Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só bly vroue tweederangse mense

Die vergoedingsgaping tussen mans en vroue speel ’n beduidende rol in die handhawing van vroue se posisie as tweederangse mense, skryf Christi van der Westhuizen.

Anders as met die meeste ander openbare vakansiedae, krap Vrouedag sommige mense regtig om.

Hier en daar kla vroue ook, wat natuurlik is omdat saamspeel met die patriargale stelsel ook vir sommige vroue voordele inhou. Weliswaar beperkte voordele wat veral ouer vroue geniet, maar darem.

Die anti-Vrouedag-ontstokenes staan teenoor sommige linkses wat weer meen die dag is waardeloos, want die onderdrukking van vroue duur voort. Vanuit dié oogpunt, klaarblyklik, kan ’n land net ’n Vrouedag hê wanneer geslagsgelykheid bewerkstellig is. Hulle mis uiteraard die punt.

Die ontsteltenis van die regses gee ’n leidraad oor waarom daar ’n Vrouedag is. Deur dié dag opsy te sit, wys Suid-Afrika nasionale erns oor die doelwit van gelykheid tussen vroue en mans. Behalwe vir bogenoemde gepolitiseerde groepies, wys die uitbreiding van Vrouedag na Vrouemaand hoe die gedagte die breë publiek se verbeelding aangryp.

Die bewusmaking oor geslagsongelykheid het daartoe gelei dat meer hulpbronne deur private – en veral regeringsinstansies bestee word om dié ongeregtigheid aan te pak.

’n Duidelike boodskap in ’n betoging verlede jaar in Los Angeles. Foto: Getty Images
Tog hoef ’n mens jou nie as ’n feminis te identifiseer om te besef dat mans se geweld teen vroue en meisies, insluitend seksuele geweld, onaanvaarbaar is nie.

Die landwye betogings teen geslagsgeweld die afgelope jare werp politieke vrugte af, soos die nuwe Wetsontwerp op Ondersteuningsdienste vir Slagoffers en die sogenaamde “command centre” teen geslagsgeweld waar slagoffers om hulp kan aanklop.

Die fokus van die ingrypings is meestal op geslagsgeweld, ook gegewe die opvlamming van die probleem gedurende die Covid-19-inperking.

In vergelyking kan die vergoedingsgaping tussen vroue en mans in die private sektor as ’n minder belangrike “middelklas-probleem” voorkom.

Maar die vergoedingsgaping speel ’n beduidende rol in die handhawing van vroue se posisie as tweederangse mense. In die eerste plek werk dit tans as ’n teenvoeter vir die professionele vordering wat vroue sedert die 1990’s gemaak het.

Suid-Afrikaanse vroue het die veranderde bestel gebruik om die ekonomie tot op die hoogste vlak te betree. Die huidige salarisgapings van tot 45% by groot maatskappye tussen mans en vroue in dié land, luidens die jongste PriceWaterhouseCoopers-verslag, is die teenreaksie.

Deur vroue minder as mans te betaal buite die huis, al verrig hulle dieselfde werk, word vroue gepenaliseer daarvoor dat hulle geld en openbare status “wegneem” van mans, wat as laasgenoemde se geboortereg beskou word. Die penalisering word gelegitimeer met die opvatting dat ’n vrou nie eintlik buite die huis behoort te werk nie.

Hierdie gedagte was onderliggend aan die oorspronklike kapitalistiese arbeidsverdeling twee eeue gelede. Mans was werkers en vroue was binne die instelling van die gesin vir die reproduksie van die werkmag verantwoordelik.

Dit gaan oor die bemagtiging van vroue

Die aandrang op gelyke betaling vir vroue is nie nuut nie, soos dié foto van ’n betoging in 1969 op Trafalgarplein in Londen getuig. Foto: Getty Images

Die devaluering van vroue se werk word voorts gelegitimeer met ’n dieperliggende opvatting wat selfs ouer as die oorspronklike kapitalistiese verdeling is.

Dit is naamlik die gedagte dat vroue in elk geval nie so bekwaam soos mans kan wees nie, want hulle besit nie dieselfde kognitiewe vermoë nie. Dit is die vooroordeel agter die feit dat vroue tans slegs 6% uitmaak van hoof- uitvoerende beamptes van maatskappye op die Johannesburgse Effektebeurs, soos PriceWaterhouseCoopers bevind het.

