Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só beland klippe in skoene
Oudmin. Trevor Manuel het hom sterk uitgespreek oor sekere inperkingsmaatreëls. Foto: GETTY IMAGES

Trevor Manuel, Old Mutual se direksievoorsitter, was laas prominent in die nuus met die raadsaaldrama tussen dié finansiëledienstereus en sy voormalige uitvoerende hoof Peter Moyo.

Sedertdien het Manuel ’n lae profiel gehandhaaf – veral wat nasionale kwessies betref – en het hy, so wil dit voorkom, eerder tyd aan onder meer flieks bestee.

Ná sy meningsartikel in City Press twee Sondae gelede weet ons een van dié flieks is die verfilmde weergawe van die bekende musiekspel Les Misérables oor die “miserabeles” (armsaliges, ellendiges) aan die ontvangkant van ongenaakbare “wetstoepassers”.

Manuel, wat eens ons langsdienende minister van finansies was, is sowat ’n maand tevore deur pres. Cyril Ramaphosa (as Afrika-Unie-voorsitter) ’n spesiale gesant vir teenkoronahulp vir Afrika gemaak.

Miskien is dit in dié hoedanigheid dat hy hom genoodsaak gevoel het om sy stem dik te maak teen onlangse optrede deur polisie- en weermaglede.

Die fliek Les Misérables, skryf hy, “bied ’n diepe begrip vir wat gebeur wanneer polisielede en soldate toegelaat word om soos wreedaards op te tree sonder om deur enige gevolge in die gesig gestaar te word”.

Dit behoort in werklikheid verpligte kykstof te word, het hy aanbeveel, vir “elke besluitnemer, hetsy ’n minister, LP of lid van die weermag of polisiediens”.

Ons mag weens die inperking ons nie afvee aan die waardes van ons Grondwet nie.

Hul optrede behoort ooreen te stem met die nasieskap en gees van omgee van oudpres. Nelson Mandela: “Ons mag weens die inperking ons nie afvee aan die waardes van ons Grondwet nie.”

In ’n latere televisieonderhoud het Manuel ook uitgevaar teen nóg ’n klip in die skoen van “ingeperkte” Suid-Afrikaners, naamlik die beperkings op die soort kos en klere wat hulle mag koop.

Hardop wonder hy: “Word hierdie besluite aan die toets van rasionaliteit onderwerp?” Die beskikbare bewyse het tot nou by hom, en ’n menigte van sy landgenote, sterk twyfel daaroor laat ontstaan.

Dit is moeilik om te glo dat Manuel se spraaksaamheid sommerso uit die bloute kom, selfs al was dit dalk minder opvallend (of minder nuuswaardig?) as dié van Tito Mboweni, huidige minister van finansies, in hierdie tye.

Mboweni het hom ongewild in ANC-geledere gemaak oor hy openlik sy afkeer van sekere inperkingsmaatreëls – soos die verbod op die verkoop van tabakprodukte en alkohol, en die toepassing van swartbemagtigingsvereistes in koronahulp – uitgespreek het.

Hierdie maatreëls word veral toegedig aan ’n veronderstelde magstryd tussen die sogenaamde Ramaphosa- en NDZ (Nkosazana Dlamini-Zuma)-faksie in die kabinet en die nasionale bevelsraad.

Heindrich Wyngaardt

Jy hoef nie met daardie interpretasie saam te stem nie, maar dit was opvallend dat Ramaphosa pas genoop was om dit duidelik te stel dat besluite in die raad op ’n kollektiewe wyse geneem word, maar dat hý “die kollektief lei”. Waaraan dié standpuntinname steeds tekort geskiet het, was die krag van oortuiging of oorreding.

Jy moet Mboweni én Manuel se uitsprake dus aanhoor in die konteks van stukrag aan Ramaphosa se leierskap gee – die soort leierskap wat nog altyd as redelik en rasioneel bestempel is, maar wat in die dreunsang van die bullebak-lawaaimakers (soos die minister van polisie, Bheki Cele) uitgedoof word.

Dit is waarom Ramaphosa in sy toespraak aan die nasie verlede Woensdag verskoning gevra het vir inperkingsmisstappe, en waarom hy Maandag in sy nuusbrief Suid-Afrikaners aanmoedig om hul grondwetlike reg tot hofgedinge uit te oefen, soos reeds gebeur, in gevalle waar hulle nie tevrede is met inperkingsmaatreëls nie.

En veelseggend ook hierdie onderneming: “Ons sal aanhou om verskillende – selfs afwykende – standpunte oor ons nasionale koronavirus-respons te verwelkom.”

Gewis moes dit Manuel (en Mboweni) minder mismoedig gelaat het.

Nou sal Manuel dalk tyd kry om ook Joseph Losey se 1979-fliekweergawe van Mozart se bekende opera Don Giovanni, waarin die selfgesentreerde gedrag van die “industriële bourgeoisie-klas” blootgelê word, te kyk en as verpligte kykstof aan te beveel.

  • Wyngaard is ’n sosiopolitieke kommentator en televisieaanbieder.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Inperking  |  Grondwet  |  Demokrasie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.