Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só bloei die land talent na buite
Leopold Scholtz

Op my pas afgelope besoek aan Suid-Afrika gesels ek met ou vriende in hul huis in Pretoria.

Die man, ook al afgetree, vertel my van sy slim seun wat uitstekend vaar in sy inligtingstegnologie-pos (IT) by ’n groot maatskappy. Dan kom dit: “Die ou is op pad Kanada toe; het werk daar gekry.”

Dié verhaal is een wat in duisende wit Suid-Afrikaanse gesinne vertel kan word. Die seun, nog in sy 20’s en onlangs getroud, verdien al klaar meer as wat sy pa by sy aftrede gekry het.

Onlangs word hy en ander wit IT­werkers na die baas ontbied. “Ek is baie jammer om dit vir julle te sê, maar min van julle sal verder bevordering kry,” sê die baas vir hulle. “Ons moet voldoen aan die rassekwotas, en daar is te veel wit mense op jul vlak.”

Kort daarna het die ontnugterde seun op die internet geklim, belangstelling van ’n plek in Kanada gekry, vir ’n onderhoud daarheen gevlieg en die pos gekry. Hy, sy vrou en baba vertrek binnekort. Nóg ’n verlies vir ons land.

Ek het nie om enige ideologiese rede padgegee nie, en ek bly my mense en my taal deur my artikels en boeke dien.

Ek weet, sekere suurmonde sal my nou verwyt dat ek self in die buiteland woon en dus maar my mond moet hou.

Ter verduideliking: Ek woon in Nederland omdat my Nederlandse vrou meer as 30 jaar vir my in Suid-Afrika was, en noudat ek afgetree is, is ek in Nederland vir haar. Ek het nie om enige ideologiese rede padgegee nie, en ek bly my mense en my taal deur my artikels en boeke dien.

Nou lees ’n mens pres. Cyril Rama­phosa het onlangs voor ’n groep wynboere op Stellenbosch gesê hy wil nie hê jong, kundige wit Suid-Afrikaners moet padgee nie. Die land het hulle nodig.

Mooi woorde. Woorde waarmee enig­iemand hom of haar moet kan vereenselwig. Maar, soos die ervaring van my Pretoriase vriend se seun illustreer, volkome hol en sonder inhoud.

Wat help dit jy vra jong wit Suid-Afrikaners om nie te emigreer nie, maar jy maak dit terselfdertyd onaantreklik vir hulle om te bly?

Wat help dit jy vra jong wit Suid-Afrikaners om nie te emigreer nie, maar jy maak dit terselfdertyd onaantreklik vir hulle om te bly?

Die ANC se rigiede rassekwota­benadering, ongeag wat die party sê, kom neer op rassediskriminasie – om­gekeerde apartheid. Dit maak van die party se veelgeroemde verbintenis tot nierassigheid ’n wrange grap.

Ironies genoeg, in sy tyd van ballingskap het die ANC se nierassigheid nogal betekenisvolle inhoud gehad.

Ook deur die invloed van wit en In­diër-kommuniste in leiersposisies het die ANC hom deurgaans sterk verset teen pogings van sy swart nasionalistiese vleuel om swart mense bo ander rasse te bevoordeel.

Dit was altyd die twee gesigte van die ANC: ’n nierassige breë kerk, en ’n Afrika-nasionalistiese beweging.

In die tyd van Nelson Mandela se presidentskap het die nierassige, breëkerkbenadering die oorhand gehad; ná Thabo Mbeki se bewindsoorname het die Afrika-nasionaliste die tamboer begin slaan.

Ramaphosa kom self uit die nierassige benadering. Dis trouens bekend dat hy Mandela se eerste keuse was om hom (Mandela) op te volg, maar die gewikste Mbeki het hulle uitoorlê.

Dit lyk of Ramaphosa se woorde oor jong wit mense opreg kan wees. Maar hy is nie in beheer van sy party nie, en ’n klipharde magstryd lê ná die verkiesing vir hom voor om sy opponente onder te sit.

Indien – let wel, indién – hy die magstryd wen, sal sy opponente steeds sterk genoeg wees dat hy af en toe ’n stuk vleis na hulle sal moet gooi om hulle tevrede te hou. Die kans dat die rigiede kwotastelsel beduidend verswak word, lyk dus nie baie groot nie.

Ek is bevrees my Pretoriase vriend se seun is op pad. Sy talente is vir ons land verlore – en saam met hom dié van tienduisende ander.

Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Talent  |  Jeug  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.