Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só is die lewe weinig meer as ’n verbleikblom
Jana Luther

Maaltyd, werktyd, slaaptyd. Skermtyd, leestyd, dinktyd, speeltyd. Kleintyd, jeugtyd, beseringstyd, leeftyd. “Die dag stap luiters verby soos ’n kat, stert omhoog,” dig Wilma Stockenström.

Meer as 3 000 jaar gelede het die Egiptenare die eerste horlosie gebou. ’n Son(ne)wyser. Een so ’n wyser het die vorm van die letter “T” gehad. Dit het die helfte van die dag, wanneer die son skyn, die tyd tussen een nag en die volgende, in 12 ewe groot dele verdeel.

In die nag was daar die sterre, wat nes die son bedags, vanweë die wentelende aarde, deur die lug “beweeg”.

Deur 12 sterre te kies en hulle te volg, kon die Egiptenare snags, deur dié sterre in die naghemel dop te hou, sien hoe laat dit was.

Twaalf uur lig. Twaalf uur duisternis.

Twaalf. Nie, sê nou maar, vyf of tien, ’n tiendelige of desimale stelsel, waarby ’n mens op jou vingers en tone sou kon tel nie. In elke tydperk van 24 uur, een etmaal, waarin die aarde een maal om sy as draai, is daar 1 440 minute; in elke minuut 60 sekondes.

Dit is die Prediker wat ons wou leer daar is ’n tyd vir alles . . . Vandag weet ons daar is tyd vir niks.

Dié verdeling van tyd het die ou Egiptenare van die nog ouer Babiloniërs oorgeneem. In hulle koninkryk in die ou Mesopotamië het die Babiloniërs so vroeg as die 18de, 19de eeu voor die huidige jaartelling vir wiskunde en sterrekunde reeds ’n seksagesimale stelsel gebruik – ’n stelsel gegrond op die getal 60, wat hulle op hulle beurt afgekyk het by die ou Sumeriërs.

’n Seksagesimale tydsverdeling met 12 (twaalftallige, duodesimale) onderafdelings vir dag en nag, 60 vir ure en minute, is nuttig. Terwyl tien net deur homself, vyf en twee gedeel kan word, is 12 deelbaar deur homself, twee, drie, vier en ses. As 5 maal 12 kan 60 deur altesame 12 getalle – meer as enige getal kleiner as hy – gedeel word.

“Dit is die Prediker wat ons wou leer daar is ’n tyd vir alles . . . Vandag weet ons daar is tyd vir niks, alles string aaneen: Met geboorte begin ons al sterf en sterwend gee ons geboorte . . . wat ons verloor, is wat ons begeer en wat ons vind, is wat vergete is en wat vergeet word, is wat ons liefhet . . . só is die lewe weinig meer as ’n verbleikblom,” dig Louis Esterhuizen. “Kyk, U het my dae ’n paar handbreedtes gemaak,” die Psalmdigter.

Kan ons, in die trant van Stockenström se minister, dalk dié tyd gebruik vir maatreëls tref om toekomstige tyd omsigtiger te hanteer? Daarteen waak dat ure in ’n japtrap, oogwink, flirts, ki(r)ts, selfs grendeltyd as ommesientjietyd verbyflits; dae dalk eerder vul met rukkies en tydjies, oomblikke, momente, genoeg asemteue, en pouses vir onthou?

  • Want terwyl Breyten se bome groen bly, en die sterre wit, is elke aandagtig gevulde oomblik al wat ons het. Ook in dié tydskarnier, in dié (tyd)gewrig.
Meer oor:  Jana Luther  |  Herinneringe  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.