Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slagting dreig by Engelse pers
Johannes Froneman

Te midde van haglike ekonomiese toestande hou Suid-Afrika se koerante kop bo water. Nou het Tiso Blackstar (die ou Times Media) egter erken dat Sunday World waarskynlik gaan sluit. Dit is nie ’n groot joernalistieke verlies nie, maar enige koerant wat sluit, wek kommer.

Hoe staan dit dan met die eens magtige Engelssprekende pers in Suid-Afrika? Ek herinner my aan enkele klein Engelse dagblaaie wat die laaste dekades verdwyn het, maar die ou strydrosse (waarvan verskeie reeds meer as honderd jaar oud is) sukkel voort: Cape Times, Cape Argus, The Star, Pretoria News, The Mercury, Daily News, The Witness, The Herald, Daily Dispatch en die Diamond Field Advertiser. Hulle leef swaar, maar oorleef.

Van die jonger koerante (ook al ’n paar dekades oud) is The Citizen, Business Day en Sowetan dalk nie vreeslik winsgewend nie, maar hulle het nismarkte. Daily Sun, soos Die Son ’n sensasiekoerant wat op die onderpunt van die mark mik, het al merkbare suksesse behaal, maar het self ’n drastiese daling in sirkulasie ervaar. Tog lyk hulle veilig, vir nou.

Al die koerante word deur die gewone faktore bedreig: die swak ekonomie, die digitale revolusie, te veel koeranttitels, die verdwyning van lesers weens emigrasie … Daar is wel ook ander redes, soos die rol van dr. Iqbal Survé by Independent (die ou Argus-groep), wat steeds die meeste dagblaaie beheer.

Minder joernaliste beteken minder mense wat stories kan soek, skryf en versorg. Dit is ’n bedreiging vir joernalistiek van gehalte.

En dan is daar ook Tiso Blackstar, die relatief nuwe naam op die toneel. Die bedreigde Sunday World is juis uit Tiso se stal, maar wat meer kommer wek, is die verlies aan poste by die maatskappy, wat ook die uitgewer is van die land se grootste koerant, Sunday Times. Minder joernaliste beteken minder mense wat stories kan soek, skryf en versorg. Dit is ’n bedreiging vir joernalistiek van gehalte.

Tiso Blackstar is ’n Britse maatskappy en het Avusa, oftewel Times Media (wat die afgelope drie dekades onder verskeie name ’n voertuig vir swart bemagtiging was) ’n paar jaar gelede aangeskaf. Dat dit geen groot gedruis afgegee het nie, is verbasend. Die ou Times Media is dus nou (ongelukkig) in buitelandse hande, terwyl Independent weer onder Suid-Afrikaanse beheer is – danksy rojale hulp van die Openbare Beleggingskorporasie.

Onder die wispelturige leiding van Survé lyk die toekoms vir Independent se koerante erg onseker. Hul sirkulasie het nie net sleg teruggesak nie, maar daar is ook duidelik ’n gebrek aan ’n gesonde koerantkultuur. En hoe lank kan Independent volhou met die uitgee van soortgelyke, mededingende koerante in Kaapstad, Durban en Pretoria?

Dit lyk onvolhoubaar. Nog koerante gaan noodwendig sluit – en nou verwys ek spesifiek na Independent. Hier is nie veel strategiese visie te sien nie, wel ’n vreemde verheerliking van Survé, redakteurs wat padgee en skenkings wat nie eens die ANC wil hê nie.

By die Afrikaanse koerante het ons Die Son, wat op sy eie, suksesvolle wentelbaan is. Die drie Afrikaanse sustertitels deel (soos altyd) berigte en artikels, en nou reeds geruime tyd ook bladsye. Eintlik het die Afrikaanse koerante (Die Son uitgesluit) deesdae baie klein redaksies, maar Netwerk24 verskaf die kopie. Dis ’n heel nuwe spel.

Die aanbod is vandag veel meer beskeie as die nege Afrikaanse dagblaaie van drie dekades gelede.

Verskeidenheid het in die slag gebly, maar dit het bygedra tot die oorlewing van ander.

Of jy daarvan hou of nie, die digitaal-eerste-beleid is ’n strategiese skuif wat Media24 kan laat oorleef, dalk selfs op papier. Maar in die Engelstalige pers is daar net te veel titels. Hier kom ’n slagting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.