Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So baie te leer uit hierdie sege
Henry Jeffreys

Die Springbokke se fabelagtige derde oorwinning in ’n Wêreldbekerrugby-eindstryd het baie mense laat wonder of daaruit lesse te leer is vir die land se politici, veral diegene in die regering.

Die eindstryd is voorafgegaan deur die minister van finansies, Tito Mboweni, se mediumtermynbegrotingsrede, wat ’n duister prentjie van die land se ekonomie geskets het – baie donkerder as wat algemeen verwag is.

’n Welkome ligpunt was die besluit van die graderingsagentskap Moody’s om nie Suid-Afrika se skuld tot rommelstatus af te gradeer nie.

Ons moet egter nie te opgewonde raak nie. Dit is duidelik net van tydelike aard en kan al teen Februarie 2020 afwaarts aangepas word. Indien die regering nie iets daadwerklik aan die verontrustende skuldsituasie doen teen die tyd dat Mboweni sy begroting in Februarie lewer nie, sal Moody’s geen ander keuse hê as om dit te doen nie.

Ongelukkig is die tyd te min en die uitdagings te kompleks. Dit lyk dus of rommelstatus onvermydelik in ons nabye toekoms wag.

Daar kan min twyfel wees dat gebrekkige of selfs katastrofiese leierskap ’n groot rol gespeel het in die skepping van die noodsituasie waarin die land hom bevind. Ons was geseënd om ’n werklik groot leier in Nelson Mandela te kon hê, maar ons het dit ongelukkig nie genoegsaam waardeer nie en al die voordele daaraan verbonde verspil.

Ons het weer gedink aan daardie ikoniese oomblik in 1995 toe Mandela die Webb Ellis-trofee aan die destydse Springbokkaptein, Francois Pienaar, oorhandig het.

Mandela se opvolger, Thabo Mbeki, was ’n intellektueel wie se leierskap ten beste as middelmatig beskryf kan word. Sy hantering van die land se MIV/vigs-pandemie was egter diabolies en het die lewens van derduisende mense gekos.

Mbeki is opgevolg deur Jacob Zuma, wat eiehandig verantwoordelik gehou kan word vir die huidige ekonomiese krisis. Zuma het ook die euwel van korrupsie in regeringskringe tot nuwe hoogtes gevoer. Op sy wagbeurt het die land ontaard in een van die mees korrupte lande ter wêreld.

Dit is dus geen wonder nie dat Suid-Afrikaners ’n uitkoms vir die land se vele probleme sien in die Springbokke se oorwinning. Dit het sterk herinner aan ons eerste Wêreldbeker-oorwinning in 1995 toe Mandela die manne in Groen-en-goud geïnspireer het tot die jong demokrasie se grootste internasionale sportoorwinning ooit.

Ons het weer gedink aan daardie ikoniese oomblik in 1995 toe Mandela die Webb Ellis-trofee aan die destydse Springbokkaptein, Francois Pienaar, oorhandig het. Saterdag het Siya Kolisi dié gesogte trofee omhoog gehou, omring deur sy spanmaats wat baie meer verteenwoordigend van die land is as in 1995 toe wyle Chester Williams die enigste swart speler in die span was.

Wat is die lesse te leer uit die oorwinning? Wel, die slagspreuk vir die toernooi was “Sterker saam”.

Wat is die lesse te leer uit die oorwinning? Wel, die slagspreuk vir die toernooi was “Sterker saam”. Ons politici en ander rolspelers in die ekonomie soos die vakbonde en maatskappye kan dit gerus aanneem as slagspreuk om die ekonomiese krisis te help beredder.

Toegegee, die politiek is in wese mededingend en verdelend. Daar is uitdagings wat groter samehorigheid of samewerking vereis, en die ekonomiese krisis lyk na só ’n uitdaging.

Dan is daar die kwessie van leierskap. Die rugbygemeenskap het duidelik baie gedoen om mense soos Kolisi en Rassie Erasmus, die afrigter, te kweek en hulle die ruimte te gee om te floreer. Sekerlik kan die politieke gemeenskap iets hieruit wys word?

Politici is geneig om beterweterig te wees en leer nie graag uit ander se ervaringe nie. Tog sit hulle op die grootste les in samewerking en hoe om saam vorentoe te beweeg. En dit is die les van Suid-Afrika se politieke oorgang in die 1990’s. Niks kan die idee van “Sterker saam” beter beskryf nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.