Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só bly studente net verder agter
Alida Kok

Sedert 2016 neem studente by openbare universiteite aan die begin van die akademiese jaar aan protesoptogte deel, met die gevolg dat registrasie nie volgens plan kan verloop nie, akademiese aktiwiteite uitgestel word, klasse nie kan begin nie en kampusse gesluit word.

Die protes teen finansiële uitsluiting gaan vanjaar, soos in die laaste paar jaar, weer gepaard met vandalisme, geweld en dreigemente om kampusse met geweld te sluit. Studente eis onder meer dat hul historiese studieskuld van sowat R14 miljard afgeskryf word sodat hulle kan registreer om met hul studie voort te gaan. Dit sluit die registrasie in van studente wat nie presteer nie. Hierdie en ander eise word met geweld en dreigemente gestaaf in die hoop dat die regering en universiteite gedwing word om gehoor daaraan te gee.

Ná die paradigmaskuiwe wat veral sedert 2020 weens globale inperkings plaasgevind het – ons bevind onsself in ’n wêreld wat drasties verander het en is steeds midde-in die stroomversnellings van ’n nuwe wêreldorde wat vorm kry – is studente se eise vanjaar pynlik buite voeling met die nuwe politieke, maatskaplike en ekonomiese werklikhede van vanjaar en ten minste die volgende dekade.

’n Mens verkry toegang tot omtrent al die geleenthede in die “Nuwe Wêreld” deur jou selfoon en met data.

Hul eise het vasgeval in ’n uitgedateerde linkse retoriek en ’n klem op identiteitspolitiek, wat die staat en die regering verantwoordelik hou vir finansiële insluiting en toegang tot hulpbronne en graag die private sektor die skuld gee vir volgehoue uitsluiting. Deur die lens het studente nie die vindingrykheid om die nuwe geleenthede vir vooruitgang in ons “Nuwe Wêreld” raak te sien en aan te gryp nie.

Terwyl studente in Suid-Afrika kla oor “strukturele uitsluiting” het jong Amerikaanse Reddit-gebruikers in Januarie uitsluiting in die Amerikaanse finansiële stelsel aangespreek en Wall Street verstom deur GameStop-aandele doelbewus gesamentlik aan te koop om groot, gevestigde verskansingsfondse in Amerika ’n pak slae te gee.

Terwyl dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, dit duidelik stel dat daar nie geld vir gratis tersiêre onderrig beskikbaar is nie (en terwyl ons weet dat die staat se beursie onder geweldige druk is, ook weens korrupsie en die regering se onvermoë om die ekonomie te bestuur), het Nigeriërs die tweede grootste kripto-“peer-to-peer”-ekonomie in Nigerië geskep om die uitwerking van ’n wanfunksionele ekonomie en waardelose nasionale geldeenheid te omseil.

Xenniërs, millenniërs en Generasie Z is wêreldwyd besig om ’n oorgesentraliseerde internasionale finansiële stelsel geleidelik te desentraliseer deur met private geldeenhede (of kripto) te spekuleer of self in Bitcoin te belê. Hulle skep só welvaart vir hul generasies. Terwyl studente plaaslik uit desperaatheid slegs universiteitsopleiding as ’n pad uit armoede sien, weet jong mense elders dat oop aanlyn opvoedingsbronne, aanlyn opleiding, entrepreneurskap of opleiding in ambagte in sekere opsigte meer belofte vir vooruitgang inhou.

’n Mens verkry toegang tot omtrent al die geleenthede in die “Nuwe Wêreld” deur jou selfoon en met data. Selfs in armoede het ’n mens vandag toegang, hoewel dit beperk mag wees, tot ’n selfoon en die internet.

Die skande van die mislukkende onderwysstelsel in Suid-Afrika is dat jong mense nie geleer word om geleenthede buite die bloudruk van die staat raak te sien en aan te gryp nie. Dis een van die gevolge van ’n regering wat daarop aandring om die skoolstelsel op ’n oorgesentraliseerde wyse te bestuur. Dit is tragies om te sien hoe studente en jong Suid-Afrikaners nou nog meer as vantevore agtergelaat word.

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Blade Nzimande  |  Alida Kok  |  Leerders  |  Opleiding  |  Universiteite  |  Studente  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.