Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Smoor nóú die taal van geweld

Julius Malema se geweldsdreigemente teen die polisie is deel van ’n breër probleem wat onder ons neus al hoe erger raak sonder dat daar iets wesenliks aan gedoen word.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Eers net ’n kykweer. Hy het Sondag sy ondersteuners in die Mohokare-munisipaliteit in die Vrystaat toegespreek en gesê hulle is nie bang vir die polisie nie. “Ons sal nie net by protesoptogte teen hulle veg nie,” het Malema gesê.

“Ons sal na hul huis gaan en in hul eie huis by hul gesin teen hulle veg.”

Die EFF-leier se gebruik van geweldstaal in die politieke arena kom natuurlik van baie ver. Toe hy nog leier van die ANC-jeugliga en hy en oudpres. Jacob Zuma nog hand om die blaas was, het ons gehoor: “Ons is bereid om wapens op te neem en dood te maak vir Jacob Zuma.”

In 2010 het Malema ’n besoek aan Zimbabwe gebring waar hy oudpres. Robert Mugabe en die gewelddadige besetting van wit boere se plase lof toegeswaai het.

In 2016 het Malema in Newcastle gesê: “Ons vra nie dat wit mense geslag word nie – ten minste nog nie.”

In dieselfde jaar het hy die ANC-regering in ’n onderhoud met Al Jazeera gedreig: “Ons geduld gaan binnekort opraak en dan sal ons die regering oor ’n geweerloop ontsetel.”

Ofskoon die ANC Malema in 2012 uitgeskop en die rug toegekeer het, is die geweldstaal, wat soos ’n onkruid in sy tyd as leier van die jeugliga versprei het, nie ook uit die party gewerp nie. Inteendeel, die Zuma-era het juis die gebruik van oproerige populisme en geweldsmotiewe as politieke instrument verder gelegitimeer.

Die verantwoordelikheid lê eweneens by elke gewone Suid-Afrikaner om nie net geweldstaal in ons openbare ruimtes te help smoor nie, maar ook in private ruimtes, byvoorbeeld langs die braaivleisvuur.

Juis op die golf van populisme het Zuma tot in Tuynhuys gery. En oproerige populisme het hom ook net te goed gepas toe hy van oudpres. Thabo Mbeki wou ontslae raak. Zuma het mos ná elke hofverskyning waar hy beskuldigde nommer een was ge-umshini-wami dat die kranse antwoord gee. Ook tonele waarin afbeeldings van Mbeki verbrand is, het wyd voorgekom.

Die soort taal wat die Zumaïete deurgaans in die handel en wandel gebruik het, was (en is) boonop van gewelddadige motiewe deurspek. Só het Zuma die jeug aangemoedig om die “soldate” van radikale ekonomiese transformasie te wees.

Selfs die besadigder Gwede Manta­she het na die opposisie in die parlement – die verkose verteenwoordigers van miljoene Suid-Afrikaners – as ’n “vyandige gevegsmag” verwys.

En namate Malema stadigaan die ANC se steun begin wegkalwe het, het dit vir die ANC toenemend nodig geword om die rou en gevaarlike populisme van sy eertydse wonderkind na te jaag.

Nou het hy die populistiese tier aan die stert beet en kan nie bekostig om te laat los nie, want dan word hy self verskeur.

Op ’n manier het die verskynsel ’n fisieke manifestasie gehad toe Baleka Mbete, indertyd speaker van die Nasionale Vergadering (NV), gewapende uitsmyters (wat sy “veiligheidsmagte” genoem het) op die EFF losgelaat het.

Teen die agtergrond van dié geskiedenis is dit eintlik hoogtyd dat Malema strafregtelik van aanhitsing aangekla word.

Op grondvlak het die EFF en die ANC ook die morele verantwoordelikheid om die veldbrand van geweldstaal te help blus wat hy self aangesteek het.

Die verantwoordelikheid lê eweneens by elke gewone Suid-Afrikaner om nie net geweldstaal in ons openbare ruimtes te help smoor nie, maar ook in private ruimtes, byvoorbeeld langs die braaivleisvuur.

Sorg dat geweldsdreigemente, of dit nou kom van die EFF of van Steve Hofmeyr, eenvoudig op onvrugbare grond te lande kom.

Meer oor:  Dawie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.