Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So dit is dan Pukke en Maties vir Afrikaans
Barnard Beukman

En daar gaan ruk dr. Theuns Eloff toe weer die debat oor Afrikaans op kampusse wawyd oop.

Dit is nie duidelik wat die motief was van sy “voorspelling” dat Afrikaans nog hoogstens agt jaar by universiteite gaan bestaan as onderrigtaal nie.

Duidelik is sy doemprofeet­spelery gegrond op wat hy glo ’n realistiese ontleding is.

Hy het die Noordwes-Universiteit (NWU) se motief om nog onderrig in Afrikaans aan te bied bloot toegeskryf aan ’n besef dat hulle die klasgelde van Afrikaanses nodig het om bankrotskap af te weer.

Oor die Universiteit van Stellenbosch (US) meen hy die transformasie daar is weg van Afrikaans en Afrikaanse studente word deur dosente geviktimiseer.

In 2001 het ’n ondersoek onder leiding van oorlede prof. Jakes Gerwel voorgestel die land behou twee Afrikaanse universiteite – een in die noorde en een in die suide. Dit sal interessant wees om alle huidige en destydse Afrikaanse belanghebbendes vandag om een tafel te kry en te hoor of dit die regte keuse was om dit in vlamme af te skiet – grootliks weens interne twiste oor watter universiteite dit dan moet wees en omdat geglo is dit is meer volhoubaar. In die wandelgange is destyds genoem dat dit Maties en Pukke moet wees en is daar glo veral deur spelers uit die Tukkie- en Kovsie-kampe baklei om die model te sloop.

Daar is geen waarborg dat twee sulke kampusse die huidige drukgang van verandering sou kon weerstaan nie. Maar volgens sommige kon dit minstens ’n beter basis vir Afrikaans gebied het.

Die afgelope week is dit weer die Pukke en Maties wat volhou dat ondanks Eloff se skeptisisme, hul modelle steeds plek het vir Afrikaans.

Sommige wys daarop dat Afrikaanse studente ook self kies deur toenemend in Engels klasse te loop.

Prof. Dan Kgwadi, NWU se visekanselier, sê in reaksie op Eloff sy universiteit het ’n meertalige strategie wat Afrikaans insluit.

Op bl. 18 in vandag se Beeld hou prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van US, ook vol Afrikaans is nog springlewendig op sy kampus.

Hy poog ’n pleidooi vir transformasie met uitnemendheid – volgens hom die hoofdoel vir enige internasionale relevansie.

Sommige wys daarop dat Afrikaanse studente ook self kies deur toenemend in Engels klasse te loop. De Villiers bring ’n nuwe syfer tafel toe: US se skenkings beloop R338 miljoen – 53% meer as die vorige jaar.

Gaan Afrikaanssprekendes weer die deur op die twee kampusse toeklap, of binne die werklikheid daarvan konsolideer?

Of kan mens die twee visekanseliers sover vertrou as wat hulle gegooi kan word oor die toekoms van Afrikaans?

Of is Solidariteit se plan B met Akademia ál toekoms (en volgens sommige ’n benouende isolasie) vir Afrikaans as akademiese taal? Dalk is dié vrae nou die ­nuwe gesprek.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Theuns Eloff  |  Universiteite  |  Taaldebat  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.