Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slaggate: Tyd dat ons hooggeplaastes dagvaar

Die mense van ons land is keelvol, sat, gatvol vir slaggate en swak dienslewering. Wannie Carstens het drie voorstelle vir hoe ons kan saamstaan om dinge te verander.

Boere, taxibase en sakelui van Sechaba sa Ficksburg het verlede week paaie hier versper sodat die regering kan kennis neem van die haglike toestande. Hier wys Stefan Pretorius, ’n boer van Hammonia, hoe sleg dit op pad na sy plaas lyk. Foto: Mlungisi Louw

Ek woon in een van daardie dorpe waar ’n mens uiters versigtig moet wees as jy na die sentrale sakedeel sou wou ry. Selfs as jy op pad na die sentrale sakedeel deur die woonbuurte ry.

Hier moet jy regtig “wakker” wees omdat die slaggate soos hare op ’n hond se rug is. En nuwes kom maklik by. Jy durf nie jou oë ’n oomblik van die pad haal of te na aan iemand voor jou ry nie, want kort voor lank gaan ’n slaggat jou lot wees. Met die gevolglike skade.

Die mense is keelvol, sat, gatvol – hoe ons dit ook al uitdruk.

Dit is nie net die geval in van ons dorpe nie. Maar ook in stede en op provinsiale paaie. Charles Smith skryf op Netwerk24 hoe erg dit in die Vrystaat is. In Ficksburg het die gemeenskap genoeg gehad en die ingang tot die dorp versper. Die mense is keelvol, sat, gatvol – hoe ons dit ook al uitdruk.

Soveel mense skryf ook in koerante of op ander platforms oor hul ervarings van slaggate op provinsiale paaie of in dorpe en stede: Wielsporing wat uit is en ten duurste herstel moet word, stukkende bande, stukkende wielvellings of ongelukke waarin mense gesterf het of ernstig beseer is.

Onlangs het ons gelees van ’n jong onderwyser en die insittendes van ’n ander voertuig wat in ’n ongeluk gesterf het in die Vrystaat toe albei voertuie vir slaggate uitswaai. Drie lewens is onnodig weg. Dinge is dus sleg.

Ons is in die moeilikheid

Middagete in Ficksburg word verlede week geopen met gebed om te vra vir ’n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika. Foto: Mlungisi Louw

Covid-19 is al erg genoeg, maar gekombineer met die skandalige verval van infrastruktuur landwyd (slaggate, geboue wat afbrand, geboue wat gestroop word, treine wat weens diefstal van kabels en spoorlyne nie kan ry nie, onkruid wat oorneem in dorpe), swak bestuursgewoontes (minibustaxi’s wat hulle selde aan verkeersreëls steur soos van die res van ons verwag word) en natuurlik korrupsie (wat die geld vir die herstelwerk steel), is die land werklik in ’n swak toestand.

Ons is dus in groot moeilikheid. Ek weet ek sê nie juis iets wat ander nie reeds weet nie, maar ek gee dit ter wille van konteks.

Dit is veral in die noordelike dele van die land die geval. Dit is opvallend dat dit in die Wes-Kaap beter gaan, grotendeels omdat daar beter provinsiale en plaaslike bestuur is. Mense wat uit die Wes-Kaap na die noorde reis, wys so dikwels op die groot teenstelling in die gehalte van paaie.

Die antwoord is betreklik eenvoudig: vrot (merendeels géén) plaaslike bestuur deur onbevoegde kaders.

En noordelinge wat terugkeer na die noorde ná ’n suidelike verblyf, kom dit nog te meer agter en droom van ’n Wes-Kaapse patroon. Waarom kan dit nie by ons ook soos in die Wes-Kaap en in talle Wes-Kaapse stede en dorpe wees nie?

Die antwoord is betreklik eenvoudig: vrot (merendeels géén) plaaslike bestuur deur onbevoegde kaders vir wie dit belangriker is om seker te maak hulle vul maandeliks hul sakke en gee werk aan nog kaders as om die dienste te lewer waarvoor hulle aangestel is.

In ons dorp is dit opvallend dat die meeste poste by die plaaslike owerheid gevul is, maar dan is daar nie fondse oor vir materiaal om die nodige instandhouding te doen (van paaie, geboue, tuine, parke, verf van strate en verkeerstrepe) en dienste (soos watervoorsiening, herstel van lekplekke, vullisverwydering) te lewer nie. Dan is die amptenare mos nie nodig nie, of hoe?

Saam maak ons dinge beter

Slaggate op die pad tussen Brits en Thabazimbi in die noordwes provinsie. Sowat 20 km van dié pad is so vol slaggate. Foto: Verskaf

En probeer nou diens by ’n munisipale kantoor kry – dit is dikwels ’n onmoontlikheid weens onwillige amptenare wat dink hulle bewys jou ’n groot guns as hulle iets sou doen om jou besondere probleem op te los.

Natuurlik is daar ook harde en toegewyde werkers, maar die oorheersende indruk is dat daar min – of teensinnig – in werktyd gewerk word.

Ons het dus probleme. Groot probleme!

Ons is hier en ons moet daar waar ons is, help om dinge beter te maak.

Dit is egter nie vir elkeen wat ongelukkig is beskore om na die Wes-Kaap te verhuis of na die buiteland te emigreer nie.

Die meeste van ons is te lief vir ons land en die mense van ons land en ons streke. Ons is hier en ons moet daar waar ons is, help om dinge beter te maak.

