
Mense met gestremdhede het meer uitdagings en dikwels minder hulpbronne en is daarom soveel te meer kwesbaar vir Covid-19. Foto: ISTOCK
Met die volle erkenning van pres. Cyril Ramaphosa se voortgesette verbintenis tot konstruktiewe beleidsmaatreëls in reaksie op Covid-19, wil ek die president se aandag vestig op die verwoestende impak wat die virus sover gehad het op die kwesbaarste gemeenskappe van Suid-Afrika – die jeug en persone met gestremdhede.
Dit is ontsettend belangrik dat ons as ’n nasie sal aanhou uitreik na hierdie kwesbare persone wat min of geen toegang tot dienste het nie en om hulle te voorsien van doeltreffende, kritieke toegang tot hulpbronne en dienste vir hul oorlewing.
Die presidensiële werkgroep vir persone met gestremdhede het op 3 Desember, wat internasionaal herdenk word as Dag vir Persone met Gestremdhede, ’n Zoom-vergadering gehou. By vorige vergaderings in aanloop tot die aankondiging van nuwe Covid-19-riglyne en -regulasies, is ’n verskeidenheid gemeenskaps- en godsdiensleiers geraadpleeg. Die presidensiële werkgroep vir persone met gestremdhede is egter nie geraadpleeg oor ’n belangrike kwessie in die stryd teen die virus nie, naamlik die regering se plan oor die beskikbaarstelling van die Covid-19-entstof.
Ek vra pres. Ramaphosa met respek dat ons kwesbare bevolkings – soos armes, bejaardes en persone met gestremdhede – groter prioriteit moet geniet.
Hierdie versuim om die gestremde gemeenskap demokraties te betrek by die inwerkingstelling van oplossingstrategieë, plaas die gesondheid en lewens van dié groep ernstig in gevaar.
As ’n persoon met postpolio, wat aan die einde van 2020 Covid-19 opgedoen het, leef ek nou met die vooruitsig om wéér die virus op te doen, wat my gesondheid verder in gevaar sal stel.
Hoewel ek ’n werk het en dus ekonomies stabiliteit ervaar, is baie mense met gestremdhede, en hul ouers – veral in townships en plattelandse gebiede – minder bevoorreg. Hulle het dikwels ook beperkte toegang tot mediese hulp en dienste wat die meeste bevoorregte mense in die land geniet.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Afrika eers verlede jaar vry van polio verklaar, danksy inentingsprogramme. Hoewel die polio-entstof beskikbaar was toe ek gebore is, was ek te swart om dit by die wit kliniek te kry. Ek was drie maande oud toe ek polio gekry het.
My versoek aan pres. Ramaphosa is dat hy asseblief nie moet toelaat dat Suid-Afrika ’n nasie word wat stelselmatig die onmenslike behandeling van persone met gestremdhede toelaat nie.
Ek vra pres. Ramaphosa met respek dat ons kwesbare bevolkings – soos armes, bejaardes en persone met gestremdhede – groter prioriteit moet geniet. Die onlangse mislukkings in die uitbetaling van maatskaplike toelaes, wat duisende persone met gestremdhede sonder ondersteuning gelaat het, is ’n bewys dat die gemeenskap met gestremdhede nie by die besluitnemingsproses ingesluit is nie.
My versoek aan pres. Ramaphosa is dat hy asseblief nie moet toelaat dat Suid-Afrika ’n nasie word wat stelselmatig die onmenslike behandeling van persone met gestremdhede toelaat nie. Die president moet daarop aandring dat diegene wat die Covid-19-entstof kan bekostig (of wat mediese fonds het) die kwesbare individue wat nié die entstof kan bekostig nie, moet subsidieer.
Ek wil ook opnuut ’n beroep doen op die presidensie en verantwoordelike ministers om veral aandag te gee aan die onlangse mislukkings in die uitbetaling van maatskaplike toelaes. En om kennis te neem van die noodsaaklikheid om die gestremde gemeenskap in te sluit by die ontwikkeling van entstofverspreidingstrategieë.
- Le Roux is ’n aktivis van Kaapstad wat haar bevorder vir die regte van gestremdes en ook vroue.