Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só herdefinieer Stellenbosch ou-ou tradisies
31-08-2020 NETWERK24 NUUS Onderhoud met die skrywer, Emile Joubert, oor sy nuwe bundel kortverhale getiteld, So Byna Blou. Foto's geneem by The Book Lounge in Roelandstraat, Kaapstad. Foto: Jaco Marais.

Een van die lesse wat die Universiteit Stellenbosch met gefokusde klarigheid oordra, is dat tradisie nie permanent is nie.

Leergieriges van oor die wêreld heen kan gerus hulself ’n guns doen en – met die nodige inentingsdokumente – in die Eikestad kom aanmeld vir ’n paar rigtingwysers van hoe om die angel van kultuur en gevestigde praktyke uit te pluk. Voor in die koor is die nou reeds drooggedrukte verskynsel van taalversmoring.

Wat tradisioneel ’n Afrikaanse universiteit was, het verander in ’n leer-instelling wat se neerpen en uitvoering van ’n taalbeleid omtrent so helder, duidelik en begrypbaar is soos die losgemaal­reëls in rugby. Rugby is, ná deeglike ondersoek en ondervraging, darem steeds een van Stellenbosch se aanvaarde tradisies, hoewel gesinchroniseerde swem om soortgelyke erkenning meeding.

Wat die taalbeleid wel uitspel is dat, ja, Engels die tradisionele Afrikaans vervang en dat dié feit omhels moet word deur die studentegemeenskap.

In wat die laaste van hul sorgelose jare hoort te wees, is studente gemaan om dan ook by hul koshuise nie links en regs Afrikaans te praat nie. Want netnou word ’n medestudent, wat minder Afrikaans magtig is, van jou en jou pel se private gesprek uitgesluit wat neerkom op die verontregting van genoemde meeluisteraar.

Hierdie nuwe ontwikkeling in die Stellenbosse koshuistaal sorg glo vir ’n helse verwarring en die omkeer van verdere tradisies.

Hierdie nuwe ontwikkeling in die Stellenbosse koshuistaal sorg glo vir ’n helse verwarring en die omkeer van verdere tradisies. Soos die een van om verby die statige ou manskoshuis Wilgenhof te stap of te ry en “bekfluitjie!” te skreeu.

Inwoners van Wilgenhof vind hierdie woord nie amusant nie, aangesien dit verwys na die koshuis se boustyl. Gevolglik is die skuldige uittarters deur Wilgenhof-manne gejaag, gevang en na binne die koshuis gesleep om gestraf te word. (Synde iemand wat altyd betyds weggehol het, het ek nooit uitgevind wat die straf behels nie, maar storte en naaktheid is glo betrokke.)

Met die universiteit se huidige taalreëls is hierdie tradisie ook daarmee heen, want hoe gemaak as jy nou in die nuwe Engelse bedeling daardie gewraakte spot-woord moet gil om die nodige reaksie van die Wilgenhoffers te ontlok?

Mouth-organ doen dit net nie, en harmonica klink wraggies na iets te kalm, bedees en vroulik om as ’n ware belediging beskou te word.

Daar is egter ’n veel ouer kultuur – 6 000 jaar ouer – wat ook as onwenslik beskou word deur die universiteit se ideologie van kontrole en oorheersing, en dit is die een van wyn.

Die enigste universiteit in Afrika wat wynmakers en wingerdboukundiges oplei het ook gehelp om van Stellenbosch een van die wêreld se voorste wynadresse te maak. Tog, sedert verlede jaar mag geen wyn op enige deel van die universiteitskampus gewaardeer, genuttig en gedrink word nie. Geen mededeelsame, gesamentlike proesessies van cabernet sauvignon-wyn van die Helderberg-streek nie. Ook nie ’n glasie sielsverheffende chardonnay om die nuttiging van ’n Matie Burger in die Neelsie-sentrum te vergesel nie.

Daar is maar net een taal vir droëbek.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Us  |  Taalbeleid  |  Wyn  |  Universiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.