Dit is ’n uitdaging. En een wat ons net sáám moet aanpak.

Lidmate van die NG Kerk Riebeeckstad maak self slaggate reg. Foto: Madli Grobbelaar

Mense van instansies soos AfriForum (wat slaggate in dorpe help herstel – dankie, AfriForum!), South Africa Day (wat help om dorpe weer op te bou deur verhoudings in dorpe te bou en in hierdie proses ook dorpe se infrastruktuur help herstel – dankie, Barend le Grange en jou groep), plaaslike belangegroepe (wat dikwels op eie inisiatief begin om dele van dorpe skoon te maak deur vullis op ruim, of dorpsingange help versorg) verdien ons elkeen se dank en respek. Julle is helde.

Ek lees dat gemeenskappe nou al landwyd begin ingryp om hul eie omgewings beter te maak met allerlei veldtogte: ruim op, neem dienste oor. Koster is ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat gesê het genoeg is nou genoeg. Mense het genoeg gehad en hulle wil nou beheer oorneem.

Maar slaggate (as sigbare teken van verval) verg ’n gekoördineerde aanslag om veral provinsiale en plaaslike owerhede verantwoordbaar te hou.

Mense begin oor grense heen na mekaar uitreik om saam dinge beter te maak. Soos die inklusiewe gemeenskap van Ficksburg wat ook verlede week ’n streep in die sand getrek het.

Dit sal elkeen van ons baat om self hierby betrokke te raak en nie net te kla dat dit so sleg gaan nie. Soos ek onlangs oor die radio gehoor het van iemand wat vertel sy neem ’n swart sak saam as sy met haar hond gaan stap en tel dan die vullis op wat sy teenkom. Dis goed en mooi en ons moet dit doen.

Maar slaggate (as sigbare teken van verval) verg ’n gekoördineerde aanslag om veral provinsiale en plaaslike owerhede verantwoordbaar te hou.

Dagvaar die ministers!

Werknemers vul self slaggate by die Ekapa-myn in Kimberley. Foto: Foto24

Ek het die volgende drie voorstelle in hierdie verband. Ek weet nie of dit regsimplikasies het nie, maar dan kan ons daaroor geadviseer word. Kom ons praat ten minste oor my voorstelle.

• Plaas deur die media druk op die betrokke owerhede (nasionaal, provinsiaal, distrik, plaaslik). Skryf daaroor op sosiale media, ook op die Facebook-blaaie van verantwoordelike amptenare. Plaas foto’s. Skryf briewe, stuur e-posse aan die politieke partye, aan die geteikende politieke leiers – premiers, LUR’s, burgemeesters, ministers (ja, ons het ministers wat hiervan werk moet maak, iets wat kwalik geglo kan word), die staatspresident. Aan enige een wat (moontlik) weens onvermoë, luiheid, verantwoordelik kan wees vir die toestand wat nou die norm geword het. Kom ons gee hulle gas op élke moontlike vlak. Dalk help dit as ons almal gaan toi-toi by die kantore van die amptenare en owerhede. Dit werk tog op ander vlakke, of hoe?

Wannie Carstens

• Dit is tans moontlik om eise vir skade (bande, vellings, wielsporing, ens.) in te stel teen owerhede. Die proses word natuurlik doelbewus administratief uitgerek en kompleks gemaak. En ja, dit neem tyd en kos geld om te prosedeer. Kom ons troef hulle egter. Kom ons kry een regspraktyk op ’n dorp of ’n stad wat namens inwoners sake aanhangig maak. Dan word dit via één struktuur gekanaliseer en sal die invloed soveel groter wees. In Amerika word ’n mens maklik gedagvaar oor alles en nog wat. Kom ons dagvaar daarom die owerhede met ’n gekoördineerde aanslag. Laat ons ophou met die individuele aanpak van eise om skade. Regspraktyke in dorpe en stede kan onderling ooreenkom wie bereid is om die verantwoordelikheid hiervoor op te neem en kommunikeer dit dan aan die gemeenskappe wie die aanmeldpunt gaan wees.

• Dagvaar die verantwoordelike amptenare (ministers, premiers, LUR’s, departementshoofde, ens.) in hul persoonlike hoedanigheid vir skade aan voertuie, vir mediese koste, vir verlies aan lewe. Te maklik kruip die betrokkenes weg agter strukture wat nie werk nie. Maar die mense word betaal (dit is altyd die eerste aksie wat in ’n owerheid gebeur) om hul werk te doen, wat hulle wel nie doen nie. As hulle dus nie hul werk doen nie, dan is hulle mos persoonlik aanspreeklik vir die gevolge wat voortspruit uit hul gebrek aan optrede? As ’n minister of LUR skielik uit sy/haar eie sak ’n paar miljoen rand moet opdok, gaan daar waarskynlik meer verantwoordbaarheid wees.

Dit is my eiertjie oor hierdie saak. Ander kan gerus byvoeg.

Ek het self skade gely weens slaggate en weet van die ongerief en (in my geval) trauma wat dit kan meebring. Dit is tyd om te sê tot hiertoe en nie verder nie. Ons hoef nie so te lewe nie. Daarom moet ons saamstaan om dit te verander.

• Prof. Wannie Carstens is ’n gefrustreerde inwoner van Potchefstroom en Noordwes. Weens slaggate moes hy sy moeder se begrafnis misloop. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.