Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slag wat Brittanje sou red

“Never in the field of human conflict was so much owed by so many to so few” was die beroemde woorde van die Britse premier Winston Churchill. Tagtig jaar ná die epogmakende Slag om Brittanje gedurende die Tweede Wêreldoorlog, staan Churchill se woorde steeds op ’n indrukwekkende gedenkteken aan die Teemsrivier in Londen ter ere van die Britse Koninklike Lugmag (RAF), skryf Gustav Hendrich. 

Vanjaar word hul durf en daad op luisterryke wyse op 15 September met verbyvlugte van lugmag-eskaders in die Brittanje herdenk. Historici is dit eens dat die magiese stryd “beslissend” was, nie net vir die behoud van Brittanje nie, maar ook die Westerse demokrasie. ’n Beslissende strydDie Britse lugmaarskalk Robert Saundby het dié konflik beskou as “one in which a contrary event would have essentially varied the drama of the world in all its subsequent stages”.

Die stormloop: Met die lui van sirenes moes die Britse vlieëniers vanuit hul kwartiere op hul vliegtuie afstorm. ’n Vlugluitenant het vertel dat die “paniek van die stormloop” uitputtend was. Foto: warbirdsnews.com

Saundby het verwys na die seeslae van sir Francis Drake teen die Spaanse armada in 1588 en lord Nelson teen die Franse vloot by Trafalgar in 1805, en dat vergeleke met laasgenoemde Brittanje in die somer van 1940 opnuut alleen gestaan het teen ’n kontinentale Europa onder Nazi-heerskappy. Hierdie keer sou dit egter nie die Britse vloot wees nie, maar die vlieëniers van die Britse lugmag wat die spit moes afbyt.

Oorkant die Engelse Kanaal, wat oor eeue heen Brittanje teen invallers beskerm het, het daar in Frankryk ’n onblusbare veggees onder die Duitse besetters geheers en is daar – voorlopig – gereed gemaak om die Engelse in die lug die stryd aan te sê.

Ofskoon dit uitsluitlik ’n lugoorlog was, was die historikus Robert Boothby van mening dat dit “perhaps the most crucial battle fought in our history” was en dat “during the next eight months the fate, not only of this country, but of America and, indeed, the world, depended upon the skill, courage and endurance of a thousand British fighter pilots”.

Brittanje staan alleenNá die Britse ontruiming by Duinkerken en val van Frankryk het twee hoë offisiere van die Duitse lugmag op die sanderige strand gestap en met hul stewels in die brokstukke en oorblyfsels van ’n verslane leer gekrap.

Nadat hulle by ’n leë wynbottelkrat uitgekom het, het genl. Hoffman von Waldau ’n bottel in die sand gedruk en skertsend gesê: “Hier is die Britse hoop in die oorlog; en dié is hul grafstene!” Maar sy mede-offisier, genl. Erhard Milch, het sy kop geskud: “Hulle is nog nie begrawe nie . . . ons het geen tyd om te verspil nie.”

Met hul oorwinningsvreugde was daar geen onmiddellike invalspoging nie. Die Duitse lugmaghoof Hermann Göring het gespog dat hy die Britte eiehandig met sy Luftwaffe kon onderwerp. Op aandrang van Milch om ’n land-inval deur die geheime Operasie Seeleeu van stapel te stuur, het Göring met Adolf Hitler vergader en vir snelle optrede gepleit. In ’n onbekommerde trant het Hitler beveel: “Doen niks!”

Hitler het die Engelse, of Angel-Saksers, geensins as vyand beskou nie, en was oortuig dat die Britte tot hul sinne sou kom en by hom aansluit vir ’n toekomstige stryd teen die Russiese Bolsjewisme. Hy het gewag gemaak van ’n vredeskikking wat volgens hom wedersyds gunstig sou wees. Milch was verbyster oor die broodnodige tyd wat verspil is sodat die Britte hul kusversterkings kon uitbrei.