Vroue word uitgebeeld as dat hulle nie in staat is tot strategiese denke nie omdat hulle emosioneel en dus “irrasioneel” is. Omdat hulle die lewe kan skenk, is hulle “meer onderhewig aan die liggaamlike, veral aan hul hormonale siklusse”.

Met dié wanvoorstellings word ’n soort emosionele arbeidsverdeling geskep.

Die uitbreiding van Vrouedag na Vrouemaand as gevolg van die verskillende aksies en veldtogte – vanaf mikro- tot makrovlak – dui op ’n werklike behoefte om veranderinge teweeg te bring.

Dié sikliese argument bring ons terug by die aandrang dat vroue eintlik binne die huis eerder as in die wêreld daarbuite moet wees: Die vermoë om die lewe te skenk en hul “emosionele geaardhede” maak vroue mos vir die versorging van manlike eggenote, kinders, bejaardes en hulpbehoewendes gepas.

Maar uiteraard word versorgingswerk binne die gesin nie besoldig nie. Dit word nie eens as werk beskou nie – weer eens ’n bevestiging van die devaluering van vroue se werk.

Daarom dat soveel vroue wat deesdae in die arbeidsmark is, elke dag ’n tweede skof moet insit wanneer hulle by die huis kom. Gedurende die inperking staan hierdie tweede skof veral uit omdat mans ook by die huis is, maar nie onderhewig is aan die verwagting om onbesoldigde versorgingswerk te verrig nie.

Vrouedag en -maand bied die geleentheid vir ’n bestekopname oor die stand van geslagsmagsverhoudinge, of dit nou aan die syfers vir geslagsgeweld of aan die verteenwoordiging van vroue op die hoër vlakke van die ekonomie gemeet word.

Die uitbreiding van Vrouedag na Vrouemaand as gevolg van die verskillende aksies en veldtogte – vanaf mikro- tot makrovlak – dui op ’n werklike behoefte om veranderinge teweeg te bring.

Uiteraard interpreteer mense Vrouedag na gelang van hul posisie en konteks. Sommige herdenkings gaan gepaard met boodskappe wat nie as feministies bestempel kan word nie.

Tog hoef ’n mens jou nie as ’n feminis te identifiseer om te besef dat mans se geweld teen vroue en meisies, insluitend seksuele geweld, onaanvaarbaar is nie.

Christi van der Westhuizen

Ook hoef ’n mens nie ’n feminis te wees om te besef dat die armoedelas, wat veral swart vroue dra, onregverdig is en moet verander nie. Dit is ’n positiewe ontwikkeling van aansienlike omvang dat hierdie land, met hierdie hoë vlakke van geslagsgeweld, minstens in die openbare diskoers iets bereik het wat naby aan ’n nasionale konsensus oor die nodigheid van die bemagtiging van vroue kom.

Op daardie noot, ja, dit gaan hier oor die bemagtiging van vroue. Sommige anti-Vrouedag-antagoniste vra “wat dan van mans, waarom kan hulle nie ook bemagtig word nie?” Die ooglopende teenvraag is: Hoe kan ’n reeds bemagtigde groep verder bemagtig word?

Dis nie te sê dat mans nie deel van die gesprek moet wees nie. Terwyl patriargie alle mans relatief tot vroue bemagtig, benadeel dit mans wel as dit kom by die soort verwagtinge wat patriargale vorme van manlikheid aan hulle stel.

Met daardie mag is daar ’n prys om te betaal. Die aanhoudende druk om te kompeteer, om die broodwinner te wees, hiperseksueel te wees, en om emosies af te sny deur byvoorbeeld ’n afwesige pa te wees, skend die menslikheid van mans.

Deur met ’n dag en nou ook ’n maand die saak van die gelyke beregtiging en uiteindelik dan ook die vermensliking van vroue te bevorder, word die verdere vermensliking van mans ook moontlik gemaak.

Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Christi Van Der Westhuizen  |  Vroue  |  Vrouemaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.