Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Smuts en Botha, twee ‘anderster’ Afrikaners

Afrikanernasionaliste het dit nog altyd gehad teen die “andersheid” van genls. Louis Botha en Jan Smuts.

Fransjohan Pretorius

“Smuts het die Afrikanersaak ná die Anglo-Boereoorlog verraai,” hoor ’n mens dikwels.

Ons moet sy rol wyer as in die Anglo-Boereoorlog bekyk. Voor die Jameson-inval in 1895 om die Zuid-Afrikaansche Republiek te verower, was hy min of meer ten gunste van Britse imperialisme. Dit was sy Kaapse agtergrond, wat min begrip vir republikanisme getoon het, maar ook sy bewondering vir die prestasies en voordeel van die Britse Ryk.

Die Kaapse eerste minister Cecil Rhodes se organisering van die Jameson-inval het Smuts ontnugter en hy het vervolgens Afrikaner­republikanisme gesien as die oplossing vir Suider-Afrika.

Soos hy die pamflet Een eeuw van onrecht afgesluit het: “Afrika voor den Afrikaner.” Dit bring hom in 1898 as staatsprokureur na Pretoria, waar hy onder die betowering van pres. Paul Kruger se republikeinse visie kom.

Die Anglo-Boereoorlog duur langer as wat algemeen verwag is. Daar is nie soos in 1881 ’n Majuba en die Britte gee pad nie. Smuts het dit wel voorsien. Maar teen Januarie 1902 besef hy ’n Boere-nederlaag is onafwendbaar.

Hy skryf aan die Britse Boerevriend W.T. Stead: “Bring the two South African Republics with their indomitable little people within the circle of the British Empire . . . In a generous spirit of forgive and forget, let us try to found a stable Commonwealth in South Africa, in which Boer and Briton will both be proud to be partners.”

Teen die einde van die oorlog besef Smuts dus wéér die pad na oorlewing lei via die ekonomies en polities magtige Britse Ryk.

Só het Smuts teen 1902 die na­sionale Afrikanersaak begin versaak. Maar eintlik het hy in sy republikeinse tydperk tussen 1896 en 1902 ook sy pro-Britse stand-punt versaak. Smuts het alles koud, ingevolge die objektiewe reg, beoordeel. Die eindresultaat het vir hom saak gemaak.

Louis Botha was vroeg reeds ’n “anderster” Afrikaner.

Met sy huwelik met die Engelse Annie Emett het Botha buite sy kultuurgrense beweeg en blyke gegee van sy gemak in ’n ruimer uitkyk op sake as die meeste van sy Afrikaner-tydgenote.

Met sy huwelik met die Engelse Annie Emett het Botha buite sy kultuurgrense beweeg en blyke gegee van sy gemak in ’n ruimer uitkyk op sake as die meeste van sy Afrikaner-tydgenote.

Hy het ook in 1897 as onafhanklike ’n ZAR-Volksraadsetel verower. Anders as wat beweer word, het hy Kruger in sy stryd teen die Uitlanderstemreg ondersteun.

In die Anglo-Boereoorlog het Botha­ hom as ’n merkwaardige veldheer bewys. Ná die val van Pretoria in Junie 1900 was hy van tyd tot tyd in gesprek met die Boere­leiers ten gunste van vrede.

Tot so Junie 1901 was sy strewe die behoud van onafhanklikheid, maar sy besef en betoog en dié van genl. Koos de la Rey by Vereeniging in Mei 1902 dat die einde van die stryd aangebreek het weens die jammerlike toestande in die republieke, het die gemoed geswaai ten gunste van vrede en die verlies van onafhanklikheid.

Daarom was Smuts en Botha geesgenote, die een die “anderste” koue regsgeleerde, die ander die “anderste” charismatiese leier.

Vir hulle was versoening met Brittanje en hul Engelssprekende mede-Suid-Afrikaners belangrik. Maar dat ondersteuners van ’n ontwakende Afrikanernasionalisme anders geoordeel het, sou duidelik blyk.

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Jan Smuts  |  Louis Botha  |  Fransjohan Pretorius  |  Lewensuitkyk  |  Geskiedenis  |  Optrede  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.