Op aandrang van Milch om ’n land-inval deur die geheime Operasie Seeleeu van stapel te stuur, het Göring met Adolf Hitler vergader en vir snelle optrede gepleit. In ’n onbekommerde trant het Hitler beveel: “Doen niks!”

In Engeland het Churchill onverbiddelik gestaan en die paai-taktiek van Hitler se voorstel is summier verwerp. Churchill se hardnekkige standpunt teen die vergrype van Nazi-tirannie in sy beroemde toespraak in die Britse parlement – “We shall fight on the beaches . . . we shall never surrender!” – het weerklank gevind by die Britse publiek.

Die stormloopOp 10 Julie 1940 het die Slag om Brittanje begin met ’n lugoffensief teen Britse skeepskonvooie in die Engelse Kanaal. Talle voorraadskepe is gesink en hewige luggevegte het gewoed, veral rondom die hawestad Dover.

Langs die wit hange van Dover het ’n skouspelagtige toneel van luggevegte veral teen die Duitse Stuka-valduikbomwerpers, wat berug was vir hul vernietiging in Europa, plaasgevind.

By “Hellfire Corner” het die Britse vlieëniers vernuftig die stadiger Stukas oorweldig en swaar verliese toegedien.

Ná weke van luggevegte aan die Engelse suidooskus was die Britse lugmag met hul Hurricane- en gevierde Spitfire-vegvliegtuie steeds onoorwonne. Die Duitse vlieëniers het pessimisties begin raak. Hulle tot die besef gekom dat hul vliegtuie nie werklik ontwerp is vir ’n onafhanklike lugoorlog sonder enige bystand van die weermag of vloot nie.

Die Duitse bomwerpers Heinkel 111 en Dornier Do17 was middelafstand-bomwerpers, onderbewapen en kon slegs ’n halfuur oor die gevegsone bly voordat hulle moes terugkeer na hul basisse in Frankryk.

Om sake te vererger kon die Messerschmitt BF109-vegvliegtuig slegs ’n beperkte afstand dek en het dikwels op die terugtog weens brandstoftekort in die Engelse Kanaal neergestort.

Volgens die Duitse vegvlieënier, Adolf Galland, was juis dié beperkte reikwydte van hul vliegtuie die grootste struikelblok vir die Duitsers.

Daarteenoor was die Britse vlieëniers reeds voor die uitbreek van die oorlog goed opgelei en het ’n doeltreffende radarstelsel met vroueoperateurs wat enige vyandelike vliegtuie se bewegings, hoogte en getalsterkte kon vasstel. Voorts is kode-ontsyfering van die Duitsers se kommunikasielyne met sukses uitgevoer sodat die Britte grootliks kon uitpluis wat hul aanvalsplanne was.

Met die handjievol Britse vlieëniers het die tegnologie handig te pas gekom en kon hulle selfs tussen luggevegte ’n uiltjie knip. Sir Hugh Dowding, hoof-vegvliegtuigkommandant van Fighter Command, kon dus planmatig optree.

Nadat Göring sy aanvalle na Britse radar-installasies en vliegvelde verskuif het, het dit byna gedreig om Fighter Command ’n uitklophou toe te dien. Met die lui van sirenes moes die Britse vlieëniers uit hul kwartiere op hul vliegtuie afstorm.

Vlugluitenant Peter Brothers van RAF 32-eskader het vertel dat die “paniek van die stormloop” uitputtend was, en hulle alreeds om halfvier in die oggend gereed was om die Duitsers as voorstelinie-vegters aan te durf. Vlugkaptein Peter Matthews het vertel “we were all pretty scared, really.

Alles van belang, waaronder vasgemeerde skepe, petroleumopslagplekke, pakhuise, gasaanlegte en brûe oor die Teemsrivier is vernietig.

“I remember one attack we made on a big formation, we went in head-on – we were very succesful and must have shot down three or four. Our Hurricanes were not as fast as the Germans, but we were more manoeuvrable and you could get badly shot up and still be safe.”

