Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So 17 jaar hier, so 17 jaar daar, vroue, waar?

Die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria is 100 jaar oud: 1917 tot 2017.

Historiese hekke, oopgehou deur vasgemesselde granietklippe, simboliseer dat daar ’n tyd was dat die hekke toe was vir almal behalwe wit heteroseksuele mans. Maar nóú is dit anders. Die hekke sal nooit weer toegemaak word nie. Niemand sal ooit weer uitgesluit word nie.

Die fakulteit verjaar. Die getal 17. Déjà vu. Ek het dit al gesien. In 1992 toe die fakulteit 75 jaar oud was, het die oudste kerklike vennoot, toe Afdeling A van die Hervormde Kerk, feesgevier. Die SAUK het ’n TV-program oor die geskiedenis gemaak. Ek moes die materiaal versamel.

Hoe ek ook al gesoek het, nêrens was daar in die publikasies ’n enkele spoor van die teenwoordigheid van vroue wat toe reeds 17 jaar deel was van Afdeling A se geskiedenis nie – Yolanda, Kotie, Elsie, Estelle . . .

Met die 100ste verjaardag in 2017 vier al die vennote saam fees: Hervormd (die ou Afdeling A), NG (die ou Afdeling B), die VGK en Lutherane uit die tyd ná die “Afdelings”.

As deel van die viering word tien groot manne vereer vir hulle bydrae oor 100 jaar. Hulle dien as verteenwoordigers van die “skare geloofsgetuies” rondom die fakulteit. Met dié dat die hekke nou oop is, word ingesluit in die tien: die eerste swart professor van die fakulteit (’n man) en ’n kampvegter teen die uitsluiting van seksuele minderhede (’n man).

In die tien is daar (weer) geen spoor van vroue en hul bydrae nie. Nie van die (weer) 17 jaar teenwoordigheid van vrouedosente in die fakulteit nie. Nie van die teenwoordigheid van die vroegste vrouestudente van Afdeling B nie – die ma-en-dogter-paar Jeanne Fourie en Jeanne Viljoen, Christina Landman, kampvegter teen die uitsluiting van vroue . . .

Vroue was afwesig in die geskiedenis omdat die hekke toe was.

“Vroue was afwesig in die geskiedenis omdat die hekke toe was. Ons kan nie insluit in die geskiedskrywing wie nie daar was nie,” word gesê.

Maar vroue wás daar – sekerlik nie die hele 100 jaar nie, maar wel vir amper die helfte daarvan. Vroue wás daar, kampvegters teen die uitsluiting van vroue, lank vóór die kampvegters teen die uitsluiting van seksuele minderhede daar was.

Terwyl die manne 100 jaar lank hul sigbare bydrae gelewer, hul stem laat hoor, hul geskiedenis gedokumenteer het, het vroue by die agterdeur (die kombuisdeur?) ingeglip om ongesiens teenwoordig te wees en hul bydrae te lewer – so 17 jaar hier en 17 jaar daar. Net soos die dawerende afwesigheid van vroue in die Bybelse geskiedskrywing beteken dit nie dat hulle nie daar was nie.

Vrouestudente wat deur die fakulteit se hande is, is vandag predikant (te veel om te noem), ringsvoorsitter (soos Annelie), kerkleier (soos Sanri), professor en dosent in teologie aan Suid-Afrikaanse universiteite (soos Christina, Elsabé, Erna, Ananda, Juanita, Gerda, Tanya). Teenwoordig in die “tien grotes” van die geskiedenis of afwesig (uitgesluit), sigbaar of onsigbaar, mét ’n stem of die swyggebod opgelê, vroue was, is en sal altyd deel wees van die skare geloofsgetuies – so 17 jaar hier, so 17 jaar daar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.