Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slagspreuke voor verkiesing wek kommer

Openbare verteenwoordigers het ’n besonderse plig om verantwoordelik te kommunikeer. Maar in die huidige milieu van politieke opportunisme sien ons die teenoorgestelde, skryf Christi van der Westhuizen.

Christi van der Westhuizen

Die toon van slagspreuke vir vanjaar se verkiesing is op ’n onrusbarende manier veelseggend. Dit dui op ’n skeiding tussen politieke partye wat die ras- en klasverdelings in die land weerspieël. Maar dit dui ook in sommige gevalle op politieke leierskap wat reaktief en visieloos is.

Uiteraard verteenwoordig slagspreuke nie die volle verhaal van wat politieke partye aanbied nie. Maar verreweg die meerderheid kiesers sal nooit so ver kom om ’n verkiesingsmanifes of partybeleidsdokument te lees nie. Foto’s, klankgrepe en “memes” op sosiale media sal hoofsaaklik as bron dien vir besluite oor wie om te steun, bo en behalwe historiese en ander faktore.

Om dié rede het openbare verteenwoordigers ’n besonderse plig om verantwoordelik te kommunikeer. Maar in die huidige milieu van politieke opportunisme sien ons die teenoorgestelde.

Die DA het met groot fanfare hul plakkate gemik op kieserregistrasie in Kaapstad bekendgestel. Maar die boodskap “Register to keep the ANC and the EFF out of the Western Cape” val vreemd op die oor, komende van ’n party wat liberale demokrasie en dus glo politieke mededinging van idees en partye voorstaan.

Premierskandidaat Alan Winde het by die bekendstelling aangedui dat die DA se hoofboodskap vir Wes-Kaapse kiesers is dat die ANC en EFF uit die provinsiale regering gehou moet word. Maar op die plakkaat is die gedagte verkort na “hou die ANC en EFF uit die Wes-Kaap”.

In die eerste plek is dit onsin, want die ANC en EFF is tog aktief in die Wes-Kaap. Soos hulle uiteraard ook behoort te wees, in ’n land waar vrye politieke organisering en assosiasie die afgelope 23 jaar grondwetlik gewaarborg word.

Alan Winde, die DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

Wat is dan die suggestie? Dat hierdie partye se politieke vryhede opgeskort moet word? Of, nog meer onheilspellend teen die agtergrond van ’n verlede waarin vrye politieke assosiasie onwettig was, dat hulle gekeer moet word om politiek aktief in die Wes-Kaap te wees?

Die argument dat die woorde “uit die Wes-Kaapse regering” nie alles op die plakkaat kon pas nie, is gewoon nie ’n verskoning in die huidige klimaat van politieke onverdraagsaamheid nie.

’n Mens verwag dié soort boodskap van die EFF, wat implisiet en eksplisiet geweld en dus die inkorting van politieke ruimte propageer.

Wat die boodskap suggereer, is dat die DA as liberale party sukkel om sy beginsels te handhaaf. Die boodskap op die plakkaat is tekenend van die “EFF-effek”, waarin die nasionale diskoers disproporsioneel deur die populisties ekstremistiese EFF beïnvloed word, ook in die geval van die DA as ’n party wat kwansuis vrye uitoefening van politieke keuse ondersteun.

‘Slaan terug’ wys op ‘EFF-effek’

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. Foto: Argief

Hierby kan ’n mens die VF Plus se “Slaan Terug”-slagspreuk voeg. Ai, dit is 20 jaar ná Tony Leon en trawante sommige wit mense se gebrek aan politieke verbeelding met die destydse DP se “Fight Back/Slaan Terug”-veldtog bevredig het. En nou diep die VF Plus dit weer op. Die tydsberekening kan nie gevaarliker wees nie. Dit is nou as ’n mens oor die laagtepunt in menseverhoudinge in Suid-Afrika tans besorg is.

Die VF Plus se stomp, ongenuanseerde boodskap van geweld wys weer eens die “EFF-effek”.

