Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Smouse het hul kraampies in Afrikaans opgeslaan

Straatsmouse mag dalk nie ’n reusebydrae tot die ekonomie lewer nie, maar hul bydrae tot Afrikaanse letterkunde is van onskatbare waarde, skryf Willem Fransman jr.

Tannie Poppie (Rosaleen) van As van Laingsburg met haar roosterkoeke. Foto: Willem Fransman

Die afgelope paar weke het ek die voorreg gehad om vir oulaas ’n bietjie van my werk weg te breek.

Ek kon net doen wat lekker was en sommer net diegene en dinge rondom my geniet.

Ons het deur plekke soos Worcester, die gevaarlike De Doorns, Laingsburg, Cradock, Knysna en George gery. Verder het ons aangedoen of oorgeslaap op plekke soos Graaff-Reinet, Aberdeen, Jeffreysbaai, Humansdorp en Port Elizabeth.

Op Laingsburg het ons by die beroemdste roosterkoekbakker, Antie Poppie van As, middagete genuttig. Sy is die einste 63-jarige roosterkoeksmous wat onlangs roosterkoeke in Italië gaan bak het.

Nie net is sy, met haar outydse kappie, ’n gewilde gesig daar langs die pad nie, sy is eintlik ’n menslike baken.

Snaaks hoe mense, selfs in plekke soos daardie, “ietsie” van jou onmiddellike omgewing, jou komvandaan, soek.

En dis nét hier dat ’n mens besef die smous het in ons Afrikaanse letterkunde hul kraampies kom opslaan.

En van die dinge wat ek nie eintlik gesoek het nie, maar wat wel my oog gevang het, was die straatsmouse. Miskien nie op dieselfde skaal as in die Kaap nie, maar tog. Vrugte en groente ook nét so netjies op omgekeerde leë kissies of boksies uitgepak.

Maar laat ek eerlik wees, die bekkigheid of die gevattenheid van die Kaapse smouse was daar afwesig.

“Lekke soet drywe, Ma . . . lekke soet . . . een byt ennie hiening spyt!” is ’n rympie wat elke vrugteventertjie in veral die Kaap baie goed ken.

“Avokado-pere . . . avokado-pere, Ma . . . dit maak’ie hare mee’re!” word ook dikwels geskree as die persoon nie baie hare op die kop het nie.

As iemand verby wil loop sonder om belangstelling te toon en die smous wil die onwillige koper beïndruk, sal hy dikwels uitroep: “Hie’s hulle nou! Hie’s hulle nou! Menee’, moetie worry nie, Menee’, die pryse is nét reg! Want die baas is weg!”

En dis nét hier dat ’n mens besef die smous het in ons Afrikaanse letterkunde hul kraampies kom opslaan.

‘Lekka, lekka ywe’

Was dit dan nie ID du Plessis se gedig “Kaalvoetklonkie” wat al van vroeg af met ons koppe gesmokkel het nie. Veral die refrein:

Lekka, lekka ywe,

Laat die ghantang naderskywe!

Tamaties en ywe van die strand

en baie kiri slam by de hys se kant!

Dan kry ons Uys Krige se pleidooi vir die bestaansvisser wat op die kaai sukkel om sy swaarbekomde vis aan ’n wederstrewige koper te verkoop. Dié kibbel heeltyd oor die prys. In die gedig “Ken jy die see . . . ”, vertel die visterman van hul moeite om in wind en weer, selfs in lewensgevaarlike situasies, hul lewe waag om die vis aan wal te kry. En na élke verduideliking antwoord die visterman: “Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.”

Selfs die ventertjie in Adam Small se gedig Oppie Parara! sukkel, ondanks sy gevattenheid, om sy vrugte verkoop te kry!

“Ma Mêrrim, pô-pô, pô-pô en banana

en juicy drywe yt die hartjie van die Kanaan

of hoe fancy die mêrrim soe ’n vy . . .

kyk net hoe ytggeswel is hy

van boe tot onne ytgady.

Moenie blush nie merim

ôs het die die blaa’ daarby!”

Willem Fransman jr.

Hoewel die meeste van Small se gedigte in Distrik Ses en die Bo-Kaap afspeel, teken hy sy vrugteventertjies met soveel liefde.

Maar in my boek is dit Peter Snyders, wat in Bokmakierie op die Kaapse Vlaktes opgegroei het, wat die beskrywing van die vrugteventertjie die mooiste vasvat in sy gedig: “Athlone Sarasoggene”:

“Mooi rooi tamatie virrie paartie . . . ?

Ek skrie my bek af, maarit baatie!”

Die laaste woord behoort ook aan ’n visventertjie. ’n Man stap na hom waar hy pas ’n ander koper se vis gevlek en toegedraai het:

“Meneer, wat vra jy vir djou snoek?” vra die voornemende koper.

Dan sak die verkopertjie af: “Nei, Menee’ ek vra hulle niks nie, maar wil djy vi hulle iets vra?”

Dis duidelik dat ons smouse, soos die armes, vir altyd saam met ons sal hê.

So, as jy die dag bietjie depressief is, doen vir jouself ’n guns. Stap verby jou geliefde supermark en gaan knoop ’n geselsie met die vrugteventertjie op die hoek van die straat aan. Die resultate mag dalk beter wees as om op jou sielkundige se bank te gaan lê.

Dis duidelik dat ons smouse, soos die armes, vir altyd saam met ons sal hê. Hierdie mense is “poets, and they don’t even know it!”

Hul bydrae tot landsekonomie is dalk nie so groot nie, maar hul gevatte sêgoed word op die bladsye van digbundels vir ons nageslagte bewaar. Sodoende kry ons tydsgebonde dokument wat vir nageslagte sal vertel hoe ons op ’n tyd gelewe het.

Mag ons straatsmouse nog lank met onse koppe smokkel . . . of is dit nou smous?

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Adam Small  |  Poësie  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.