Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So baie tel in DA se guns, maar . . .

In die aanloop tot die algemene verkiesing van aanstaande jaar moet die DA ’n aantal fundamentele keuses maak en vrae beantwoord. Watter soort party is hy en welke gesig wil hy aan die kiesers wys?

Tans is die politieke toneel relatief gunstig vir die DA.

Die ANC is tot op die been verdeel tussen die liberale in die party en die Afrikanistiese faksies.

Die relatief gematigde pres. Cyril Ramaphosa probeer sy bes om die ANC in ’n meer liberale rigting te lei, maar die sterk Afrikaniste beperk sy greep op die mag.

Wat Ramaphosa se probleem vererger, is die feit dat die Afrikaniste oorwegend ook diegene is wat wil voortgaan om die staat vir hul eie verryking te plunder.

Dat hulle byvoorbeeld die grondkwessie sinies gebruik om die armes – die meerderheid van mense in Suid-Afrika dus – se steun te trek, verander niks aan die waarheid hiervan nie: Die grondkwessie is ’n rookskerm om hul eie korrupsie te verhul.

Dit val saam met nog ’n saak. Omdat die ANC al sedert sy ballingskapsdae ’n kultuur gekweek het om aanstellings op grond van politieke lojaliteite te doen, pleks van deugde soos eerlikheid, bekwaamheid en ervaring, stort dienslewering oor die land op plekke waar hy regeer in duie.

Daar gaan haas geen week verby dat mense wat die ergste daaronder ly nie teen die ANC se patetiese onbekwaamheid betoog nie.

En intussen stort semistaatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Prasa steeds verder in duie.

In enige normale demokrasie, as so iets bestaan, sou ’n regering soos ons s’n al lankal die trekpas van die kiesers gekry het. In Suid-Afrika is die etniese faktor – “die ANC is ’n klomp boewe, maar hulle is óns boewe” – egter sterk.

Dit gaan gepaard met die momentum wat die struggle steeds by baie mense het. Immers, dit was die ANC wat ons bevry het, word geredeneer, en dus moet ons hom bly steun.

Tog is hier ’n kans vir die DA. Die party is in heelparty munisipaliteite aan die bewind en het die unieke kans om prakties, dag vir dag, te bewýs dat hy beter as die ANC kan regeer.

Jy sou byna kon sê die omstandighede kan eintlik nie beter wees nie. Maar wat maak die DA daarmee?

Wat ’n mens van buite af sien, is ’n party waar die hare, spoeg en tande spat soos die mense met mekaar baklei.

As dít is wat Maimane en sy DA wil doen, moet hulle dit dan maar doen. Ek weet in elk geval wat ek van hulle dink.

As dit nie Helen Zille is wat ’n tikkie op die vingers verdien, maar met ’n voorhamer gemoker word nie, dan is dit Patricia de Lille wat om volstrek onduidelike redes vervolg word.

En intussen beweeg die DA onder Mmusi Maimane se leiding steeds verder in ’n rigting waar die party gerus sy naam na ANC-Lite kan verander.

Op die webwerf Politicsweb het die gewese DA-amptenaar Gareth van Onselen vandeesweek ’n skitterende analise geskryf van hoe die DA se ideologie in die rigting van die ANC gedruk word en hoe hy die ANC se vervalste weergawe van die geskiedenis oorneem.

’n Mens verstaan waarom Maimane dit doen. Rekenkundig is die saak duidelik: Verreweg die meeste kiesers is swart, en dis logies dat jy meer swart stemme kan werf as jy jou so naby moontlik aan die ANC posisioneer.

Dat jy terselfdertyd wit en bruin kiesers vervreem en verloor, neem jy dan maar op die koop toe; hulle is immers ’n minderheid.

Tog, in die proses verraai jy al die waardes waarvoor jy deur al die jare van apartheid en ANC-hegemonie gestaan het.

As dít is wat Maimane en sy DA wil doen, moet hulle dit dan maar doen. Ek weet in elk geval wat ek van hulle dink.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  2019-Verkiesing  |  Menings  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.