgekom het, wat kan hulle keer?”

Die antwoord was: niks nie.

Die oggend van 4 Julie het Chelmsford die Wit Umfolozirivier oorgesteek en sy mag in ’n vierkant opgestel, vier linies dig, met kolonel sir Redvers Buller se 900 ruiters vooraan.

Hulle het in vierkant-formaat na Ulundi opgeruk, sowat 4 200 wit en 1 000 swart soldate met 12 kanonne en twee masjiengewere. Hulle kon die Zoeloemag sien vorm, met sy tradisionele kop vir die hoofaanval en horings om die Britte te omsingel. Sowat 15 000 Zoeloes, met tussen 5 000 en 8 000 in reserwe, sou aan die geveg deelneem.

Teen 08:30 het die Zoeloes uit die lang gras opgestaan en in ’n halfmaan vorentoe beweeg, terwyl hulle hul voete gestamp en hul assegaaie teen die skildvelle laat kletter het.

Teen 08:30 het die Zoeloes uit die lang gras opgestaan en in ’n halfmaan vorentoe beweeg, terwyl hulle hul voete gestamp en hul assegaaie teen die skildvelle laat kletter het.

Met ondersteuning van hul kanonne het die voorste twee linies van die Britse vierkant op die grond gekniel en in salvo’s met hul gewere begin vuur. Daar word vertel dat die Zoeloes nie kanonvuur geken het nie en dat baie geglo het dat soldate uit die skrapnel kom. Regiment ná regiment het met assegaai en skild vorentoe gebeur, net om voor die voet afgemaai te word.

Ná ’n halfuur het Chelmsford sy ruiters losgelaat. Paniekerig het die Zoeloekrygers die hasepad gekies – en Ulundi was in Chelmsford se hande. Sy naam is in ere herstel.

Met sy hoofkraal aan die brand het Cetshwayo, wat deurentyd oor die verloop van die geveg ingelig is, gevlug. Hy is spoedig aangekeer en as krygsgevangene na Kaapstad gestuur, maar is vrygelaat en het beheer oor ’n gedeelte van sy ou koninkryk ontvang.

Ná verdere administratiewe stappe is Zoeloeland in 1897 by die Britse kolonie Natal ingelyf.

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
Meer oor:  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.