Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slegte nuus vir die liberale demokrasie

Die Duitse verkiesingsuitslag en die relatief goeie vertoning van die regs-populistiese Alternative für Deutschland (AfD) het groot aandag getrek. In die bohaai oor die AfD is ’n ander aspek egter ondergeploeg, een wat nie minder opmerklik is nie.

Dit is dat die liberale demokrasie stadig maar seker in die rigting van ’n krisis beweeg. Dit is iets wat vir Suid-Afrikaners ook leersaam kan wees.

Peilings in Duitsland wys dat slegs 31% van die AfD-stemmers hul kruisies by dié party getrek het omdat hulle met sy beleid saamstem. Die motivering van ’n volle 60% was “teleurstelling met ander partye”.

Jy kon dit ook hoor by allerlei politieke wetenskaplikes se kiesersnavorsing. Hul gemeenskaplike vertolking is dat die AfD-stemmers nie noodwendig primêr teen immigrasie gestem het nie. Kiesers het egter voortdurend gehoor daar is nie geld om skoolgeboue te herstel, die gesondheidsorg goedkoper te maak of werkloses te help nie – maar toe is daar skielik wel miljarde om na Griekeland te stuur en vlugtelinge aan die lewe te hou.

Met ander woorde, die meeste AfD-stemmers wou ’n boodskap aan die regering stuur: Julle hoor ons nie meer nie. Ons wil gehoor word!

Iets soortgelyks het met die presidentsverkiesing in Amerika gebeur. Twee maande voor die verkiesing het ’n peiling gewys dat slegs 36,5% van dié wat vir Clinton wou stem, dit oor haar persoonlikheid of beleidsvoorstelle wou doen; die res wou dit doen om Trump uit te hou. Die meeste Trump-stemmers is ook gemotiveer deur ’n begeerte om Clinton uit te hou.

In Brittanje sien jy tans iets baie interessants. Die meeste peilings daar wys dat die Arbeiders sal wen as daar nou ’n verkiesing gehou word.

Dis des te opmerklik as jy in aanmerking neem dat dié party tans gelei word deur Jeremy Corbyn, ’n tipies linkse populis wat die land in allerlei ouderwetse sosialistiese rigtings wil lei. Kyk jy na wat die kiesers oor beleidsake vind, sien jy dat hulle verreweg nie agter Corbyn staan nie; dit is eerder dat hulle kwaad is vir die intern erg verdeelde Tories wat hul energie liewer aan binnegevegte wy as aan goeie regering.

Klink dit alles nie vir ’n Suid-Afrikaner baie bekend nie?

In Nederland het pas twee boeke verskyn wat dié probleem illustreer. Twee gewese parlementslede, Sharon Gesthuizen van die links-populistiese Socialistische Partij en Ybeltje Berckmoes van die vryemarkgerigte Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (die premier Mark Rutte se party), se relase oor hul tyd in die parlement is snydend oor die parlementêre politieke kultuur.

Albei partye se koukusse word met ’n ysterhand geregeer, onafhanklike denke word nie verwelkom nie, en die gewone parlementslede word basies as willose stemvee gebruik.

Klink dit alles nie vir ’n Suid-Afrikaner baie bekend nie?

As parlementêre verslaggewer in die 1980’s het ek presies daardie soort dinge in die koukus van die ou Nasionale Party waargeneem, en blykbaar kom dit ook voor in die geledere van die ANC en DA.

Hou jou mond, doen wat vir jou gesê word en moenie jou eie gesonde verstand probeer gebruik nie.

Dit kom ook deur na die kieserspubliek. Hoeveel ANC-kiesers stem nog uit oortuiging vir so ’n korrupte klub? Hoeveel mense stem DA bloot om opposisie teen die ANC te wys?

Vir die demokrasie is dit natuurlik glad nie goed nie. Die demokrasie berus weliswaar op gesonde wantroue teenoor die establishment, maar dié moet wel ’n minimum vertroue uitlok.

Tog, Winston Churchill se siniese oordeel bly waar: Die demokrasie is die slegste van alle denkbare stelsels, behalwe vir al die ander.

Meer oor:  Verkiesing  |  Menings  |  Politiek  |  Stemmery  |  Kiesers  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.