Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sny aspirerende Mugabes se lug
Henry Jeffreys

Oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe het nie net ’n merk op die geskiedenis van dié land en Afrika gelaat nie, maar ’n skandelike vlek.

Sy erflating aan die eens florerende Zimbabwe, in sy blomtyd bekend as die broodmandjie van Afrika, is ’n ekonomiese woestyn waarvan sowat ’n derde van die bevolking ’n heenkome in Suid-Afrika en elders in die vasteland gaan soek en gevind het.

Mugabe se ontsetting in 2017 deur sy voormalige vertroueling en politieke uitsmyter, Emmerson Mnangagwa, is wyd verwelkom – ook deur Zimbabwiers – maar het nog nie enige betekenisvolle invloed op die lot van die land se mense nie, ’n aanduiding van hoe diep sy verrotting ingesypel het.

Suid-Afrika is nie heeltemal onskuldig in die treurspel wat onder Mugabe afgespeel het nie. Trouens, daar is ’n saak te maak dat ons aandadig was aan die vernietigende verval.

Die regering van oudpres. Thabo Mbeki kon aan die begin van die 2000’s sy invloed gebruik het om Mugabe se ergste vergrype – die wrede onteiening van wit boere se plase en blatante geknoeiery met verkiesings – te stuit, maar het verkies om anderpad te kyk.

Dit nadat alles so goed begin het vir Zimbabwe in 1980. Die land se onderhandelde oorgang van wit minderheids- na swart meerderheidsregering is as ’n voorbeeld vir Suid-Afrika se soortgelyke latere oorgang beskou en voorgehou.

Ná Zimbabwe se onafhanklikheid was Robert Mugabe in vele opsigte die voorbeeldige staatsman.

Ná Zimbabwe se onafhanklikheid was Mugabe in vele opsigte die voorbeeldige staatsman. Dit het egter nie lank gehou nie. Mugabe was knaend agterdogtig oor sy politieke opponente in ander bevrydingsbewegings, meer spesifiek Zapu van Joshua Nkomo.

In die 1980’s het hy die gevreesde Vyfde Brigade, opgelei deur die weermag van Noord-Korea, op Nkomo se ondersteuners in Matabeleland losgelaat in ’n aanslag wat nog deur baie beskou word as volksmoord. Duisende mense in Nkomo-gesinde gebiede het omgekom aan die hand van dié moordbrigade.

Aan die begin van die eeu het Mugabe ’n beleid ingestel om plase van wit boere gewelddadig te onteien. Die gevolg was ’n ekonomiese ineenstorting waarvan Zimbabwe vandag nog sukkel om te herstel.

Suid-Afrika het duidelik nie die lesse van Mugabe en Zimbabwe geleer nie.

Een ding is seker, Mugabe het onherroeplik geval van die held wat Zimbabwe bevry het tot ’n politieke boelie wat alles in sy pad vernietig het.

Suid-Afrika het duidelik nie die lesse van Mugabe en Zimbabwe geleer nie.

Ons is midde ’n proses om die Grondwet te verander om die onteiening van grond sonder vergoeding te wettig. Politieke formasies soos die EFF en Black First Land First-beweging (BLF) verkondig selfs meer radikale aksie.

In Mei vanjaar het kiesers die BLF by die stembus verwerp, maar die EFF met groei beloon. Julius Malema, EFF-leier, koester onverbloemde bewondering vir Mugabe en, kan ’n mens aflei, sy politieke metodes.

Die boodskap aan die regering en veral aan pres. Cyril Ramaphosa is duidelik: Volg strategieë om steun vir die EFF en leiers soos Malema minder aantreklik vir kiesers te maak.

Ramaphosa het egter ’n probleem. Baie van sy kamerade in die ANC deel Malema en die EFF se sentimente. Die groot uitdaging is om hulle aan bande te lê. Die probleem is ook dat baie Suid-Afrikaners waarskynlik ook, op grond van hul eie ervarings, bewonderaars van Mugabe is. Dit blyk uit die goeie vordering van die EFF by die stembus.

In die geheel blyk dit dat Afrika aptyt verloor het vir despote soos Mugabe. Hy was hopelik die laaste van die sogenaamde sterkmanne van Afrika wat die vasteland vir so lank in hul greep gehad het. Suid-Afrika moet ’n skerp oog hou op aspirerende Mugabes en hul suurstof afsny.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Robert Mugabe. Thabo Mbeki  |  Zimbabwe  |  Regering  |  Staatsman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.