Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Só help ons mekaar’
Studente wat vandeesweek op die nuwe kampus van Sol-Tech in Centurion aangemeld het. Die kampus is binne ’n jaar teen ’n koste van R300 miljoen gebou.

Studente het vandeesweek op Sol-Tech se splinternuwe kampus aangemeld. Flip Buys sê hoekom die kampus gebou en wat die toekomsplanne is.

Die nuwe kampus vir die Solidariteit Beweging se bestaande beroepskollege, Sol-Tech, het feitlik oornag verrys.

Die kampus is binne ’n jaar op tyd en onder begroting gebou. Die koste vir die oprigting van die kampus, wat op die ou end ook die oprigting van ’n naasliggende 400 bed-koshuis insluit, gaan by voltooiing van die totale projek R300 miljoen beloop.

Dié bedrag word grootliks deur die gemeenskap gefinansier. Duisende mense dra maandeliks klein bedraggies by, meestal as deel van hul Solidariteit-ledegeld. Die kol­lege ontvang geen staatsubsidie of bydraes van groot maatskappye nie.

Sol-Tech is ’n Afrikaanse beroepskollege wat opleiding in al die belangrikste ambagsrigtings aanbied. Die aanbod gaan verder uitgebrei word om ook ander beroepe in te sluit. Maar wat was die beweegredes vir die oprigting van die kampus?

Ons wil

Die Solidariteit Beweging het Sol-Tech gebou omdat ons graag aan jong mense die geleentheid wil bied om wêreldklas-beroepsopleiding in Afrikaans te ontvang. Ons wil hê hulle moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle kan tuisvoel.

’n Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermynvolhoubaarheid te verseker. ’n Kultuurgemeenskap het instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarom het ’n kollege ’n opleidings- én ’n opvoedingsrol.

Terselfdertyd berei Sol-Tech sy studente op ’n meertalige werkomgewing voor. Dit is ’n bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis in ander tale te kan toepas.

Ons mag

Die Grondwet bepaal in art. 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mág bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Ingevolge art. 6 van die Grondwet is Afrikaans ’n amptelike landstaal. Sol-Tech is al jare lank geregistreer en geakkrediteer, bied gehalteopleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie.

Die kollege is oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer. Afrikaanse oorbruggingskursusse vir sprekers van ander tale begin in April vanjaar.

In 2019 het die konstitusionele hof, by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng, in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak ’n beroep op die gemeenskap gedoen om self private onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Mogoeng het selfs ’n beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om private moedertaalgegronde opleidingsinstellings te finansier.

Mogoeng se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging doen.

Ons kan

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar 1 800 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkwinkels en indiensopleiding by maatskappye behels.

Die eerste R100 miljoen vir die oprigting­ van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom. ’n Verdere deel van die ledebydrae word in ’n opleidingsfonds gestort om rentevrye studielenings aan studente beskikbaar te stel.

Flip Buys
Flip Buys

Tegniese opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van sy kursusse is Sol-Tech se grootste uitdaging. Die opleidingsfonds word deur Solidariteit Helpende Hand se Studiefonds-sentrum bestuur. Hierdie sentrum het al R245 miljoen aan studiehulp vir 6 300 studente in alle studierigtings belê. Vanjaar word ’n rekordbedrag van bykans R50 miljoen tot die beskikking van verdienstelike studente gestel. Die terugbetalingskoers van die studielenings is bykans 100%.

Die feit dat Sol-Tech-studente ’n 96%-slaagsyfer in die nasionale vaktoets behaal, spreek boekdele. Die indiensnemingskoers van Sol-Tech-studente getuig ook van die gehalte van die opleiding wat aangebied word: 57% van studente het reeds werk wanneer hulle afgestudeer is en die res word binne ses maande nadat hulle gekwalifiseer het in diens geneem. Meer as 20% begin hul eie ondernemings.

Ons moet

Solidariteit moes eenvoudig met tegniese opleiding begin sodat Afrikaanse jong mense toegang tot tegniese opleiding kon kry. Tegniese opleiding van gehalte is baie skaars en baie duur in Suid-Afrika. Ambagsopleiding is die afgelope twee dekades erg afgeskeep en die land lei nou minder ambagslui op as in die 1980’s. Die staat en groot maatskappye het hul vakopleiding afgeskaal en talle kolleges is gesluit of bied swak opleiding aan. Dit het ’n nasionale tekort aan goeie ambagslui tot gevolg gehad.

Tweedens sluit rassekwotas wat vir ambagsopleiding en intreeposvlakke die meeste Afrikaanse jong mense uit. Die model waarvolgens vakleerlinge ’n werk, opleiding, verblyf en ’n toelaag kry terwyl hulle hul ambagsopleiding ondergaan, is deesdae selde vir wit studente toeganklik. Die Sol-Tech-projek is daarop gemik om studente ín te sluit wat andersins van opleiding en indiensneming uitgesluit word.

Ons gaan

Die Solidariteit Beweging gaan bou aan die kulturele infrastruktuur om saam in Afrika te kan bly. Iemand wat ’n huis bou, probeer nie ander uitsluit of homself afsonder deur die huis te bou nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ’n bepaalde woonbuurt te bly. Sol-Tech is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vennote bou.

Die volgende bouprojek is die oprigting van ’n koshuis vir Sol-Tech. Daarna gaan die nuwe kampus vir ons gemeenskapsuniversiteit, Akademia, in Pretoria ontwikkel word. Akademia bied vanjaar reeds geakkrediteerde universiteitskwalifikasie-opleiding aan bykans 2 000 studente. Hulle kan uit drie studiemodelle kies: landwye nauurse onderrig by 12 studiesentrums, voltydse kontakonderrig op ’n nuwe kampus in Centurion en wêreldwye e-leer. Akademia word nou volstoom in ’n volle universiteit met agt fakulteite uitgebou.

Die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool het ten tyde van die strenger inperking in 2020 gratis aanlyn onderwys in kernvakke aan meer as 120 000 Afrikaanse leerlinge gegee. Die Wolkskool word tot ’n volledige leerbestuurstelsel uitgebrei wat gehalteonderwysondersteuning aan skole en duisende leerlinge bied. Solidariteit het ’n spesiale Boufonds gestig waartoe die publiek kan bydra om die enorme onderwys- en opleidingsinfrastruktuur te kan finansier.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoëronderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná gesprekke, pleidooie, versoeke en hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self privaat te begin doen.

Kom help bou

Tegniese opleiding is dubbel so duur as teoretiese opleiding. Dit kos ’n kollege sowat R150 000 om ’n ambagspersoon behoorlik op te lei en dan moet verblyfkoste nog bykom.

Daarom doen ons ’n beroep op die Afrikaanse publiek om studente te help wat hulp met hul studiekoste benodig. Opleiding is ’n belegging in die toekoms en lewer lewenslank ’n opbrengs. Mense wat wil help om ’n deel van ’n student se studiekoste te borg, kan Sol-Tech of Helpende Hand se Studiefonds-sentrum kontak.

Helpmekaar

Sol-Tech is ’n helpmekaarprojek en is daar vir die Afrikaanse gemeenskap. Ons sal graag ander taalgemeenskappe wat ons liefde vir moedertaalonderrig deel en die waarde daarvan besef, bystaan as hulle dieselfde wil doen.

Afrikaanse jong mense word vandag die skuld gegee vir dinge wat gebeur het voordat hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hy vandag doen nie.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas- Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Meer oor:  Sol-Tech  |  Studente  |  Kampus  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.