
Fred Pheiffer
Die bekroonde digter Nathan Trantraal dig in sy derde bundel, Oolog, oor die Kaapse Vlakte. In Kaaps, sy moedertaal, ’n taal sonder doekies omdraai. Want die lewe dáár is hard. As taalkundige interesseer Oolog se Kaaps my. Hoe varieer dit ten opsigte van Standaardafrikaans? Die gedig “Sing it wee, Boy” roer juis die onderskeid tussen Kaaps en Standaardafrikaans aan. Die eerste twee strofes:
Die kêkbroes het gehou van getyg / van hoe die Heilige Gees hulle spraak / kom aanraakit, hulle Kaaps in / Standaardafrikaans omskep et / Nourie dywel het sieke Boy se spraak / kom anraak wan hy het gegan vanaf / mooi Afrikaans praat na praat in / rympies en geheimpies
As jy hom kry, sit hy inne hoek / innie jaat met sy blikguitar / en sing sy eie compositions / Sy favourite is / “Dis die A en die B en die C” oppe sad beat
Hier kry mens vokaalverhoging (kerk > kêk, seker > sieke), vokaalontronding (getuig > getyg, aanraak het > aanraakit), vokaalverkorting (aanraak > anraak) en konsonantassimilasie (broers > broes, nou die > nourie, want hy > wan hy, in die > innie, sing dit > sing it).
Faced mette view totte high / isse tikkop se antwood tot elke probleem, / “Daa kannie fout issie.
Die gebruik van Engelse woorde staan uit: jaat (< yard), guitar, compositions, favourite, sad beat.
Daarteenoor kom outentieke Kaapse woorde nogal min voor. Ek het drie raakgesien:
Sy is jou sword in the stone / jou 1-UP in Super Mario as jy mang / met jou laaste mannetjie (“gaudy girls en Craven A”)
Calvin het in sy kame gegan en vie groot bokse onne / die kooi uitgegrawe (“Calvin en Proust”)
Rowlene is stêkgevriet / Tot it tyd kom om stêk te wies (“I’ve seen the future and it’s hopeless”).
Maar fonologiese en leksikale variasie lê betreklik bolangs. Varieer Kaaps se sintaksis ten opsigte van Standaardafrikaans s’n? Opmerklik, in Oolog altans, is die gebruik van wie as betreklike voornaamwoord in plaas van wat:
Toe sy oë yteindelik stil wôd / val it op Yaseen wie op sy hurke sit (“Emosies”)
Die voorsetsel saam word sonder met gebruik:
Gilly sit saam sy pa oppie sandsypaadjie (“Planne vi Pollsmoor”).
Daar was een voorbeeld van ’n modaal nie deur ’n infinitief gevolg nie: Faced mette view totte high / isse tikkop se antwood tot elke probleem, / “Daa kannie fout issie.” (“Daasie foutie”).
Andersins bly Kaaps getrou aan sy Germaanse wortels. Bysinwoordvolgorde bly SOV (subjek-objek-verbum), en die partikel van ’n skeibare werkwoord merk steeds die sinseindeposisie:
Toerie ys ees gebriek is, hal dai grapjas / een vannie borrels stêkwyn yt (“Die Castle offie Black?”).
Kaaps se uitspraak is veel losser as Standaardafrikaans s’n, en die sterk Engelse invloed is opmerklik. Is dit nie dalk hoe Afrikaans sou geklink het sonder die standaardborstrok nie?
- Pheiffer is mederedakteur van die WAT.