Vir die Britte en Duitsers het die stryd in ’n uitputtingsoorlog ontaard, maar teen die ervare Britse vlieëniers en hul radar is die Duitsers algaande op die agtervoet geplaas.

Wêreld aan die brandDie mislukte aanvalle teen die radarstasies en vliegvelde, wat grootliks ongeskonde daarvan afgekom het en vinnig herstel is, het daartoe gelei dat Göring sy taktiek moes verander. Hitler, wat nog gewag het op ’n vredeskikking, het die bombardering van Londen streng verbied.

Maar nadat twee patrollerende Luftwaffe-bomwerpers oor Londen egter deur lugafweervuur getref is en uit nouernood hul bomme gewerp het, het die Britte ’n vergeldingsaanval teen Berlyn geloods. Die skade was minimaal, maar vir Hitler was dit ’n skok en hy het toe opdrag vir ’n massiewe lugoffensief teen Londen.

Op 7 September 1940 was meer as 300 Duitse bomwerpers onderweg na die Britse hoofstad vir ’n grootskaalse bombardement, terwyl die Britse radar beweer het die aanvalle was steeds gerig teen die vliegvelde.

Toe die eerste bomme op die Woolwich-arsenaal, gevolg deur die Victoria en Albert-dokke en hawegebiede geval het, is die ganse Londen gehul in ’n “hellish mass of smoke and flame soaring into the afternoon sky”.

Alles van belang, waaronder vasgemeerde skepe, petroleumopslagplekke, pakhuise, gasaanlegte en brûe oor die Teemsrivier is vernietig.

Een brandweerbeampte wat om meer waterpompe gepleit het, het uitgeroep: “The whole bloody world is on fire.” Nagenoeg 2 000 Londenaars het hul lewens verloor, met veral Londen se Ooseinde wat hewige skade gelei het en waar duisende dakloos gelaat is.

Die gedenkteken vir die Slag om Brittanje aan die Teemsrivier in Londen. Foto: Wiki Commons

Slag om Brittanje-dagAs desperate poging om die Britte se wil en weerstand te verbreek, het die Luftwaffe op 15 September 1940 ’n alles-of-niks-aanval teen Londen geloods.

Hierdie keer het die Britse lugmag egter vir hulle gewag, wat tot die hewigste konfrontasie gelei het waarin die Spitfires en Hurricanes met mening teruggeveg en die Duitse bomwerpers swaar verliese toegedien het.

Die Britse vlieënier-offisier R.G.A. Barclay het vertel dat weens die Duitsers se swak vegvliegtuig-verdediging, hy daarin kon slaag om die massa Dornier-formasies op te breek, sodat die bomwerpers hul bomme plotseling laat val en weggevlug het. Barclay het dit toegeskryf aan die Duitsers se onervarenheid.

In die epiese luggeveg is 57 Duitse teenoor 26 Britse vliegtuie afgeskiet, en 65 Duitse vlieëniers is gevange geneem. Die Britse lugmag het geseëvier. Galland het erken dat die Luftwaffe nie meer Engeland kon dwing om oor te gee slegs deur lugaanvalle nie.

Göring was verpletter, met die gevolg dat Hitler Operasie Seeleeu onbepaald uitgestel het.

Hitler het nou sy blik ooswaarts gewend vir sy beplande inval in Rusland in middel 1941, terwyl die Luftwaffe ’n 76 nagte lange ’n lugoffensief – bekend as die Blitz –teen die belangrikste Engelse stede gevoer het wat terreur en verwoesting sou saai.

By terugskouing was 15 September 1940 ’n beslissende keerpunt; ’n klinkende oorwinning vir die Britse vlieëniers wat vir ewig in die annale van oorlogvoering opgeteken is, en vandag met Slag om Brittanje-dag herdenk word.

  • Dr. Hendrich is ’n historikus.
Meer oor:  Brittanje  |  Geskiedenis  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.