Die onrealistiese voorstel dat hul ondersteuners moet “terugslaan” teen grondonteiening is onproduktief in die lig van die ingewikkeldheid van die grondprobleem. Dit klink soos ’n party wat probeer munt slaan deur ’n koloniale fantasie op te roep van setlaars wat straffeloos geweld kan pleeg om “hul” grond op te eis.

Die ANC onder Cyril Ramaphosa is los hande voor as dit by ’n proaktiewe en positiewe boodskap kom.

Gegewe dat die DA en VF Plus veral wit steun geniet, wat suggereer hierdie boodskappe, insluitend die opwarming van ’n sentiment uit 1999? Dit spreek van ’n defensiewe dog ook aggressiewe posisie: Van mense wat deel is van ’n groep wat in die verlede onregmatig bevoordeel is, en steeds hardkoppig “nee” sê vir die herstel van daardie ongeregtighede.

Dit dui op ’n reaktiewe politiek wat vasgehaak het, wat nie visie het nie. Die reaksie is op partye wat ’n meerderheid swart steun geniet – die ANC en die EFF. Selfs die EFF, wat al meer blyk om inherent anti-demokraties te wees, bied ’n visie van moontlikhede aan met hul jongste slagspreuk “Our Land and Jobs Now”. Dit is die verskil tussen aspirasie na iets positiefs wat werklik probleme sal oplos, teenoor onttrekking in ’n negatiewe posisie van aggressie maar ook verlamming.

Die ANC onder Cyril Ramaphosa is los hande voor as dit by ’n proaktiewe en positiewe boodskap kom. Ramaphosa is een van die skrywers van die Grondwet. Met die boodskap “Kom ons laat Suid-Afrika saamgroei” bring hy daardie optimistiese, can-do-gees van die 90’s, wat wit en swart ekstremiste deesdae so kranig werk om te diskrediteer, terug. Dit sluit aan by sy boodskap van “Thuma Mina” – stuur my.

Pres. Cyril Ramaphosa is sonder uitsondering die een politieke leier wat tans ’n boodskap versprei wat nie net poog om inspirerend te wees nie, maar spesifiek om positiewe kollektiewe aksie vir die oplossings van werklike probleme te bevorder. Foto: Argief

Ramaphosa word gekniehalter deur die steeds sterke Zuma-faksie in die ANC, soos ook wys uit sy 8 Januarie-toespraak. Heelparty kritici het reeds die tekortkominge van sy boodskap en die ANC se verkiesingsmanifes uitgewys. Wat aanhoudend in hierdie era van politieke sinisme misgekyk word, is dat Ramaphosa sonder uitsondering die een politieke leier is wat tans ’n boodskap versprei wat nie net poog om inspirerend te wees nie, maar spesifiek om positiewe kollektiewe aksie vir die oplossing van werklike probleme te bevorder.

Uiteraard moet ’n mens nie naïef wees oor die ANC nie: Ramaphosa en sy groep het ’n uiters moeilike taak aangepak en van ’n besliste oorwinning is daar nog lank nie sprake nie. Maar met die massale skoonmaakoperasie wat dwarsoor staatsentiteite gebeur, het die Ramaphosa-groep die daad by die woord gevoeg.

Die jongste voorbeeld is die aankondiging deur die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, van ’n taakspan om staatskaping met die oog op strafregtelike vervolging te ondersoek.

As dit van sommige opposisiepartye afhang, blyk dit, gaan wit mense skaam-kwaad in hoekies terugtrek wat hulle aggressief verdedig, eerder as om saam met hul landgenote produktief aan oplossings te werk.

Hoe help só ’n posisie enigiemand – wit mense inkluis?

* Van der Westhuizen is medeprofessor by die Sentrum vir die Bevordering van Nierassigheid en Demokrasie (Canrad) aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Vf Plus  |  Alan Winde  |  Cyril Ramaphosa  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.